Friday, June 27, 2014

Oppad Rusland toe!


Ek sit in Mugg and Bean in Tygervallei met 'n reuse Rooi Cappuccino met room langs my. Die room is te danke aan ons vriend Tim Noakes. Ek volg nou sy eetplan min of meer van Januarie 2014 af en streng vanaf 11 Mei 2014 en die kilo's smelt weg. Dis heerlik. Probeer dit gerus.

Ek is bewerig van opgewondenheid soos ek hier sit. (Regtig nie van die dieet nie) Ek het pas met my Pa gepraat en is besig om ons sitplekke aanlyn te bespreek vir ons vlug more. More hierdie tyd is ons reeds oppad via Istanbul na Moskow en dan St Petersburg. Ons gaan saam met Seagull Toere en kan nie wag nie.

Die laaste week was chaos om alles gedoen te kry by die werk en om klaar gepak te kom. En totdat ek nou aanlyn gegaan het om te bespreek, was ek nog nie opgewonde nie. Maar nou het dit my gepak!

Ek weet min van Rusland af. My Pa het navorsing gedoen en vir ons 'n paar bladsye geprint van die internet af. Ek sit dit so stukkie vir stukkie en op"swot". Maar dit is die een Tsar na die ander en mens sal moet konsentreer. Ek luister vandag oor die nuus en kort-kort hoor ek hul President se naam: Vladimir Putin. Dit klink vir my soos een of ander agent se naam in 'n 007 fliek, maar ek sal nou nie sulke uitlatings maak 'n dag voordat ek hul grense wil binnegaan nie.

Net 'n paar interessanthede:

Rusland is die grootste land in die wereld en beslaan 17,075 miljoen vierkante kilometer. Daar is 23 UNESCO wereld erfenis gebiede, 40 UNESCO biosfeer reservate, 41 nasionale parke en 101 natuurreservate in Rusland. Kom ons sit dit in perspektief: SA beslaan 1,22 miljoen vierkante kilometer. Rusland is dus amper 17 keer so groot soos SA.

Natuurlik het die grootste gedeelte van Rusland se huidige grond eers aan die Mongole behoort. Dit was voor die laat 17de eeu (ongeveer 1680) toe Yermak Timofeyevich (dankie tog hy speel nie tennis nie!) gedurende die bewind van Ivan die Verskriklike sy weermag bymekaar gekry het en die Mongole gaan oorrompel en hul grond gesteel het. Ek wonder hoe lyk hulle grondhervormingsplanne en waarheids en versoeningskommissie.

Hierdie geskiedenis lees soos 'n sprokiesverhaal...

Daar is 160 verskillende etniese groepe in Rusland met sowat 100 amptelike tale. Die vernaamste tale wat deur die meeste Russe gepraat kan word, is Russies, Tatar en Ukrainian (seker Ukranies in Afrikaans). Daar is 46 provinsies, 22 republieke, 9 krais (gebiede), 4 onafhanlike distrikte, 1 onafhanklike provinsie (joodse) en drie federale stede wat as onafhanklike gebiede funksioneer. Ek sal graag hulle parlement in aksie wil sien. Ek wonder of hulle manne in rooi overalls daar sal toelaat :-) Seker nie toe Ivan die Verskriklike nog aan bewind was nie, maar miskien sou Malema die Verskriklike hom 'n ding of twee kon wys.
Ek leer ook hierdie week dat Rusland die tweede grootste uitvoerder ter wereld is van diamante. Het julle dit geweet?

Ek sit hier en wonder hoe proe Rusland? Hoe ruik dit? Wat gaan ons alles sien? Ek kom pas van die oogspesialis af vir my finale oogtoets nadat ek 'n maand terug beide my oe laat laser het. Die uitslag: 20/20 visie! Maar net om seker te maak ek sien die kremlin en die rooiplein het ek gevra dat hy vir my 'n 0,5 kontaklens gee vir my linkeroog. Hy het my oe monovisie gesny wat beteken my linkeroog kyk nou ver en my regteroog naby. Hulle raak nog gewoond daaraan en as die lig swak is raak hulle moeg. Nou top ek hulle op met 'n lens om so goed as moontlik te kan sien.

Ek vat my rekenaar saam en sal soveel as moontlik wifi plekke soek om vir julle blog te skryf en te vertel hoe dit is.

Lekker naweek vir elkeen. Vir die wat met vakansie gaan, geniet dit en kom veilig terug!

Zdravstvujtye. Julle sal dink ek het sommer net 'n klomp letters getik, maar dit is werklik Russies vir totsiens! Privyet is vir hallo.

Nou ja: Privyet en Zdravstvujtye.

Ons gesels weer.

Hanlie