Monday, March 30, 2015

As ek nou terugkyk...

Ek is besig om voor te berei om 'n fotoaand te hou vir my vriende en enige belangstellendes in ons bybelskool en kerk en werk weer deur al my fotos. Soos ek deur hulle blaai (daar is baie) kry ek weer 'n goeie oorsig van die hele toer deur Israel, Jordanie en Turkye. En wil ek graag die volgende opmerkings maak vir bloglesers wat nog beplan om te gaan:

Ek is van mening dat hierdie een van die sinvolste toere was wat ek al ooit gedoen het. En julle weet ek toer baie. Die rede is dat dit werklik 'n geestelike reis was wat ek eintlik lankal moes gedoen het, maar ook bly is dat ek dit nou eers doen. 'N mens toer anders as jy bietjie ouer is.

Die feit dat ek dit in 'n kleiner groep kon doen (ons was net 14), was 'n seen met die bonus dat ses van die 14 familie was en 'n verdere drie goeie vriende was en die res nou goeie vriende geword het, het die reis net verder diepte gegee. Israel en Jordanie moet 'n mens saam met mede christinne doen. Mense wat weet waaroor die lewe, dood en opstanding van Christus gaan en wat dit ook deur daardie lens wil sien. 

Aan die begin (eerste drie dae) het ek toegelaat dat ek so oorweldig word deur feite en ek het probeer om soveel van die geskiedenis en feite in te neem om weer vir my bybelskool en bybelstudiegroep te kan gaan vertel, dat my kop wou bars. Toe het ek besluit dit is nonsens en het myself gedwing om daarby verby te kyk en net werklik die Heilige Land te beleef en te ervaar en in die voetstappe van Jesus te loop. Dit het die ervaring baie beter gemaak. Mens moet probeer om jou vooropgestelde idees te laat vaar oor hoe jy en jou kinderbybel gedink het dit behoort te lyk. Dit lyk nie so nie. As jy daaraan vashou, gaan Israel vir jou 'n teleurstelling wees.  Ons groepie het elke aand na die dag bymekaar gekom en kon met mekaar ons ervarings, hoogtepunte en laagtepunte deel. Dit het baie gehelp om elke dag af te sluit en weg te pak, sodat jy reg is vir die dag van more. My blog help ook baie daarmee, want as ek in die aand oor 'n dag kon skryf, het ek hom agter my gesit en afgehandel en kan ek oop wees vir nuwe dinge more.

Toe ek in Kaapstad deur doeane kom, vertel ek vir die beampte agter die toonbank dat ek die Heilige Land besoek het. Hy vra ewe: watter een? 😀 dit is iets wat ek nie vooraf oor Israel besef het nie. Dit is ook die Heilige Land vir die Moslems, die Ortodokse Jode, die Jode, en amper elke ander godsdiens waaraan jy kan dink. Daarom kry jy te doen met verskillende invloede en sienings en moet reg wees daarvoor. By die Via Dolorosa bv glo die Jode nog 'n hele paar goed addisioneel wat nie in die Bybel staan nie. Hier moet 'n mens jou Bybel goed ken om die verskille te kan identifiseer. My Pa wat ons geestelike leier was, het telkens gehelp deur te se: almal wat afrikaans kan verstaan, hierdie staan nerens in die Bybel nie.

Ons het die mees fantastiese weer gehad. Dit was lente by hulle en dit het gemaak dat ons nerens te warm of te koud gekry het nie. Okay, uitgesluit die topless bus in Istanbul. Mense!!! Dit was koud! Hulle het 'n baie goeie reenseisoen agter die rug en die groen en lentebloeisels was pragtig. Voor die tyd het ek altyd vaal en sanderig in my gedagtes gehad as ek aan Israel dink.

Al ons dank en waardering gaan aan Seagull Toere. Hulle toere is puik georganiseer met net die beste gidse en verblyf. Dit is my tweede toer saam met Seagull en daar gaan verseker nog 'n klomp wees. Hopenlik ook as toergids as ek eers meer tyd het.  Terwyl ons daar was, het 'n vriendin van my se broer tips gevra, want hy en sy gesin gaan hierdie week. Toe moes ek daaroor begin dink en moet se dat ek nie dink dat mens Israel kan doen sonder 'n plaaslike toergids en toergroep nie. Al die besienswaardighede word uitgeboek deur toergroepe en jy het 'n spesifieke tyd wat jy daar deurbring. Bv die tuingraf in Jerusalem, die tuin van Getsemane, die belangrikste kerke, eintlik alles. As jy as individu daar aankom, gaan jy baie lank wag en nie die ervaring kan he wat jy moet he nie. Ons het bv nagmaal gehou in die tuingraf by Golgota en dit is vooraf gereel deur die gids. Daar het ons elkeen 'n wynkelkie gekry wat uit Olyfhout in Betlehem gemaak word. My Pa het die nagmaal gelei en dit was vir baie van ons die hoogtepunt van die toer.  Die hertoewydingsdoop in die Jordaan was my hoogtepunt.

Israel is ingerig vir toeriste. Hulle poog werklik om vir jou ervarings te gee wat jy altyd sal onthou. Berg Masada was ook so een. Ek gaan nog eendag terug om hom uit te klim. Hierdie keer was ons met die kabelspoor op.

As jy hier lees en reeds daar was, hoop ek dat jy dit weer kon beleef saam met my. En as jy hier lees en nog nie daar was nie, hoop ek dat jy dit sal wil gaan beleef.  Ek weet ek sal weer gaan.

Hou vas aan jou volgende droom. Wat dit ookal is.

Sunday, March 29, 2015

Jordanie

Toe ek die naam van die drankwinkel oorkant ons hotel sien, moes ek die eerste keer onraad vermoed het. Ook die porters wat nog besig was om hul wit hemde aan te trek en in te druk in gekreukelde broeke, moes die alarms laat afgaan het.  Ons is in Madaba.  Terloops, daai drankwinkel se naam is Hangover Liquor Store met 'n pikante subtitel van Wine from the Holy Land!

Deur die res van Jordanie het ons goeie akkommodasie gehad. Die Marriot by Petra en die Holiday Inn by die Dooie See. Laasgenoemde het ook die Tripadvisor prys gewen vir die beste hotel in 2015. Regtig skitterend met uitstekende diens, maar iewers het Madaba agtergebly.  Die plek is vuil en verslete en regtig nie die vier sterre werd wat hulle op die internet adverteer nie. Maar gelukkig het ons evalueringsvorms om in te vul en sal ons Seagull Toere laat weet. Toe ons in die kamer kom, kyk ek na my bed en kan duidelik sien dat dit nie skoon oorgetrek is nie. Die hele kamer ruik na rook. Ons roep die porter en hy roep kamerdiens en hulle kom trek ons beddens oor. Die res is ook maar grillerig.  Jordanie is vir almal van ons skreiend anders as Israel. Hier in Jordanie is dit baie vuil. Daar le rommel orals. Selfs op hul grandste toerisme plekke. Ons vra vir George daaroor en sy antwoord laat my presies verstaan wat die probleem is. Hy se hierdie wat ons nou sien is eintlik heel okay. Hulle is tevrede daarmee, want dit was al erger. Nee!! Dan sal dit nooit beter word nie. Want selfs die toergidse is tevede met die rommel.

Ons sit nou op Amman lughawe en wag vir die vliegtuig om te vertrek. Ons hek nommer het pas verander. So nou moet ons hardloop. Ek skryf weer later verder...

Nou is dit veel later! Ek was al terug by die huis en weer vort. Hierdie keer Gauteng toe vir 'n konferensie. Op die oomblik sit ek saam met my Christa-sussie op hul tv bank en kyk 'n fliek en Koekedoor. Hulle kat, Kous, le langs my op die bank en vra dat ek sy kop krap. Wanneer ek my hand
lank genoeg kan weghaal, tik ek verder...


Ons het Woensdagmiddag geland, nadat ons Dinsdagoggend uit Jordanie weg is. Dit het ons gelaat met 13 ure om Istanbul te gaan verken en dit was so die moeite werd. SAners het visas nodig vir Turkye, maar dit kry jy sommer by 'n e-kiosk op die lughawe. Dit is gratis en binne 'n minuut het jy 'n 90 dae toegang tot Turkye. Nogal veelvuldige ingang ook! Hulle klink nogal desperaat vir toeriste, maar moenie daardeur mislei word nie. Die grand basaar in Istanbul was in 2014 die plek wat die heel meeste deur toeriste besoek is in die hele wereld. 91,3 miljoen van hulle!!


Hierdie is die Jabbokrivier aan Jordanie se kant. Die toergids wys dit vir ons met die navoegsel: dont laugh. Omdat dit baie kleiner is as die magtige rivier wat mens in jou kop het. Die Jabbok vloei n end verder in die Jordaanrivier.

V


'n Tipiese Jordaniese stalletjie. Ons het lekker inkopies gedoen.


En toe besoek ons Jerash. Dit is die beste bewaarde Romeinse stad in die midde-ooste. Regtig indrukwekkend. Ek het baie daarvan gehou. 



My Pa en Ma. Dit was regtig 'n voorreg om saam met hulle te toer. 


Corne hou die 2000 jaar oue mure regop! 




Hierdie doedelsakspeler illustreer die ongelooflike akkostiek binne die omni-teater in Jerash.


Die oud en die nuut!

Die oud, die nuut en die jonk.









Hierdie is die Romeinse grafte. Net Tannie Dot was dun genoeg in ons groep om dit te kon toets. Baie ongemaklik lyk dit... 

Kyk hoe mooi het die kantwerk behoue gebly. 









'n Outydse 'manhole'! 




Hulle maak die mooiste sandwerk. 

Hierdie platbrode word op so 'n kussing gesit en dan teen die mure van die oond vasgeslaan om daar gaar te word.






Berg Nebo  vanwaar Moses die beloofde land slegs kon sien, maar nie ingaan nie. 



Een God, Vader van almal. 




Uitsig oor die beloofde land. 

Tannie Joyce (85 jr) lees vandag ons stuk uit die Bybel. 







'n Rolklip wat 2000 jaar terug as 'n deur gebruik is. 







Ons kon deelneem aan 'n Guinness World Record vir die grootste mosaik ooit. 









My sussie Santie kry vandag haar M-graad in Arbeidsterapie in absencia. Ons maak gou 'n plan en hou 'n  gradeplegtigheid vir haar. Baie geluk Santie!

My Pa en sy harem. 


Ek en Ena wys die mode in Jordanie.

Ons besoek 'n museum waar die lewe in Jordanie uitgebeeld word.





Terug op die lughawe. Hierdie keer in Amman. 



Vrugtestalletjie in Istanbul.

Een van die 2700 moskees in Istanbul. Daar is 120 kerke. 





Toe ons reg is om in die bekende Blou Moskee in Istanbul in te gaan, is hulle toe vir een van ses gebedsessies per dag. Ons wag 45 minute en kan ingaan.

Aya Sofia.

Na 'n baie vol dag in Istanbul vlieg ons terug via Johannesburg. 'N ongelooflike vakansie le op sy rug! Ek kan Israel onvoorwaardelik aanbeveel vir enigiemand!! Moenie te lank daaroor dink nie. Gaan net...