Monday, March 30, 2015

As ek nou terugkyk...

Ek is besig om voor te berei om 'n fotoaand te hou vir my vriende en enige belangstellendes in ons bybelskool en kerk en werk weer deur al my fotos. Soos ek deur hulle blaai (daar is baie) kry ek weer 'n goeie oorsig van die hele toer deur Israel, Jordanie en Turkye. En wil ek graag die volgende opmerkings maak vir bloglesers wat nog beplan om te gaan:

Ek is van mening dat hierdie een van die sinvolste toere was wat ek al ooit gedoen het. En julle weet ek toer baie. Die rede is dat dit werklik 'n geestelike reis was wat ek eintlik lankal moes gedoen het, maar ook bly is dat ek dit nou eers doen. 'N mens toer anders as jy bietjie ouer is.

Die feit dat ek dit in 'n kleiner groep kon doen (ons was net 14), was 'n seen met die bonus dat ses van die 14 familie was en 'n verdere drie goeie vriende was en die res nou goeie vriende geword het, het die reis net verder diepte gegee. Israel en Jordanie moet 'n mens saam met mede christinne doen. Mense wat weet waaroor die lewe, dood en opstanding van Christus gaan en wat dit ook deur daardie lens wil sien. 

Aan die begin (eerste drie dae) het ek toegelaat dat ek so oorweldig word deur feite en ek het probeer om soveel van die geskiedenis en feite in te neem om weer vir my bybelskool en bybelstudiegroep te kan gaan vertel, dat my kop wou bars. Toe het ek besluit dit is nonsens en het myself gedwing om daarby verby te kyk en net werklik die Heilige Land te beleef en te ervaar en in die voetstappe van Jesus te loop. Dit het die ervaring baie beter gemaak. Mens moet probeer om jou vooropgestelde idees te laat vaar oor hoe jy en jou kinderbybel gedink het dit behoort te lyk. Dit lyk nie so nie. As jy daaraan vashou, gaan Israel vir jou 'n teleurstelling wees.  Ons groepie het elke aand na die dag bymekaar gekom en kon met mekaar ons ervarings, hoogtepunte en laagtepunte deel. Dit het baie gehelp om elke dag af te sluit en weg te pak, sodat jy reg is vir die dag van more. My blog help ook baie daarmee, want as ek in die aand oor 'n dag kon skryf, het ek hom agter my gesit en afgehandel en kan ek oop wees vir nuwe dinge more.

Toe ek in Kaapstad deur doeane kom, vertel ek vir die beampte agter die toonbank dat ek die Heilige Land besoek het. Hy vra ewe: watter een? 😀 dit is iets wat ek nie vooraf oor Israel besef het nie. Dit is ook die Heilige Land vir die Moslems, die Ortodokse Jode, die Jode, en amper elke ander godsdiens waaraan jy kan dink. Daarom kry jy te doen met verskillende invloede en sienings en moet reg wees daarvoor. By die Via Dolorosa bv glo die Jode nog 'n hele paar goed addisioneel wat nie in die Bybel staan nie. Hier moet 'n mens jou Bybel goed ken om die verskille te kan identifiseer. My Pa wat ons geestelike leier was, het telkens gehelp deur te se: almal wat afrikaans kan verstaan, hierdie staan nerens in die Bybel nie.

Ons het die mees fantastiese weer gehad. Dit was lente by hulle en dit het gemaak dat ons nerens te warm of te koud gekry het nie. Okay, uitgesluit die topless bus in Istanbul. Mense!!! Dit was koud! Hulle het 'n baie goeie reenseisoen agter die rug en die groen en lentebloeisels was pragtig. Voor die tyd het ek altyd vaal en sanderig in my gedagtes gehad as ek aan Israel dink.

Al ons dank en waardering gaan aan Seagull Toere. Hulle toere is puik georganiseer met net die beste gidse en verblyf. Dit is my tweede toer saam met Seagull en daar gaan verseker nog 'n klomp wees. Hopenlik ook as toergids as ek eers meer tyd het.  Terwyl ons daar was, het 'n vriendin van my se broer tips gevra, want hy en sy gesin gaan hierdie week. Toe moes ek daaroor begin dink en moet se dat ek nie dink dat mens Israel kan doen sonder 'n plaaslike toergids en toergroep nie. Al die besienswaardighede word uitgeboek deur toergroepe en jy het 'n spesifieke tyd wat jy daar deurbring. Bv die tuingraf in Jerusalem, die tuin van Getsemane, die belangrikste kerke, eintlik alles. As jy as individu daar aankom, gaan jy baie lank wag en nie die ervaring kan he wat jy moet he nie. Ons het bv nagmaal gehou in die tuingraf by Golgota en dit is vooraf gereel deur die gids. Daar het ons elkeen 'n wynkelkie gekry wat uit Olyfhout in Betlehem gemaak word. My Pa het die nagmaal gelei en dit was vir baie van ons die hoogtepunt van die toer.  Die hertoewydingsdoop in die Jordaan was my hoogtepunt.

Israel is ingerig vir toeriste. Hulle poog werklik om vir jou ervarings te gee wat jy altyd sal onthou. Berg Masada was ook so een. Ek gaan nog eendag terug om hom uit te klim. Hierdie keer was ons met die kabelspoor op.

As jy hier lees en reeds daar was, hoop ek dat jy dit weer kon beleef saam met my. En as jy hier lees en nog nie daar was nie, hoop ek dat jy dit sal wil gaan beleef.  Ek weet ek sal weer gaan.

Hou vas aan jou volgende droom. Wat dit ookal is.

No comments:

Post a Comment