Sunday, March 15, 2015

Korazim, Golan Hoogland, Mount Bental, Kursi, Sirie en Megiddo


Hierdie pragtige uitsig is vanaf die Berg Bental in Israel oor Sirie. Dit lyk maar net so vreedsaam. Hier het al talle gevegte plaasgevind. Ook so onlangs soos 1967 in die Sesdaagse Oorlog in hierdie gebied. Hier waar ons staan is bunkers gebou waar die Israeliese soldate gebly en geskuil het. Tot tien meter onder die oppervlakte ingebou. Ons is regtig baie geseend met die weer. Elke dag is net pragtig. Dawied vertel vir ons dat Israel 330 sonskyndae het elke jaar. Dit kan ook ongemaklik warm raak hier.




Ons kry hierbo (1165m bo seevlak - en onthou Tiberias en die See van Galilea is die laagste plek op aarde naamlik 212 meter onder seevlak) VN soldate wat die grens tussen Israel en Sirie monitor. Israel het hierdie week weer hul algemene nasionale verkiesing en op die bus probeer Dawied vir ons die baie ingewikkelde multi party demokrasie verduidelik wat hier gebruik word.








Ons middagete van Falafel. Heerlik vars en lig vir 8 dollar. 



           





Hierdie foto is geneem by Megiddo. Dit is die plek wat my sover die meeste beindruk het. Dit is n ruineheuwel op die plek waar lank gelede n stad was. Voor hierdie heuwel le die Armageddon vallei. Hier sien ons tekens van beskawing wat 3000 jaar oud is. Toe Jan van Riebeeck se oer oupa grootjie nog nie n glinstering in sy ma se oog was nie. Megiddo le langs n baie besige handelsroete tussen Egipte en die Ooste en was daarom die toneel van vele veldslae. Die heel interessantste vir my is die water skema wat in die tyd van die Israeliese konings gebou is. Hulle waterbron was buite die stadsmuur en daarom nie veilig nie. Toe grawe hulle n skag van 36 meter diep waaruit n horisontale tonnel vertak van 70 meter lank. Die waterbron is hier in n grot en kon selfs in tye van stadsbeleering so bereik word. Ons stap vandag 183 trappies af en 82 op deur hierdie skema. Indrukwekkend vir 2800 jaar terug!! Ons sien ook n graansilo uit dieselfde era wat behoue gebly het en n altaar.








Hierdie pragtige kerk staan op Berg Tabor waar Jesus en Moses en Elia aan drie dissipels verskyn het. Hier beleef ek hoe groot en almagtig God is. Die paadjie op is angswekkend! Maar ons is veilig op en af.






Hierdie is Israel se nasionale blom. Die hoep-hoep is hulle nasionale voel.



Jammer dat hierdie foto so donker en dof is, maar ek wou wys hoe elke woonstelblok in Tiberia sonpaneelgeysers op hul dakke het. Al die wit goedjies. Onooglik, maar effektief. Mens sien dit orals hier.



Hier ry ek en my oudste sussie, Corne, op n voorstelling van hoe n perde strydwa in die 9de eeu voor Christus kon gelyk het. 




Hierdie lugfoto het ons gekry van die internet af. Nou kan julle die paadjie sien waar ons Berg Tabor op is.





Berg Tabor. Berg van Verheerliking!


Hierdie herwinningshouers wat hulle gebruik, is vir my te pragtig. Iets wat ons ook kan begin.


No comments:

Post a Comment