Thursday, January 5, 2012

Nog 'n nuwe opwindende jaar... 2012














Waar kry 'n mens 'n beter plek om die nuwe jaar te begin as in die Cederberge saam met goeie vriende? Ek is huiwerig om te sê goeie "ou" vriende, want op ons ouderdom word 'n verwysing na oud met groot omsigtigheid hanteer, maar julle weet wat ek bedoel... Vriende wat soos jou oudste en lekkerste jean aan jou sit en wat jou groot plesier verskaf.




En daar was ons... Lui lekker, rustig, vreedsaam en in goeie geselskap. Ons het die beste weer gehad, baie fietsgery vroeg in die oggend of laat in die namiddag. Die bye het ons wakker gezoem in die oggend vanuit die groot akkerbome waaronder ons tente en motors gestaan het. Die wat nie gaan fietsry het nie, het gelê tot die tarentale of die son jou uitgebak of geskreeu het. Die swembad het groot aftrek gekry en so ook die rivier. Vir die van julle wat nog nie by Nuwerust in die Cederberge gekamp het nie... kies jou staanplek versigtig. Daar is min met baie skaduwee en dis 'n noodsaaklikheid in Desembermaande in die Cederberge. Gelukkig het Kalla en Lean vroeer die jaar daar gekamp en het ons omtrent die heel beste staanplek gehad. (Dis ons geheim watse een dit is, anders kry ons hom dalk nie weer nie) Ons is daagliks met groot vernyn en afguns deur die ander kampers sonder skaduwee bejeen. Veral as ons ons kampbeddens en matrasse in die middae uitgedra het en 'n uiltjie kon knip onder die bome. (Akkerbome gee gom af hierdie tyd van die jaar en die motorwasplek op Stellenbosch het nie gedink dis vreeslik snaaks toe ek my motor by hulle aflaai Dinsdag nie.)

Kalla se verjaarsdag die 31ste was groot pret. Dankie aan Pieta wat Kalla moes besig hou op die fiets totdat die verrassingspartytjie en die koek klaar was.

Tussen die ysies by die winkel, die trekker met die wa en die "glow-in-the-dark-sticks" het ons die kinders nie baie gesien nie. Ons aande was gevul met braai en braai en nogmaals braai by kampvure en ure se gelag en gesels. Oujaarsaand was baie spesiaal. Louise en Steven (die eienaars) het baie moeite gedoen en 'n kampvuur, musiek en chinese lanterns gereel by die lapa. Ons was maar mens-sku en het by ons eie plek gebraai, maar die kinders was lapa-mal. Nadat die een lantern 'n stuk van die lusern land afgebrand het, was hulle versigtiger, maar dit was steeds 'n baie mooi gesig.



Ons het ons eie pret uitgedink om die ou jaar te groet en het ons fietse versier met gloeistokkies en 'n kort nagrit onderneem met kopliggies. Dit was heerlik! Die wind het ons pogings om die starlights aan te steek erg bemoeilik en ons het later so gelag dat ek dit baie lank sal onthou... "Merry Christmas!!!" Natuurlik moes Isak se fotos eintlik gehelp het om dit lank te onthou, maar daaroor sal ons nou niks hier sê nie.


Nou het die jaar al weer begin en ek sit by die werk en wonder hoekom die kampery so vinnig verbygegaan het. Ja en soos ek nou hier sit is ek op volspoed!


Aan Kalla, Lean, Isak, Blyda, Pieta, Elmarie en die kinders, baie dankie vir 'n heerlike vakansie! Dis altyd 'n plesier om saam met julle te kuier. Ons pas mekaar soos 'n ingeleefde leer handskoen. Mag 2012 vir julle baie vreugde en vrede inhou.