Sunday, August 2, 2026

Noorweë: elke kyk ‘n poskaart

Hierdie land was al op my emmerskoplys sedert ek kan onthou! ‘n Toer hierheen het my elke keer ontwyk. Ek was in Swede en Denemarkte, maar nog nooit in Noorweë nie. Maar dit het nou alles verander. Ek is saam met ‘n stapgroep van mense uit Suid-Afrika. Ons is 21 waarvan ek net drie ander geken het voor ons vertrek het. 

Ons het KLM gevlieg direk van Kaapstad na Amsterdam in 10 ure 28 minute en daarna ‘n vinnige oorstap op Schiphol lughawe om 1 uur en 10 minute later te land in Stavanger, aan die weskus van Noorweë. Ons boek in ons kamers in in die Clarion Energy Hotel en gaan verken die naaste supermark vir middagete, aandete en stapsnacks vir môre. Ek koop salmon, garnale slaai, kaas en rogkoekies. Hulle is goed op seekos. 

Ek deel ‘n kamer met ‘n vrou uit Kanada en ons word gou vriende. Sy kom oorspronklik uit Namibië. 

Ons eerste stap is na Preikestolen. Dit is ‘n rots wat 604 meter bo-oor die Lysefjord troon. Ons bus ry 07:30 vanaf die hotel en almal is betyds. Dit help altyd. Dis 50 minute se ry. Daar is meer as 1260 tonnels in Noorweë en die langste subsee-tonnel in die wêreld is ook hier. Vandag ry ons tonnel op tonnel. 

Die stap is 8,5 km met 435 meter se hoogte wat gewen word. Dis kliptrappe en rotse met die mooiste uitsigte denkbaar. Wat ‘n voorreg! Wat ‘n geleentheid! Ek is so bly ek het gekom.