Thursday, October 29, 2009

Watsonias in Jonkershoek


Ek bly in die mooiste dorp in die land! Jonkershoekvallei is altyd baie mooi, maar hierdie tyd van die jaar is dit net asemrowend. Die pienk Watsonias staan in volle blom en laat die hele vallei na 'n opgemaakte matriekafskeid saal lyk. Ons moes net gaan kyk... Die Here het sy beste kwaste uitgehaal en ons geseen met kleure en geure wat jou laat besef dat Hy in beheer is. Dankie, Monica dat jy saam gestap het.

Agt goeie vriende in Driehoek: Cederberge


Vier van ons het saam Kilimanjaro geklim in 2005. Sedertdien het baie water in die see geloop en het ons mekaar min gesien. Toe besluit ons... dit is tyd. Ons nooi aangetroudes, amper aangetroudes en vriende saam en is reg vir 'n baie goeie naweek van kuier, lag, fietsry en lekker eet. Baie dankie vir elkeen wat saam gekuier het. Dit was heerlik.

Sunday, October 18, 2009

Seweweekspoort Bergfiets Uitdaging 17 Oktober 2009




Die Aspros is 'n wonderlike groep vriende van Stellenbosch wat graag fietsry. Ek was die naweek saam met hulle Ladismith toe om Seweweekspoort se 80km bergfiets marathon aan te durf. Dit was 'n heerlike naweek met baie goeie geselskap, heerlike kos (dankie Cornelie!) en lekker oefening. Ons het baie gelag, swaar gekry op die roete en veral baie lekker saam gekuier. Dankie julle. Ons maak weer so...