Saturday, March 21, 2015

Petra!

Ek kan nie onthou wanneer laas 'n mensgemaakte ding my sprakeloos gelaat het van ongelooflikheid nie! Ek het as kind die fliek gesien 'Indiana Jones and the lost City' en nooit in my wildste drome gedink dat daar werklik so 'n verlore stad iewers op aarde is nie.  Julle! Waar sal ek begin vertel? Niks wat ek vooraf op Google kon sien, kon my voorberei op dit wat ons vandag beleef het nie. Daar is nie 'n manier dat die foto's kan vasvang wat ons gesien het nie. Dit was net onbeskryflik mooi.  Maar laat ek eers by die begin begin...

Vanoggend in Eilat is dit Shabbat en die werknemers in die hotel skitter in hul afwesigheid. Daar is niemand by die eetsaal toe ons daar aankom nie en na nog 20 minute gaan daar steeds nie veel aan nie.  Die Shabbat reels is baie streng en Ilse het op google gaan lees en vertel ons vanoggend. Hulle mag byvoorbeeld niks braai nie, want dit is werk en hulle mag nie op Shabbat (Saterdag) werk nie. So, daar is geen omelette, of gebakte eiers of so iets by ontbyt nie. Net alles wat reeds gisteraand gemaak is. Daar is ook 'n spesiale Shabbat hysbak in hierdie hotelle, want op 'n Saterdag mag hulle nie in 'n hysbak klim en die knoppies druk nie. Dit is werk. So 'n Shabbat hysbak word gestel en stop outomaties op elke vloer.

Agtuur klim ons die laaste keer saam met Noer op ons bekende bus en ry 15 minute na die grens. Ons agent, Beverley, vertel vir ons alles wat ons moet weet om maklik deur doeane te gaan en ons is fort. Ons het lief geraak vir Noer en groet hom hartlik en staan in 'n kringetjie om hom en sing vir hom 'Laat Heer u seen op hom daal'. Ons gee hom elkeen 'n drukkie en vertrek.  Die doeane gaan heel maklik en vinnig en aan die anderkant wag ons nuwe gids, George, en die toeragent.

 


Die grens tussen Israel en Jordanie.



My bagasie



Ons moet almal ons eie tasse deur niemandsland vat tussen die twee lande. Hulle maak seker dat hierdie oppervlakte baie grof is, maar ons is daardeur.



Ons nuwe gids, George (links) saam met my Pa en die toeragent.



Ek het spesiaal hierdie foto geneem nadat George mooi vir ons verduidelik het dat hierdie 'n baie groen jaar is in Jordanie.


Die Jordanie vlag.
Die ingang na Petra. Petra is 'n historiese en argeologiese stad in suidelike Jordanie wat wereldbekend geraak het vir die verlore stad wat uit rots-sny argitektuur gemaak is. Hulle noem Petra ook die Roos Stad na aanleiding van die pienk kleur van die rotse hier.  Die stad is na beraming reeds in 312 vC gevestig as die hoofstad van die Nabateane. Dit is die besienswaardigheid wat die heel meeste in Jordanie besoek word en is die nasionale simbool van Jordanie. En met reg! Julle dit is mooi!! Die stad was onbekend aan die westerse wereld tot 1812 toe dit deur 'n Switserse ontdekker gevind is. In 2007 is dit aangewys as een van die 7 wonders van die wereld. Jammer vir al die fotos, maar ek kon nie kies nie. Ek het 100de geneem.



Hierdie perdekarretjies dien as taxi's en ry op en af om mense te vervoer oor die 2,5 km af in die skeurvallei tot by die Treasury en weer terug. Ons het gestap. Die son was pragtig op die rotswande en elke draai dink jy nou sien jy die mooiste plek en dan om die volgende draai sien jy nog iets mooiers! Finominaal!! 



Ek sien op google dat die canyon op plekke tot 100 meter diep is. Op sy nouste is hy skaars 'n motorbreedte. Vir die van julle wat wil gaan kyk: volgens google is hy ook nou op street view by Google Earth. Dit sal 'n pragtige gesig wees.










Na 800 meter kom jy by die ingang van die Siq. Dit is die skeurvallei. Hierdie wereld kry baie min reen, maar as dit reen oorstroom die hele canyon, so die Jordaniers het 'n plan gemaak en 'n tonnel gegrawe by die ingang van die Siq om al die stormwater weg te gelei. Toe hulle die tonnel grawe toe kom hulle agter eeue gelede was daar reeds so 'n stormwater tonnel op dieselfde plek. Interessant dat ingenieurs eeue uit mekaar uit dieselfde oplossing vind!


By die ingang staan hierdie twee Romeinse soldate waarby mens kan foto's neem.






Die oom wat nou langs my sit en tik in die Lobby van die hotel (net hier is gratis wifi) is van Amerika (Colorado) en vertel vir my dat Petra nou die laaste van die 7 wonders van die wereld is wat hy moes sien. Die ander het hy al almal gesien. Nou begin hy met die 7 natuurlike wonders van die wereld en sal Kaapstad toe ook kom. Hy ken die 7 wonders uit sy kop uit en rammel hulle af, maar dit vat my 'n besoek aan Google om hulle hier te noem:

1. Chichen Itza in Mexico
2. Christ the Redeemer in Brazilia
3. Great Wall of China
4. Machu Picchu in Peru
5. Petra in Jordan 
6. Taj Mahal in India
7. Colosseum in Rome 

Ek was nou al by drie. Vier om te gaan. No 3, 5 en 7 hierbo het ek reeds besoek.




Hier verduidelik George vir ons van hoe die lae gevorm het. 



Kyk net hierdie kleure! En dit is sommer net die paar wat ek met my selfoon geneem het om op die blog te sit. Julle moet die foto's van my Lumix sien!







Ena Scheepers van Fouriesburg. Net omdat haar kinders ook hierdie blog volg, sit ek vir hulle hierdie fototjie op. Dit gaan goed met julle Ma.

















En dan skielik kom jy om 'n draai en sien die eerste glimpsie van die Skat.




Hierdie panorama is geneem deur Mona Scheepers. 

Hierdie fantastiese fasade is uit die sagte sandsteen gekerf. Blykbaar begin hulle bo en daar is geen ruimte vir undo of photoshop of auto correct nie. 




'N Bietjie musiek in die vallei.






En toe hoor ons 'n perderit vir die laaste 800 meter oppad terug is ingesluit, en klim ek summier op. My perd se naam is Susan (soos my Ma) en vandag is Moedersdag in Jordanie.


Susan die perd. Sy het haar baie goed gedra. 


Santie vra vir koffie by die winkel en kry hierdie verpulpte teer in 'n baie klein koppietjie. Ondrinkbaar! 


Elke Arabier wys vir ons hoe om hul kopdoeke so mooi te vou en Surita en Mona is modelle. 


Ons slaap vanaand in die Marriot Hotel in Petra. 


Sonsondergang vanuit ons kamer. 


Tannie Joyce Swart het my vandag verras. Sy is 85 jaar oud en het al die pad af en op in die canyon gestap.


Arabiese lensiesop. Baie lekker. Ons kon ook Nederburg wyn bestel vir 'n skamele R650 per bottel. Ons sal maar 5 dae wag en dit weer in SA geniet.

Vandag was onbeskryflik lekker!!

Ek het nou weer gou deur gister se stuk gelees om 'n paar spelfoute reg te maak. En nou kan ek vir julle die foto's opsit wat ek vanoggend vroeg van ons hotel en uitsig geneem het. En van Noer - ons busdrywer wat ons gister moes groet. 

Noer ons busdrywer in Israel.

Ons Marriot Hotel in Petra. 

Hierdie mooi handewasbak was voor die eetsaal in Eilat se Crown Plaza. 
 



No comments:

Post a Comment