Saturday, March 31, 2018

San Carlos de Bariloche: fietstoer na Colonia Suiza

Nou kyk! Dis met baie lang tande dat ons vanoggend aanmeld vir ontbyt. Ons is moeg. Gister was ‘n baie lang dag om die Andesgebergtes te kruis. Ons het baie laat in Bariloche aangekom. Ons is nou weer in Argentinië nadat ons net anderkant Puelle oor die grens is vanaf Chile. As my selfoon se spasie min raak, vra hy of ek wil ‘back up to clear space’. My brein voel vanoggend so. Ek wil stoorplek soek vir al die ongelooflike ondervindings wat ons gehad het, dit verwerk, wegpak sodat daar plek is vir meer. Op my wêreldtoer in 2012 het ek na elke tien dae ‘n rusdag gevat. Maak nie saak hoe toerfiks ‘n mens is nie, ‘n stoordag is onontbeerlik.
Maar...
Dis ons laaste voldag op die toer voordat ons die terugreis begin via Buenos Aires en Sao Paulo.  Maar die weer is uit die boeke uit en ons laat waai.
09:00 kry ‘n Argentyn met die naam Daniël de Vries ons by ontvangs en ons vertrek op ‘n bergfiets uitstappie. Hy is so oud soos ons met elle lange bene en redelike engels. Ons voel dadelik tuis. Ons begin op die wal van die Lake Gutierrez net buite Bariloche en ry 22 km op single track en grond paaie na ‘n outydse Europese dorpie Colonia Suiza. 

Daar aangekom gee hy vir ons die opsie om die fietse te hou vir die dag en verder rond te ry, maar ons het gedoen wat ons wou doen. Ons loop rustig tussen al die stalletjies deur en koop middagete terwyl hy terug fiets en die kar gaan haal. 

    

Ons fiets langs die Moreno lake. Spieëlglad.


   





  
Hierdie is die grootste ski-oord in die suidelike halfrond. 


  

Ons ry vandag meestal in Nahuel Huapi nasionale park.
Daniël de Vries, ons Argentynse gids met die Afrikaanse naam.



Op die oomblik lê ons op ons beddens terug in die Kenton Palace Hotel in die middedorp en kry ‘n tweede asem voordat ons die strate vat. Bariloche is veral bekend vir hulle sjokolade fabrieke en winkels. Gisteraand was hier ‘n vreeslike camotion in ons straat voor die hotel. Vanoggend hoor ons by Daniël dat Bariloche gisteraand ‘n nuwe wêreldrekord opgestel het met ‘n 200 meter lange sjokolade stafie.

Colonia Suiza lewer interessante middagete op:

Rasberry bier met ‘n skaapvleis taco.

‘n Wafel wat ek en Sonja deel met Dulce de Leche aan die een kant. Dit is gekookte kondensmelk wat hulle hier by alles eet en morning, noon en night. En room met bessies aan die anderkant. Dis maar goed dat ons gefiets het ook. 

Hierdie noem hulle Curanto. Dit is potjiekos wat hulle in ‘n gat in die grond gaarmaak onder blare. Maar die spulletjie het net te vuil gelyk om ons lus te maak om daaraan te proe en nogal 250 pesos. Daniël vertel ons dat Argentinië se inflasie 25 % is per jaar.

Friday, March 30, 2018

Kaalvoet oor die Drakensberge

Min het ons geweet dat ons mooiste dag op die toer nog voorlê...

Emerald lake op die Andean Crossing tussen Puerto Varas in Chile en Bariloche in Argentinië. En die water is werklik emerald groen.
Ons toergids,Victoria, vertel die storie dat Theordore Rooseveldt (VSA president van 1901-1909) in 1916 die roete oor die mere met ‘n bootjie gedoen het. Toe het dit sewe dae gevat. En dat hy dit so mooi gevind het dat hy daarna aangedring het dat die Chileense regering die roete as bewaringsgebied vestig en as toeriste roete bedryf. Wat ‘n visionêr.

Vandag lyk die roete so:



  
Die Catamaran waarmee ons Emerald meer gekruis het in 1 uur en 45 minute.



    






    

Ons kruis vandag die Andes gebergtes op ‘n baie spesiale manier. Ons vaar op drie bote en ry op vier busse op ‘n 11 ure uitstappie. Dis beslis nie die vinnigste manier om in Argentinië te kom nie, maar sekerlik die mooiste.


    



 

    



Vulkaan Osorno wys vandag net af en toe sy gesig.

 


Petrohue (uitgespreek as Petro-wê) valle in die natuur reservaat 20 km buite Puerto Varas.

Op die oomblik is ons in Puella (uitgespreek as Poe-ja). Hier bly net 120 mense. Ons sien die mooiste blomme orals in Chile. Krismisrose soos jy nie kan glo nie. Ek wys ‘n paar hier.


Dit is immers Maart.




Thursday, March 29, 2018

Laaste aand in Puerto Varas


Ek weet julle gaan dink ek het met die fotos gepeuter. Geen sonsondergang kan so lyk nie. Wel, dis net die Here wat sulke kuns kan bewerkstellig.

Ons stap 17:00 weer terug dorp toe van ons Kalfu gastehuis af. Dit is ‘n windstil 16 grade celsius en ons is kinderlik opgewonde. Almal praat van die mooi sonsondergange oor die Llanquehue meer met die Osorno, Calbuco en Tronador vulkane. Almal nog aktief.

Ons drentel deur die dorpie en vergaap ons aan al die honde, toeriste, skoolkinders en oulike winkeltjies.  Later gaan soek ons aandete by La Jardinera. Puerto Varas is bekend vir seekos en ek vat ‘n gereg met bietjie perlemoen, cerviche, calamari en garnale. Vingerlek-lekker!      


En toe die sonsondergang...  en net toe ons reeds elkeen 100 fotos geneem het en uitasem staan van mooigeid, kom die amper-volmaan op oor Vulkaan Tronador in die verte. Toe neem ons nog ‘n 100 elk! Ons is dan nou hier. Ek het nou regtig moeite om die ses mooistes te kies om vir julle te wys.  Wat ‘n voorreg. Mag Paasfees vir elkeen van ons ‘n sonsondergang wees van ons sondeskuld in Jesus se genade en mag die maan van God se ewige liefde en genade ook vanaand opkom oor jou Tronador. Waar jy ookal is. Sonder wie jy ookal is. In watse omstandighede jy ookal is. God is gister, vandag, môre en tot in alle ewigheid die reeds triomferende Koning. Hy is gekruisig. Hy het opgestaan. Hy leef. En ons met Hom.

 
Tronador Vulkaan met die maan skuins links bo hom.

       



         














Puerto Varas: fietsry om Llanquihue meer


Puerto Varas is nog ‘n verrassende mooi plek in Chile. Dit lê langs die Llanquihue (uitgespreek as Jan-kie-wê) meer. Dit is die tweede grootste meer in Chile en beslaan 860 vierkante kilometer. Dit is 317 meter diep en ook waar die naam vandaan kom, want Llanquihue beteken versteekte diep water in die inheemse taal. Die strande langs die meer is donker grys tot swart as gevolg van die vulkane wat orals hier voorkom.

  


Hierdie is op hul voordeur geplak en beteken: burn fat not benzine 😂

    
Ons kry 27,5 inch cannondale . Myne is single speed voor! Nuwe respek vir jou gekry Pieta Swanepoel!  Teen elke bult hoor ek net hoe Sonja ratte oorsit en ek het nie ratte nie! 


Die mooiste vulkaan is Osorno met sy gletser kappie. Hy staan 2652 meter hoog en het al 11 keer uitgebars in die geskiedenis, maar nie onlangs nie.  Die laaste uitbarsting was in 1869.  Maar sy boetie langsaan, Calbuco, se laaste uitbarsting was sommer so onlangs soos 26 Mei 2015.

 
Ons geduldige gids, Arnesto Palm Del Curto.

    


Die houtindustrie is orals. Hulle gebruik veral Alerce hout vir konstruksie en baie mooi kunswerke wat oral langs die pad sigbaar is. Ons fietsroete isvanoggend 31 km en ‘a little bit hilly’, maar regtig pragtig. Ook oppe en affe en off road en tot ‘n stuk single track. Die drywer, Francesco, is ‘n professionele downhiller wat meer weet van Greg Minnaar as van Nelson Mandela. 


 
Ons fietsry begin in die dorpie Frutillar (Fru-ti-jaar) 30 km noord van Puerto Varas en vandaar ry ons suid langs die meer tot by Llanquihue dorpie en terug tot by Puerto Varas. Arnesto het ‘n goeie gesindheid. Elke keer as hy omkyk het ek en Sonja weer gestop vir ‘n foto.   

   


Tussen die bote en die vulkaan Calbuco, is salmon plase op die water. Puerto Varas word beskou as die hoofstad van Salmon in Chile. Ons het dit gisteraand uitprobeer en kan getuig van heerlike pienk salmon.  


 

Ons ry deur landelike gebiede met baie skape, beeste en voëls. Ons hoor ook baie paddas lustig sing.

Culbuco vulkaan in die agtergrond. 
  

 


 

  
Die helder water van die meer. 
Tussendeur vra ons baie vrae oor Chile. Hier is geen misdaad nie en die werkloosheidsyfer is net 7%. Maar hier is meer honde as mense.

Frutillar dorp.

  
Ons beginpunt! Dit was ‘n heerlike dag vol van mooi prentjies, lekker nuwe dinge sien en hoor en baie lag. 

Ek sal dit vir enigeen aanbeveel.



Na die tyd kry ons heerlike middagete by hul kantoor.