Sunday, December 26, 2010

Sewe sakke sout...



In ons gesin is vyf susters en 'n Pa en 'n Ma. Ons sewe het sewe jaar terug begin om gereeld vir mekaar briewe te skryf via e-pos. Ons stuur die briewe vir almal en soos jy tyd en lus het skryf jy wat aangaan in jou en jou gesin se lewe en stuur dit aan. Deur die jare het ek telkens die behoefte gehad om die briewe in boekvorm uit te gee, maar het nooit die nodige tyd gehad om dit te verwerk nie. Toe breek ek my been in Oktober 2010 en het al die tyd in die wereld om presies dit te doen. En nou is dit sewe jaar se briewe tussen 7 mense. My ma het die naam uitgedink: Sewe sakke sout...

Die briewe beslaan 298 bladsye en baie foto's van almal en alles. Dit is veral interessant om te lees oor die kinders. Twee nuwe kleinkinders is gebore in die sewe jaar, ons het 'n swaer aan die dood afgestaan en almal het omtrent verhuis, aangebou, van werk verander, geestelik gegroei en ook swaar tye beleef en dit alles word vervat in die briewe.

Mag elkeen van ons in die volgende sewe jaar aanhou om so naby aan mekaar te leef. Ek kan sonder baie dinge klaarkom (selfs sonder 'n been vir 10 weke), maar sonder my familie... Nooit nie!

Wednesday, December 8, 2010

Blink kant bo!!!


Vandag (8 Desember 2010) is dit presies 7 weke nadat ek geopereer is op 20 Oktober 2010. Ek was gister terug Dr toe in Stellenbosch om te laat plate neem om te sien of my been aangegroei het en prys die Here! Dit het 100% aangegroei en alles aan die breuk is reg en heel en ek kan begin om sonder die krukke te loop en ook weer motor bestuur. Die enigste probleem was die swelling in die been waarmee die Dr nog glad nie gelukkig was nie. Hy stuur my toe vir 'n sonar en wraggies is daar 'n bloedklont in die waai van my been. Ek word toe dadelik opgeneem in die hospitaal en kry 'n baie pikante wit kous om aan te trek om die swelsel te keer en te voorkom dat verdere bloedklonte vorm. Nou ja, ek was teleurgesteld want ons was oppad Stilbaai toe, maar wat kon ek doen?
Nou is dit 9 Desember 2010 en ek het vanoggend vir die eerste keer stort toe en terug gestap sonder my krukke! Vir die van julle wat weet hoe lief ek vir stap en bergklim is, sal julle besef dat dit vir my baie beteken het. Ek voel sommer vry en lus vir die lewe. Ek drink nou bloedverdunners en het al sedert 5hr vanoggend (dis wanneer hulle jou wakker maak in die hospitaal) alles gelees wat ek kan kry op die internet oor die situasie. Ek sal vir die volgende ses maande op meer veilige plekke moet fietsry en moet sorg dat ek nie stamp of seerkry nie.
Wat ek eintlik hier wil tik is wat ek die afgelope sewe weke geleer het.
1. Daar is altyd iets goeds in enige slegte ding wat met jou gebeur. Saam met die feit dat ek my been gebreek het, het ek soveel goeie goed ontdek. Ek het nuwe vriende gemaak, waarvan Budru Senkuba van Uganda een is.
2. Ek het die geleentheid gehad om lank by my pa en ma te woon soos toe ek 'n kind was en dit was heerlik en 'n genadetyd. Ek het weer besef mens kan nie sonder vriende en familie lewe nie. Vriende, familie en 'n goeie mediesefonds! Onontbeerlik!
3. Ek het reeds vroeg in die sewe weke besef daar is baie min mense wat op my vlak werk wat drie maande "sabaticle" in hul skoot kry en ek het elke oomblik daarvan waardeer en goed gebruik.

4. My vertroue in God is soveel versterk omdat ek altyd geweet het dit is in Sy aard om getrou te wees. Hy kan nie anders nie, maar om dit elke dag aan jou bas te voel, is geloofsversterkend. Hy is in beheer. Hy weet wat Hy doen. Hy is God. Laat Hom doen soos Hy die beste weet.
5. Ek het altyd geweet ek het deur die genade, 'n positiewe ingesteldheid oor die lewe, maar as mens getoets word deur omstandighede dan kan mens dit oefen. Ek stem saam met Abraham Lincoln: "Your own resolution to succeed is more important than any other one thing." Ek het weer geleer 'n mens het 'n keuse. Geen omstandighede is in ditself goed of sleg nie. Jy besluit of jy dit gaan sien en beleef as goed of sleg. Ek sit bv nou in Medi Kliniek in Stellenbosch. Ons kry fantastiese kos. Beter as wat ek by my huis vir my sou maak, maar die persoon langs my kla steun en been. Dieselfde kos, verskillende ingesteldhede!
Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Maar vandag is goed. Gister was goed en more sal goed wees ongeag wat dit inhou, omdat ek die lesse hierbo geleer het en in God se hand veilig is.