Monday, February 15, 2021

Wat is hoop?







Reinet se versoek is eenvoudig: “Kan ek asseblief iets vir die Gemeentenuus skryf. Sommer ietsie oor hoe dit met my gaan, my vakansie en vooruitsigte vir 2021.”  Maar ek het iets heel anders op die hart.  Iets wat ek nie langer kan binnehou nie en graag met julle deel.

Ons het gister ‘n interessante gesprek gehad in die Wes-Kaapse Kabinet Bosberaad saam met Provinsiale en Munisipale Leiers in die Wes-Kaap. Ons het die grootste uitdagings tans bespreek (mid en post Covid) en aksieplanne geformuleer om dit aan te spreek.  Een van die 18 grootste uitdagings het my veral geraak en ek is gevra om ook tydens die wegbreek-gesprekke in verskillende MS Teams virtuele kamers hieroor verdere insette te lewer.  Die gesprek het gegaan oor “hooploosheid” wat mense tans ervaar, wat dit veroorsaak en wat daaraan gedoen kan word.  Natuurlik is dit baie kompleks met uiteenlopende insette uit alle kante. 

Die gesprek het my weer diep en lank laat dink oor “hoop”.  Joe Black sing ‘n pragtige lied: Bring die hoop weer terug” wat begin met “Hoop, wat is hoop? Dis die wens dat die son weer opkom. Hoop, wat is hoop? Dis dat vrede by ons uit kom. Dis as ons harte na mense terugdraai".  Ek en Tannie Colla ry verlede Vrydag ‘n draai en ons speel Joe se lied kliphard in my motor en sing uit volle bors saam. Beide pynlik bewus van hoeveel hoop ons tans nodig het. 

Barry Wood het gesê: “We need three things in our lives - something to do, someone to love and something to look forward to - those three elements can bridge most challenges”.  

In Psalm 31: 24 en 1 Korintiers 13:13 lees ek van Hoop.  Dat dit nie iets is nie, maar Iemand. Dit is nie vaag of ver of onbereikbaar nie. Dit is konkreet en hier by ons. In ons! Dit is Jesus Christus wat aan ‘n kruis vir ons gesterf het en die vaste seker wete dat God Sy beloftes sal hou.  As ons rondom ons kyk, die media glo, na ongelowiges (en soms gelowiges) rondom ons luister, sal ons gereeld genoeg redes kan vind om hooploos te wees.  Maar as ons aanhou opkyk en vashou aan die Hoop wat die Weg en Waarheid en die Lewe is, sal ons weet dat Hy in beheer is en van ons draers van Hoop maak wat Hoop versprei en Hoop bring na elke moeilike situasie.

 

Die toon in Joe Black se lied verander na die tweede strofe. Van sy soeke na “wat is hoop” verander die woorde na “wees die hoop". "Steek jou hande uit na mekaar. As jy moeg is, sal ek jou dra.”  Ek sing dit en weet dat ek en jy gedra word deur die groot Ek is. Altyd en in alle omstandighede.  Ons moet Hoop wees vir mekaar. Ons hande uitsteek en dit versprei waar ons ookal gaan.  Ons kan! Want Jesus het reeds!

As jy ook in hierdie tyd wonder oor Hoop.  Wees die Hoop want jy ken die Hoop.