Tuesday, May 16, 2023

Ode aan Colla Swart

 


Gistermiddag kry ek die kort boodskap: Colla is dood.

Dit is haar dogter Maryna wat bel. Albei van ons se stemme sukkel om uit te kom. Amper 93, maar steeds ’n groot skok.

My liefste Tannie Colla. Die res van gisteraand en vandag verkneukel ek my in onthou...  En daar is so baie:

Ek het haar ontmoet in 2013 toe sy al 82 was.  Sy het Munisipaliteit toe gebel en gevra dat ek haar moet kom sien.  Ek het uitgevra waaroor, maar sy wou nie oor die foon praat nie. Face to face is eerliker, het sy altyd gesê.  Ek het voorgestel dat ek haar daardie Vrydag vir tee kry by Tillies.  Tillies is die saamkuierplek op ’n Vrydag by die Ouetehuis.  Sy het dit beleef dog ferm van die hand gewys.  Sy het nie tyd vir tee nie, was die antwoord. Sy wil besigheid praat.  En so het ek haar die volgende dag gaan besoek en gehoor van haar bekommernis oor die ouermense wat nie meer genoeg stap nie omdat Piketberg se bulte te steil is.  Die Munisipaliteit moet bankies opsit op al die kontoere rondom die Ouetehuis en sy sal hulle aan die stap kry.  Ek wou nog verduidelik dat dit reg is, maar ons sal dit eers moet adverteer op al die erfeienaars voor wie se huise die bankies moet staan, toe het sy reeds die plan geteken, die toestemmings verkry en siedaar!  Die bankies is twee weke later geinstalleer.

En so het my vriendskap met Colla begin. Sy wou nooit Tannie wees nie. Ek kom uit ’n ordentlike huis en kon nie vir iemand ’n dekade en meer ouer as my ouers op hul naam sê nie.  Min het al met Colla verskil en gewen. So in haar teenwoordigheid was dit Colla en as ek vir ander van haar vertel, was dit Tannie.

Ons kon heerlik sing... Sy het gehou van ’n uitstappie en avontuur en my soms gebel en gesê dis tyd. Dan ry ons. Ons sit die cd-speler in my motor (ja ek het nog so ’n ding) kliphard en dan sing ons.  Jo Black was ons gunsteling.  “Voel jy die genade”.  Piekenierskloof Lodge se stoep vir ’n whiskey.  Die vonkel in haar oog as sy ’n dubbel bestel en ek ’n single. Citrusdal se koffiewinkel teen die bult, Piket Boberg se mark of sommer net ’n kuierplek in Piketberg. Sy was altyd "game" vir alles.  Tydens ons laaste markdag op die berg wil sy die toilet besoek en ek stap met haar oor baie ongelyke terrein na die eco-toilet van saagsels.  Oppad af stap ek voetjie vir voetjie voor die rooiperd uit (die rooiperd is haar kombinasie stapring en rolstoel wat sy die laaste 5 jaar gebruik).  Op ’n stadium gaan sy staan en uiter kliphard: Oeeee, as my kinders my nou moet sien, sal hulle verenig in gebed...  Ek het maar net gelag en gesê: Colla, jy laat dit klink of ons iewers aan ’n yspiek in die Himalayas hang!

Sy kon ure oor haar jare in Kamieskroon vertel en toe sy as jong meisie gewerk het in Springbok by die Munisipaliteit. Haar baas het op ’n keer vir haar gesê: “Why be difficult, when with a little more effort, you could be impossible.

In 2017 word ek summier ingeroep om haar te leer om haar tablet te kan gebruik. Toe was sy reeds 87 en steeds baie leerbaar.  Sy wil kan whatsapp’e stuur met stemboodskappe, fotos en die hele katoetie.  Haar eerste stemboodskap aan my as deel van ’n oefenlopie: "Hanlie, dit is die song wat die Danube rivier in Wene blou gemaak het. Dit is al wat ek wil sê.” Niks aan Tannie Colla was ooit net gewoon of afgesaagd nie.  Ek kon ure aan haar lippe hang.

Sy’t talle rympies uit haar kop geken en dit tydig en ontydig in geselskap opgesê.  “Good luck to the duck who swims in the sea... and bugger all boys who don’t like me...”  En dan lag sy haar lekker lag uit haar maag uit.

 

Ek en Tannie Colla met haar rooi perd by Piket-Boberg se mark - April 2021

Een middag is ons op Piket-Boberg toe. Ons wou net in die natuur kom. Ek het ’n piekniek gepak en toestemming gevra by die grondeienaar. Ons het eers die lande vol sewejaartjies gaan kyk. Sy met haar loopring. “Ek gaan gou heuweluit Colla, roep ek in die drafstap.” Ek neem aan sy bly by die motor. Maar met Colla moes mens nooit aanneem nie. Toe ek bo-op die bult staan en fotos neem is sy langs my. Koppigheid gee krag in haar kort bene.  Lewer nog kommentaar ook oor die gehalte van die foto wat ek geneem het.  As professionele fotograaf kon sy nooit net na ’n foto kyk nie. Sy het dadelik begin evalueer oor komposisie, hoek van fotograaf en wat nog alles. In al die jare het ek een tevrede kopknik gekry.  Haar standaarde is hoog.

Later staan ons by die dam en sing uit volle bors. Sy wou altyd "Doen slegs U wil Heer" sing. Ons bulder dit uit oor die dam en die vallei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op u bly wag ek, nederig stil...



Sy was oneindig lief vir haar familie.  Haar drie kinders en skoonkinders. Haar kleinkinders en agter-kleinkinders.  Ek moes talle fotos kyk van almal se prestasies.  Haar seun se dood in Covid was ’n baie moeilike tyd. Sy het gevra dat ek vir haar Psalm 62 lees.  Toe ek klaar is, sê sy: Nou doen jy dit oor. Jy lees verkeerd.  Ek moes die 1953 vertaling gelees het en nie die 1983 nie. Sy prewel elke woord saam.  Ek het nooit die hart gehad om vir haar te vertel van die 2020 vertaling nie.

Haar verhuising na die Ouetehuis was nog ’n moeilike tyd.  En deur alles het haar verhouding met die Here bo-oor alles geskryf gestaan. Haar dankbaarheid vooraan.

Collatjie, liefste Collatjie... Ek sal nog ’n boek kan skryf met alles wat ek by jou geleer het.  Korrelkop, stunning korrelkop, kaalvoetkind, koningskind.  Ek hoor weer Jo Black...

Jy's net 'n mens
Hy is God
Maar jy sal nooit uit sy hand uit val
Sê my, voel jy die genade?

Jy's vrygekoop
Die prys is reeds betaal
Jy's skoongewas, 'n Koningskind
Sê my, voel jy die genade?

En die water loop
Ja, die water stroom
Sê my, voel jy die genade?
Maak net jou arms oop
Laat die trane loop
Sê my, voel jy die genade?

 

Ons trane sal nog baie lank loop. Ons voel die genade.