Monday, March 28, 2011

Breakfast in Bloemfontein






Ses van ons het Vrydag 25 Maart 2011 uit die Kaap gery Bloemfontein toe vir Kallie en Olivia se troue. Isak, Blyda, Jo en ek met my motor en Ulie en Inette met skoonma se wa. Ons is eers half 3 uit Stellenbosch uit en het in Colesberg geslaap. Dankie Blyda vir die muskietmasjientjie! Dit het ons gered.

Ons kosborg was Wimpy en na vele Wimpy's langs die pad moes Isak dringend rennies in die hande kry. Die reis was elke oomblik net so lekker soos die bestemming. Dit was heerlik om saam te kuier, baie te lag, stories te luister en te vertel en beter vriende aan die anderkant uit te kom.

Die tema van die troue was "vintage" en ons het groot gegaan. Die vraag is net waaroor lag Blyda so in die foto van Isak? Jo was mal oor die kussing in die Southern Sun, Isak was mal oor die rennies in die Memosa Mall, Blyda was mal oor nuwe plots uitdink in ons langverhaal in die motor en Hanlie was mal oor almal wat die naweek onvergeetlik gemaak het.

Dankie Kallie en Olivia dat ons julle groot dag kon deel.

Tuesday, March 1, 2011

Stilbaai branders en goeie vriende!


Omdat ek Desember nog op krukke was en nie eintlik kon swem by Stilbaai nie, moes ek net teruggaan voordat die somer verby is om in Stilbaai se branders te gaan swem. Daar is nie nog so 'n strand nie. Onvergeetlik. Vyf... nee ses van ons is Vrydag Stilbaai toe. Ek, Jo, Jan, Petrus en Surette en natuurlik Lomarie wat amper 1 jaar oud is.
Ons het als gedoen waaroor ons lank gedroom het... Gerus, geoefen, geswem, yahtzee gespeel, TV gekyk, saam met kitare gesing, nog Yahtzee gespeel, gebraai, gestap, voels gekyk en nog yahtzee gespeel.
Dit was heerlik en net te kort soos altyd, maar mens moet maar altyd ophou terwyl dit nog lekker is. Die weer was briljant. Windstil, warm met die mooiste somersaande. Ons het ook 'n tafeltennis toernooi gehou en niemand kon by Jo kers vashou nie. Hierdie tyd van die jaar is so lekker op Stilbaai. Dit is nie oorvol mense nie, maar met genoeg mense om die vakansie gees te kry. Jan het beide oggende gaan fietsry om te oefen vir die Argus! Die res van ons het verlore slaap ingehaal en Lomarie geniet. Sy is so ongelooflik cute en soet.
Aan almal wat saam was... dankie vir 'n briljante naweek. Dit is so lekker om goeie vriende, goeie kos en 'n goeie vakansieplek bymekaar te bring. Altyd 'n wenresep!
Jo onthou dit so...
"Die yahtzee koningin met haar yahtzees!
Die stilte van Stilbaai in die oggend - wel buite die huis.
Die ongelooflike branders met onophoudelike lekkerte.
Die geluid van 'n vuurtjie buite so tussendeur die ping pong houe.
Saam lag en die vriendelikheid van egte mense wat mekaar wil verstaan."
Johan Visagie