Monday, March 22, 2010

Kreefroete Dag 3 van stap: Doornbaai na Papendorp via Strandfontein



























Ons gids vir die dag is Peter. Hy is 'n ernstige stormers ondersteuner en het 'n vlag op sy huis se dak. Hy ken sy dorp baie goed en kan ons alles vertel. Die kelp fabriekie is vir ons baie interessant. Die kuslyn van Doornbaai tot by Strandfontein is baie rotsagtige en ons stap bo-op die kranse. Ons kry twee hengelaars wat pragtige kinders van die Here is en hulle hengel om naby hul Skepper te wees. Dis seker maar hoekom ek stap ook.

Van Doornbaai na Strandfontein is 7,5 km en vandaar na Papendorp is 6,5km. Ons drink tee by Strandfontein se kafee en lees die week se ou koerante. Daar groet ons vir Peter en ontmoet vir Charmaine wat ons gids is na Papendorp. Die kuslyn van Strandfontein na Papendorp is die mooiste stuk kuslyn wat ek nog gesien het. Die laaste keer wat ek hier gestap het was saam met Herman, Patrick, Ina, Pieter, Magdaleen en Boetie. Toe het ons ons verluister aan die klank van die see wat oor die plate klippe spoel en terugtrek see toe. Vandag doen ons dit weer. Dit klink soos 'n orrel wat die mooiste musiek maak.


Papendorp se naam was eers Viswater en dis hier waar die Olifantsrivier in die see inloop. Hier het die plaaslike mense (net 45 gesinne woon hier) 'n sluis gemaak en in die winter laat hulle die see inloop oor die pan en maak dan die sluis toe dat die somer die pan opdroog en baie sout agterlaat. Hulle oes die sout. Dis pragtige skoon see sout wat hulle gebruik en verkoop. Ons stap oor die soutpan en bly in 'n gastehuisie vir die nag. Daar is 'n pragtige dek wat uitkyk oor die vlei en ook 'n voelskuiling. Hier is baie flaminke en ander voels. Ons is al 19:20 in die bed.

No comments:

Post a Comment