Thursday, August 19, 2010

Strategiese Werksessie: Aquila Safari's 19 en 20 Augustus 2010


'n Historiese oomblik in my loopbaan by Stellenbosch Munisipaliteit. Ek is weer trots om hier te werk! Ons het 'n strategiese sessie met die topbestuur van die Munisipaliteit. Alle politieke partye is teenwoordig en lewer uitstekende insette om die volgende 20 jaar te beplan. Ons het 'n goeie sessie agter die rug vandag. Elke direkteur het 'n aanbieding gemaak oor wat sien ons as die grootste uitdagings tans en wat is ons prioriteite vir die kort, medium en langtermyn. Die raadslede is goed ingelig en lewer goeie bydraes. Ons het ook die makro bespreek en goedgekeur.
Ons is in die konferensiefasiliteit by Aquila Safari naby Touwsrivier. Ons het nog nie kans gehad om die plek te bekyk nie, maar wat ons al gesien het, is pragtig. Olifante en elande het voor die restaurant gewei toe ons middagete geniet het. Hier is baie voels ook.
Ek geniet my werk en sien uit om die nuwe uitdagings te "tackle". Dis 'n plek waar ek lanklaas in my werk was!

Sunday, August 15, 2010

'n Welverdiende wegbreek op 'n wildsplaas





Ek het reeds vroeg in die jaar besluit dat ek hierdie jaar met Vrouedag myself sal bederf en iewers sal gaan vakansie hou saam met van my "favourite" mense. En so was dit ook. Ek en een van my beste pelle, Jo, het die Vrydag en Dinsdag aan weerskante van die langnaweek afgevat en reeds Vrydagoggend vroeg opgevlieg Gauteng toe. Ons het die kans gebruik om met die Gautrain te ry vanaf Oliver Tambo na Sandton en vandaar na Malbaro stasie waar my swaer, Andries, ons gekry het. Ons is na hul huis in Pretoria Noord en het net gewag dat die kinders uit die skool uit kom en toe is ons weg Mphumalanga toe. 'n Vriendin van my, Shelley, en haar man, Lambert, het 'n plaas 35 km noord van Lydenberg. Dit is 'n luiperd navorsingsarea genaamd Rodewalshoek en ons was so geseend om die plek vir die naweek te he. (Dankie Shelley en Lambert!)
Vrydagaand met ons aankoms was daar drie buitelanders. Een van Kanada en twee van Brittanje. Die een van Kanada het ons ore van ons koppe afgepraat die Vrydagaand om die vuur en ons was half gelukkig toe hulle die Saterdagoggend vertrek en ons die hele plaas vir onsself kon he. Ons en Lukas, die Pedi-man wat op die plaas bly. Hy was so gaaf en behulpsaam dat ons kuier onvergeetlik geword het. Ons het voels gekyk (ek sien twee soorte loeries wat ek nog nooit gesien het nie), lang ente gestap, kaart gespeel, vuur gemaak, gebraai, heerlik gekuier, baie geslaap en veral die stort onder die sterre geniet.
Ek het net weer besef dat daar geen plaasvervanger is vir goeie familie en goeie vriende nie. Ek is geseend met beide. Ons het so lekker gekuier dat dit met seer harte was wat ons die pad terug aangedurf het. Daar was 'n ongeluk op die N4 en ons het omtrent 'n uur langer gery as wat ons moes. Die Dinsdag het ek en Jo teruggevlieg en ons naweek afgesluit met heerlike sushi in die Strand.
'n Wegbreek wat ek baie lank sal onthou...

Thursday, August 5, 2010

Vredendal, Kgalagadi en Witsand (Noord Kaap) 24 Julie 2010 - 1 Aug 2010







'n Welverdiende vakansie het begin in Vredendal op Boetie en Magdalene se plaas op Saterdag 24 Julie 2010. Ek en my ousus, Corne, was oppad Kgalagadi toe saam met Kalla en Lean en die kinders, maar is eers Vredendal toe. Pieter en Ina Badenhorst was ook daar want Pieter het die Daniel konferensie kom aanbied namens Moreletta Park NG Gemeente in Pretoria. Die Sondag is ons saam kerk toe na die afsluitingsdiens toe. Omtrent 180 manne het die Daniel konferensie bygewoon en dit was 'n heerlike belewenis om hulle te hoor sing tot eer van die Here. Na kerk ry ons Strandfontein toe want 'n jeug vriendin van Corne is in 1989 oorlede in 'n ongeluk op Strandfontein se strand en Corne was nog nooit daar nie. En daar kry ons wraggies 'n gedenksteen in die rotswand langs die strand ter ere aan Maleni Smit wat op 21 Oktober 1989 daar gesterf het. Voorwaar 'n voltooide sirkel vir Corne.
Ons vertrek die Maandag en slaap die aand by Kalla en Lean op die Smitte se familieplaas. Dis 'n heerlike dag. Ons besoek die waterval by Nieuwoudtville en eet ontbyt op Calvinia. Ek en Lean ry fiets op die plaas. Die volgende oggend ry ons eers Augrabiese waterval toe en daarna na Kgalagadi. Ons spandeer drie wonderlike dae in Kgalagadi en sien pragtige voels en vyf leeus en vyf jagluiperds.
Witsand was net so 'n verrassing! 'n Heerlike natuurreservaat in die Noord-Kaap tussen Groblershoop en Postmansburg. Ons rus heerlik, ry fiets, kyk voels, braai en kuier 'n hond uit 'n bos uit. Dis altyd lekker om te rus sonder selfoon ontvangs en met goeie geselskap. Baie dankie Corne en Kalla en Lean en die seuntjies. Dit was heerlik!