Monday, February 12, 2018

Oom Karel Laff

Vanoggend is ek deur Velddrif toe vir die opening van ons jeugkafee in Lofdal, Noordhoek. ‘n Aandoenlike affêre, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer. Oppad terug, net voordat ek by Bokkomlaan se uitdraai verbyry, staan ‘n Oom langs die pad. Sy klere getuig van vele ontberings en ek stop...

Nou moet ek net eers sê - vir my Ma en vriende en familie wat drie dode sal sterf as hul hoor dat ek vreemde mans oplaai...  toe ek my motor koop in 2016, het ek vir die Here gesê hierdie kar behoort aan Hom en ek sal enigiemand oplaai wat binne Sy wil is, maar ek wil ‘n innerlike diepe vrede ervaar en ‘n ‘halo’ op die persoon se kop sien. Dis ons deal. Oom Kallie se kop het so gestraal dat ek bly was vir my sonbril.

Oom Karel klim in. Mik eers vir agter en ek moet hom vorentoe beduie. Hy het ‘n blou rugsak by hom. Eintlik is hy lankal nie meer blou nie. Hy spreek my aan op die ou apartheidstaal vir ‘n vrou en ek skud sy fyn, maer hand en vra dat hy my Hanlie noem. Hy ignoreer dit en miesies voort. Hy kom uit Tygerberg Hospitaal. Hy het kolonkanker al vir 30 jaar. Hy het gister met die staatsambulans gekom na Vredenburg hospitaal. Sy suster bly in Vredenburg. Toe hy daar kom, sê die bure sy het getrek. Vredendal toe, nadat hul Ma afgesterf het. Oom Karel was ses maande in Tygerberg. Hy het laasnag geslaap by die hospitaal in Vredenburg waar suster Smit haar oor hom ontferm het. Toe kry hy vanoggend ‘n lift tot by Velddrif saam met ‘n ander pasiënt.  

Ek vra of hy al iets geëet het en hy is amper te trots om nee te sê. Ons stop by ‘n padstal naby Goedverwacht en hy is geskok oor die min kleingeld wat hy vir my kan terugkry na sy ham-en-kaas toebroodjie en 330ml fanta. Sy kolon laat min kos toe en ek kan die pyn op sy gesig en in sy lyf sien. Hy is 59 jaar oud. Hy glo nie in ‘cameo’ en bestraling nie. Hy glo onwrikbaar in ‘n God wat kan en wil genees. Hy is oppad Piketberg toe om by Winkelshoek ‘n taxi te kry Ebenaezer toe. Sy jongste sussie bly daar en sal weer sy gewig opkry. Hy was 68 kg toe hy in is hospitaal toe en het vanoggend 45 kg’s gehaal by suster Smit. Hy sien uit na organiese pampoene en soet wortels wat sy sussie self groei. Uit my bybelskool dae onthou ek dat Ebenezer beteken ‘Rots wat red’.  Hy is nooit getroud nie. Die Ma van sy twee dogters is in Namibië en wou nie die drank los nie, toe los hy haar.  Oom Karel is ‘n vierregop mens wat weet waaroor die lewe gaan. Hy praat lustig oor die politiek en of Zuma nou vanmiddag sal loop en of Cyril ‘n plan het. Daar skort niks met sy brein nie. 

Ek laai hom af by Piketberg se N7 sirkel. My trane loop onkeerbaar. Ek het baie lanklaas soveel geleer in 64 km. Oom Karel, mag ons God jou nog baie lank spaar, mag Ebenaezer se organiese pampoene jou gesond maak en mag jou geloof jou red. Ek salueer jou!