Saturday, October 29, 2011

Deur die oë van 'n Ugandees






'n Jaar terug het ek nooit gedink my uitnodiging aan Badru Senkuba om in Suid-Afrika te kom kuier, sou opgeneem word nie. As ek maar geweet het...


Badru was die Ugandese engel wat die Here oor my pad gestuur het toe ek my been gebreek het op 16 Oktober 2010 tydens 'n "river rafting" uitstappie op die Nyl in Jinja, Uganda. As dit nie vir hom was nie...


En toe kom hy kuier. Van 18 September tot 10 Oktober 2011. Ek het so baie by hom geleer en dit was heerlik om ons land deur sy oë te sien. Badru is 27 jaar oud, 'n maatskaplike werker van beroep maar is ook 'n besigheidsman wat tweedehandse motors van Japan af invoer Uganda toe en verkoop. Hy kom van 'n goeie middelklas familie met agt kinders. Sy oudste broer bly in Johannesburg en hy het hom vier jaar laas gesien. Sy ouers is baie beskermend en het elke dag gebel om te hoor of hy okay is. Eers nadat ek met beide ouers en die helfte van die susters en broers gepraat het, was hulle gerusgestel dat ek mooi na hom sal kyk.


Badru het by my aan huis gebly en ek weet nie wat ek die meeste van hom waardeer het nie. Hy is soft spoken en baie dierbaar. Die een middag kom ek by die huis en vind hom met sy kamera voor my skottelgoedwasser besig om die ding van binne en buite af te neem. Dit is die beste uitvinding wat hy nog ooit gesien het. Hy het my twee keer deur die Hugenote Tonnel tussen Paarl en Worcester laat ry en seker 80 fotos geneem in die proses want ons infrastruktuur was vir hom aangrypend. Hy het nog nooit die see gesien nie. Uganda is omring deur land en het net die varswater Victoria meer. Die eerste naweek wat hy hier was is ons Darling toe na die blomme skou en daarna is ons Yzerfontein toe om vir hom die see te wys. Hy kon sy oë nie glo nie en ek het weer besef hoeveel voorregte ons het wat ek as absoluut van self sprekend aanvaar. Dit beteken ook dat hy nog nooit die son sien ondergaan het oor die see nie en dit was ook vir hom fantasties.


Ons kos was vir hom baie snaaks. Ek het my beste spyskaarte uitgeruk en hy het braaf aan alles geproe. Hy is 'n moslem en eet niks varkvleis nie, maar die enigste ander ding wat hy glad nie in sy maag kon kry nie was pannekoek. Hy het omtrent die bord alle kante toe gedraai en 'n halfuur spandeer om die pannekoek heen en weer op sy bord te stoot en toe ewe verskonend gese: You know Hanlie, I am so sorry, but I won't be able to eat this." Dit is te sag. Hy gril vir die tekstuur.


Ons was orals in die drie weke en al my pelle het gehelp om sy tyd baie lekker te maak. My opregte dank aan my familie, die Dieners, Jo, Elmarie, Elize, Teuns en Lizel, my bybelstudiegroep, Azanda en al die mense by my werk. Badru kon elke aand nie uitgepraat raak oor wat hy kon beleef nie.


Verder het ons baie gelag vir sy belewing van ons rasse kwessies. In Uganda het hulle 80 verskillende tribes wat almal verskillende tale praat. Badru praat Luganda. Nogal maklik om 'n paar woorde hier en daar te vang met geen klapklanke nie. Hy het twee van sy weke hier gewerk in Kayamandi by twee organisasies en vra my die een aand ewe uit oor die klapgeluide wat die Xhosas maak. Hy se: Hanlie, you know when they talk they say x, tj, ch en so klik hy voort... Do they also say Txjelephone? Ek kon maar net lag...


Die volgende Saterdag in die Strand het Jo hom leer swem en daar was onderafdelings van "hoe om jou asem op te hou onder water", "hoe om nie water te sluk nie", "hoe om onder deur 'n brander te duik" en vele meer. Na die tyd le ons op die sand en hy se: Hanlie you know these people that you in SA call black, they are very light. In my country I am light brown! Nou moet julle vir Badru ken om dit te waardeer. Hy is amper navy van swartgeid!



Aan die einde van die drie weke moes ek erken ek het miskien meer geleer as hy. Dit was heerlik om 'n nuwe kultuur te leer ken en om ons land deur hom te ervaar.