Agtergrond:
Ons vier (Shelley van der Nest, Pat Raab, Ina Redelinghuys en ek) het ontmoet toe ons Everest Base Camp toe is in April/Mei 2009. Toe nooi Pat ons om reunie te hou en ons besluit om die kreefroete langs die weskus van SA aan te durf. Intussen het ons besluit dit behoort 'n jaarlikse instelling te wees en beplan ons reeds aan volgende jaar se trip.
Dag 1: Dis met groot verwagting dat ek eers vir Pat en toe vir Shelley op 13 Maart 2010 op Kaapstad Internasionaal ontmoet. Ons gesels soos ou vriende en die elf maande tussen Everest Base Camp en vandag voel soos 'n week. Ons ry gesels gesels tot by Blouberg, eet middagete by Primi Piati en kyk oor die see. Ons is oppad Langebaan toe om vir Ina op te tel by haar niggie Wiena en haar familie. Toe is ons voltallig en maak ons dit vir Elandsbaai waar ons die eerste nag in die Vleihuisie slaap en heerlik onthaal is deur Marie, Louise en Daleen. Ons voel dadelik tuis met hul egte weskus gasvryheid. Elandsbaai is pragtig, maar ook met baie armoede. Die mense is dierbaar en baie gasvry en ons is gul ontvang en onthaal. Saam met Daleen gaan kyk ons die boesmantekeninge in die grot ver bo die see. Ons stop by die hotel en leen die enigste DSTV kanaal op die dorpie om die bulle teen die highlanders te kyk. Die bulle wen ver en Shelley is gelukkig! Ek het my sit en verkyk aan die mengelmoes van mense wat saam die rugby gekyk het. Baie interessant. Ons koop 8 krewe by Daleen se buurman vir net R100 en Mari maak dit gaar vir ons saam met heerlike gebakte snoek en slaaie. Ons is vroeg in die bed nadat ek die gasvrouens en hul helpers by hul huise afgelaai het. Dis grafstil langs die vlei en ons slaap heerlik.
Dag 2:
Ons het die eerste dag van stap van hieraf (Elandsbaai) vertrek en moes 18 km langs die see afle tot by Steenboksfontein. Ons los my motor by die polisiestasie op Elandsbaai regoor die hotel. Die weer was baie goed en ons kon heerlik stap. Die dik sand met hoogwater was 'n uitdaging en daar was nerens 'n skadu kolletjie in sig om middagete by te hou nie. Ons kry 'n ou yskas op die strand en draai hom so dat ons bietjie skaduwee het. Regte survivors!
Pat tel ons aantal tree met haar medisiefonds masjientjie en ons vorder omtrent 3,5 km per uur op die sand. Aanvanklik stap ons baie maklik op die harde sand onder die hoogwater merk, maar hoe later hoe moeiliker. Later stap ons baie moeilik op die sagte sand ver bo die hoogwatermerk. Ons verstom ons oor hoe goed ons 4 oor die weg kom. Ons ken mekaar eintlik swak en is nie vriende in die normale verloop van die lewe nie. Ons is ook uiteenlopende persoonlikhede en ouderdomme wat wissel tussen 40 en 60, maar ons kan heerlik saam ekspidisies aanpak.
Net toe ons wil moedeloos raak van die dik sand sien ons die plaashuis waar ons vanaand oorbly by Cornelia Burger op Steenboksfontein. Sy verras ons met koffie/tee en hertzogkoekies by 'b gedekte tafeltjie onder die bome. Ons stort, rus en maak gereed om half sewe aandete te geniet by die plaaskombuis op dieselfde plaas. Die restaurant lyk soos 'n museum. Ons kry skaapvleispastei met anys soetpatats en slaaie. Koeksisters vir nagereg en heerlike koffie/tee. Wat 'n fees?
No comments:
Post a Comment