Saturday, October 13, 2012

Nuwe generasies


Gistermiddag ry ek fiets saam met 'n vriendin. Ons trap nog so teen die bult uit, toe gee sy vir my die antwoord op 'n vraag waarmee ek die afgelope maand spook.

Ek het die voorreg om op die oomblik klas te gee vir studente by drie tersiere inrigtings. Hulle wissel in gehalte en ouderdom, maar is oor die algemeen min of meer 22 jaar oud. Ek het eintlik min kontak met jong mense van hierdie ouderdom, so dit was 'n redelike skok om te sien hoe hulle 'operate'.

Die eerste ding wat my opval is dat hulle nie vir een oomblik kan stilsit en net op een ding konsentreer nie. En nie op 'n goeie manier 'multi tasking' gelyk nie - nee 'scatter brain' agtig. Almal is heeltyd besig op talle elektroniese toestelle gelyktydig. Die een ou in my klas het permanent pluisies in sy ore wat gekoppel is aan elektroniese draadjies na sy iPhone, iPad en iPod wat hy saam met sy MacBookPro voortdurend opereer. G'n wonder hy kom nie sy eksamens deur nie.

Ek is ook geskok oor die kitsheid (is daar so 'n woord) van die generasie. My een klas moes 'n taak inhandig in Maart hierdie jaar. Uit die 15 het 5 ingehandig. Na verskeie maatreels het steeds net 5 ingehandig. Ek is toe verlede week ingeroep om die taak met hulle te bespreek en terugvoer te gee. Die tien wat nie ingegee het nie, het nie eers die moeite gedoen om 'n aanvaarbare verskoning uit te dink nie. Toe ek die 5 take merk, kry ek amper 'n oorval. 3 van die 5 het bloot 'n taak van Google af gekry en hul eie name opgesit. Krimineel. Die een wat die meeste plagiaat gepleeg het, het net een woord verander in 'n taak van 'n student uit Skotland en dit ingegee met haar naam voorop. Natuurlik was dit heeltemal van ons onderwerp af en totaal irrelevant. Ek hou haar toe na klas en gee haar 'n laaste kans om haar sonde te bely, maar sy hou vol dis haar eie werk. Ek skuif die Skotse meesterstuk oor die tafel. Sy sien sy is uitgevang en gee haar verskoning: Haar Ma het die taak gedoen en sy het nie geweet sy mag nie iets van Google af vat nie!! Ek was eers stom... Toe bars ek uit van die lag... en toe is ek kwaad! Vir die student, en veral vir die ma. Watse Ma doen dit?!

Nodeloos om te se hulle moet nou almal die taak oordoen. Al wat ek soek is 'n eenvoudige prosesplan.

'n Goeie ding wat my opval is dat hulle baie meer 'vocal' is. Elkeen het 'n mening en die houding van 'kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word-nie' is duidelik iets van die verlede. Genadiglik tog. Maar wat my opval is dat hulle baie minder emosionele intelligensie het of 'street smart' is as wat mens sou hoop.

So loop en worstel ek met die hede en die verlede en wonder hoekom die nuwe generasie is soos wat hulle is. Lizelle werk elke dag met hulle en sy weet wat ek nog moes leer: Die 20-jariges kan nie 'n proses beskryf nie, want hulle beleef nie prosesse nie. Als gebeur oombliklik, nou dadelik en as hulle iets wil weet klik hulle op die wye wereldse webwerf en siedaar! Nou, oombliklik, ongeproseseerd. Inligting is cheap. Als is vervangbaar.

My Ma het dit gese oor ons ook. Ons is 'n kits generasie want ons werk met sakrekenaars en bereken nie self die Sin, Cos en Tan van wiskunde nie. Nou dink ek die volgende generasie is kits omdat hulle geen proses kan beskryf nie, maar oombliklik by antwoorde uitkom deur google te gebruik.

Bid jou aan wat hulle gaan se oor die volgende generasie. Mag ek leef om dit te beleef!