Friday, March 23, 2018

Los Glaciares National Park, El Calafate, Patagonia: Perito Moreno Glacier - sprakeloos gelaat

Toe ek besluit het om Patagonie toe te kom, het ek vermoed dat dit my asem kan wegslaan. Alles wat ek op google kon bekyk, het my vermoede versterk, maar nêrens het iemand my gewaarsku dat Perito Moreno gletser my sprakeloos kan laat nie. My trane het vrylik gevloei. Dis iets wat ek net nie kan beskryf nie. Te groot. Te veel van die aangesig van God. Ek sal nog lank soek na woorde...

Maar laat ek probeer.

Die Los Glaciares Nasionale Park is 78 km van El Calafate.  Vanoggend 07:30 word ons opgetel deur die ekskursie-maatskappy. Hulle is uitstekend en vandag het gevloei soos ‘n geoliede masjien. Oscar Torres kry ons per bus en vat ons Nasionale Park toe.  Daar ry ons in tot by ‘n hawetjie op die sytak van die Argentino meer en vaar vandaar 20 minute op ‘n boot tot baie naby en langs die sykant van die gletser.  Daar klim ons af en begin stap deur ‘n stukkie bos tot op die gletser, waar ons elkeen toegerus word met crampons (yster platvorms met groot tande wat jy onder jou skoene aanhak om op die gletser te kan loop) en vandaar vat ons die pad. 90 minute op die mooiste gletser wat ek nog gesien het. Ons het deur die genade en as antwoord op gebed die mooiste weer en geniet elke oomblik. Ons is gepantser met winddigte baadjies, handskoene, beanies, sonbrille en sonblok.  Dit word een van die beste dae wat ek nog ooit beleef het.

Die wifi hier in ons gastehuis is nou so stadig en ek sukkel om die fotos op google webalbum gelaai te kry sodat ek dit op my blog kan gebruik. Julle sal asb geduldig moet wees.  Glo my die wag sal die moeite werd wees!
     
Nadat ons ook ‘n grot onder die gletser besoek het en whisky met gletser-ys gedrink het teen die einde, kry ons ‘n uur vryetyd om ons lunch-box te eet wat ons vanoggend by die hotel ingepak het en om 14:15 tel ‘n ander boot ons op en vaar ons terug na die hawe. Vandaar vertrek ons met ‘n bus na die gletser balkonne vanwaar mens die vooraansig van Perito Moreno baie mooi kan sien. Ek neem 1000 foto’s. My selfoon is toe lankal pap en ek skakel oor na my lumix.  Elke keer dink jy jy het nou alles gesien en dan kom die son weer deur die wolke en verander die hele gesig voor jou. Dan neem ons nog tien fotos. Ons is dan nou hier.  Julle! Ek weet nie op wie se bucket list is Patagonie nog nie, maar ek sê vir julle... Stop alles. Gebruik jou kinders se universiteitsgeld as dit moet, maar kom! Dit is onbeskryflik fantasties.

Perito moreno gletser was onlangs in die nuus toe die ysbrug inmekaar geval het.  Die oorblyfsels is nog duidelik sigbaar. Wat gebeur is dat die gletser 25 cm per dag beweeg. En die tong van die gletser gaan dan sommige jare vas teen die oorkantste wal en blok die water tussen die groot deel van die meer en ‘n kleiner deel. Dan styg die water in die kleiner meer totdat dit 15-18 meter hoër is as aan die anderkant en dan begin die gewig van die water te veel word vir die ysgletser en vind ‘n pad deur die ys.  Sodoende vorm ‘n deurgang met ‘n ysbrug bo-oor en later dan stort die hele besigheid inmekaar onder groot gerammel. Dit het op 13 Maart hierdie jaar gebeur. Dit moes ‘n ongelooflike gesig gewees het. Ons het vandag ook vele kere die geroggel van die gletser gehoor en stukke sien afbreek en val in die gletsermeer. Dit is aangrypend.  Klink elke keer soos ‘n groot aardbewing.

Die stap op die gletser met die crampons was die lekkerste.  Ek het net weer besef dat met die regte toerusting is alles moontlik. Maar die gletsergrot diep onder die gletser, was asemrowend.  Ek het die mooiste video daar geneem wat ek sal probeer laai op die blog of facebook.

Ons is stil tevrede vanaand. Diep onder die indruk van hoe groot ons God is.

Mag jy ook vandag iets sien en beleef wat dit vir jou wys.

Dankie vir almal wat lekker saamtoer en dankie vir almal se terugvoer. Dit is heerlik!

        
Dis eers as daar ‘n boot verbykom, dat ‘n mens perspektief kry en besef dat die yswand gemiddeld 74 meter hoog staan. En dit is net die deel wat bo die water uitsteek. Daar is nog 170 meter onder die water. Die gletser is 5 km wyd en beslaan ‘n area van 250 vierkante km. Ek het sommer vanaand langer gestort nadat ek gesien het hoeveel water hulle hier het.
  

    
Skotse whisky op gletser-ys.

  


Ek probeer later nog fotos stuur. Ons gaan nou eers dorp toe stap vir iets om te eet.

Nou is dit meer as ‘n uur later. Die lamsbredie by La Zorro was uit die boonste gestoeltes.
Ek probeer nog ‘n paar fotos laai.
  

 

  

 

  
Op hierdie foto kan ‘n mens mooi sien waar die ysbrug inmekaar gestort het op 13 Maart 2018.


 





No comments:

Post a Comment