Monday, March 16, 2015

N Baie lang en fantastiese dag

Ek moet erken dat ek nou spesiaal vroeer opgestaan het om vir julle van gister te vertel. Ons is vroeg weg uit Tiberias en moes uitboek uit die hotel. Dit beteken alles inpak en ons tasse moes reeds 06:45 voor ons kamerdeure staan. Na n lekker ontbyt is ons fort. Ons eerste stop in Yardenit. Dit is 'n plek by die Jordaanrivier wat ingerig is vir doopgeleenthede vir mense wat vir die eerste keer gedoop wil word of as hertoewyding. Ons groepie kom elke aand na aandete bymekaar en dan bespreek ons die dag en praat oor goed wat voorle. Reeds op aand twee het ons begin praat oor die doop en of daar van ons is wat gedoop wil word. John het in die Methodiste kerk grootgeword, maar is nooit gedoop nie en vra dat my Pa hom sal doop. En ek, Corne en Ina wil gedoop word in die Jordaan as 'n teken van hertoewyding aan Jesus Christus wat ons Verlosser is.

Omdat dit ons eerste stopplek is, is daar geen skares nie en is dit rustig, stil en kan ons die geleentheid ten volle benut. My Pa het dit pragtig hanteer en dit word 'n geleentheid wat ek altyd sal onthou en koester. Ek is Jesus se kind en ek sal my lewe wy tot Sy eer en verheerliking.




Daarna vertrek ons na Bet She'an. Dawied, ons gids, spreek hierdie so lekker uit! Hierdie ruines verras my. Die stad is in 749 na Christus verwoes in 'n aardbewing en daarom kon argeoloe baie van die ou stad en gebruike opgrawe. Dit is pragtig! Veral die amfiteater en publieke baddens vertel 'n mens amper presies hoe hulle in daardie tye gelewe het. En die ingenieurs was reeds erg bedrewe met ondervloerse verhitting en stormwater kanale. Regtig interessant. Nou moet ons eers hardloop. Nog n vol dag begin... Ek skryf later verder. Die mosaik hieronder is opgegrawe in die hoofstraat-sypaadjie van Bet She'an. 








Ena Scheepers speel model.



Die nuwer deel van Bet She'an het hierdie bekende restaurant. Nou sien julle sommer hoe dit lyk in Hebreeus of Arabies (wie sal weet)
Daar is nog so baie wat ek moet vertel, maar daar is nie nou tyd nie. Oor Jerigo, die inry in Jerusalem, die klaagmuur, die bovertrek, die uitsig oor die olyfberg, die ou stad en die fantastiese toer wat ons gedoen het deur die ondergrondse tonnels in die Western Wall van die ou stad. Dit het my asem weggeslaan. Die tonnels is eers in 1996 oopgestel vir die publiek.


No comments:

Post a Comment