Thursday, March 22, 2018

Tierra del Fuego (vervolg)

Ja, julle is reg. Dis 04:31 en ek is al weer wawyd wakker.  Ons het al ‘n groot skrik gehad vanoggend.  Om 02:15 roep Sonja skielik: ‘Hanlie! Is dit nie al kwart oor sewe nie!’ Ons taxi kom 07:00!  Ek staan met een beweging langs my bed. Los ‘n kort woordjie en gryp my selfoon. Nee, dis 02:15. Kan jy jou indink watse chaos dit sou wees?  Sjoe. Ons moet nog pak en alles regkry. Ons vlieg net na 09:00 na El Calafate.

 
Hierdie is Empanades. Dit is ‘n tipiese tradisionele gereg van Argentinië. Amper soos ‘n pastei in SA. Die een onder was spinasie en kaas en bo was hoender. Sonja het ‘n lamsvleis een gehad waarvoor sy moes blêr vir die kelnerin om te verstaan.   


Ek wil net nog ‘n paar goed vertel oor gister, want sodra die wiele rol vandag, is gister se detail vaag. Ons het die Calafate bessie geproe waarna El Calafate vernoem is. Dis ‘n barberry in engels. Lekker suurderig vir ‘n goeie konfyt.
  
Die bessiebos het baie dorings, as jy eers daar verby is, is die bessie self ‘n groot beloning. 


  
 
Sonja oes bessies. 


Die trein na die einde van die wêreld. 

  
Ons toermaatskappy. Gebruik hulle gerus. Hulle is uitstekend. 

Ek het hierdie van google af gekry om vir julle te wys presies waar die Beagle Channel is. Dit is vernoem na HMS Beagle wat die skip was wat gebruik is toe die Britte die kanaal ontdek het. 

Ushuaia! 

  
‘N nuwe soort earl grey tee vir my versameling! 

Ons hotel in Ushuaia. 

Die inheemse bevolking wat oorspronklik in Ushuaia gebly het is die Yaghan of ook genoem die Yamana. Hulle het heeltemal uitgesterf nadat die Spaanse hier aangekom het en siektes saamgebring het soos pokkies. Carla het ons baie van hul leefwyses vertel. Dit moes so moeilik gewees het om hier te oorleef. Hulle was nomades wat op kano’s rondgetrek het en het geleef van bessies, vis, mossels  en alles wat hulle hier kon vang.  Een van die goed wat my baie lank sal bybly is dat hulle hul kinders eers op hul tweede verjaarsdag ‘n naam sou gee, want die kans dat jy twee word en oorleef is so min.   

Carla maak ook seker dat ons weet daar is ook ‘n ander kant aan Ushuaia. Hier bly 80 000 mense en dit is meer ‘n industriële gebied as ‘n toeriste gebied. Moeilik om te glo. Dertig jaar terug wou niemand hier bly nie en toe het die regering ‘n belastingvrye area hiervan gemaak en nou stroom die besighede hierheen. Darem ligte industrie sonder besoedeling. Ek was verbaas om te hoor dat die meeste hiervan is elektroniese aanmekaar sit van goed. Blykbaar word elke elektroniese ding waaraan jy kan dink van ‘n selfoon tot ‘n yskas of lugverkoeler, hier aanmekaar gesit en dan verskeep.  Hier is ook werkloosheid, armoede, lae koste huise en groot uitdagings met dienslewering. En snaaks genoeg ook inkommers en plakkers.  Maar nie een stukkie diefwering voor enige vensters nie. 


No comments:

Post a Comment