Thursday, March 29, 2018

Puerto Varas: fietsry om Llanquihue meer


Puerto Varas is nog ‘n verrassende mooi plek in Chile. Dit lê langs die Llanquihue (uitgespreek as Jan-kie-wê) meer. Dit is die tweede grootste meer in Chile en beslaan 860 vierkante kilometer. Dit is 317 meter diep en ook waar die naam vandaan kom, want Llanquihue beteken versteekte diep water in die inheemse taal. Die strande langs die meer is donker grys tot swart as gevolg van die vulkane wat orals hier voorkom.

  


Hierdie is op hul voordeur geplak en beteken: burn fat not benzine 😂

    
Ons kry 27,5 inch cannondale . Myne is single speed voor! Nuwe respek vir jou gekry Pieta Swanepoel!  Teen elke bult hoor ek net hoe Sonja ratte oorsit en ek het nie ratte nie! 


Die mooiste vulkaan is Osorno met sy gletser kappie. Hy staan 2652 meter hoog en het al 11 keer uitgebars in die geskiedenis, maar nie onlangs nie.  Die laaste uitbarsting was in 1869.  Maar sy boetie langsaan, Calbuco, se laaste uitbarsting was sommer so onlangs soos 26 Mei 2015.

 
Ons geduldige gids, Arnesto Palm Del Curto.

    


Die houtindustrie is orals. Hulle gebruik veral Alerce hout vir konstruksie en baie mooi kunswerke wat oral langs die pad sigbaar is. Ons fietsroete isvanoggend 31 km en ‘a little bit hilly’, maar regtig pragtig. Ook oppe en affe en off road en tot ‘n stuk single track. Die drywer, Francesco, is ‘n professionele downhiller wat meer weet van Greg Minnaar as van Nelson Mandela. 


 
Ons fietsry begin in die dorpie Frutillar (Fru-ti-jaar) 30 km noord van Puerto Varas en vandaar ry ons suid langs die meer tot by Llanquihue dorpie en terug tot by Puerto Varas. Arnesto het ‘n goeie gesindheid. Elke keer as hy omkyk het ek en Sonja weer gestop vir ‘n foto.   

   


Tussen die bote en die vulkaan Calbuco, is salmon plase op die water. Puerto Varas word beskou as die hoofstad van Salmon in Chile. Ons het dit gisteraand uitprobeer en kan getuig van heerlike pienk salmon.  


 

Ons ry deur landelike gebiede met baie skape, beeste en voëls. Ons hoor ook baie paddas lustig sing.

Culbuco vulkaan in die agtergrond. 
  

 


 

  
Die helder water van die meer. 
Tussendeur vra ons baie vrae oor Chile. Hier is geen misdaad nie en die werkloosheidsyfer is net 7%. Maar hier is meer honde as mense.

Frutillar dorp.

  
Ons beginpunt! Dit was ‘n heerlike dag vol van mooi prentjies, lekker nuwe dinge sien en hoor en baie lag. 

Ek sal dit vir enigeen aanbeveel.



Na die tyd kry ons heerlike middagete by hul kantoor. 


No comments:

Post a Comment