Tuesday, March 20, 2018

Buenos Aires via Sao Paulo

Dis 04:30 en ek sit kiertsregop op my bed in die Rochester Concept Hotel in Buenos Aires. Jetlag is ‘n rêrige ding. Ek en Sonja het doodmoeg gisteraand hier aangekom na meer as 24 uur in transit en besluit om agt ure te slaap. Wel, my klok is nog op SA tyd en na 4 ure was ek helder wakker. Maar nou het ek tyd om te vertel!

Argentinië is vyf ure agter SA. Dis my tweede besoek aan Buenos Aires en my indrukke is steeds dieselfde. Dis is ‘n vriendelike skoon stad met vinnig-lopende borrelende mense. Aldo het ons op die lughawe gekry met sy taxi-diens en volgens hom is dit die paradys. Ons wonder waarmee hy dit vergelyk en hoeveel ander stede hy al besoek het, maar dit is so ‘n mooi gesindheid om so tevrede te wees met wat joune is.

Maar ons reis gister was nie altyd ‘n paradys nie.  Nie naastenby nie.

Hier is die stuk wat ek op vlug LA8965 gesit en skryf het. Met ‘n baie donkerder gemoed:

19 Maart 2018
De Ja Vu

As ek nou al ooit in my lewe de ja vu beleef het, was dit vanaand.  In Oktober 2016 is ek en Lean Heunis deur Sao Paulo lughawe oppad Buenos Aires toe en het ons  ons vliegtuig gemis, want die Aerolinas Argentinas vlug van Johannesburg na Sao Paulo was laat en daarby is dit onmoontlik om haastig deur hierdie lughawe te kom. Niemand hier praat engels nie. Net Portugees en Spaans en hulle is stom verbaas as jy nie kan verstaan  nie.  Verder is hul borde uiters verwarrend en is die lughawe so groot dat ‘n mens meer as 5 km moet aflê tot by jou volgende vlug. Selfs al wil jy graag in transit bly.  Dit wat op die grond afspeel is net nie wat teoreties deur die reisagent beplan en voorsien word nie.  

Ek is daardeur, ek weet dit is onmoontlik en daarom het ek dadelik ons reisagent gebel toe ek sien ons vlug uit Johannesburg land 17:30 (Braziliaanse tyd) en die  volgende vlug vertrek 18:30.  Sy laat weet in skrif dat sy weer by hulle seker gemaak het en dat dit reg is en moontlik. Sal nie ‘n probleem wees nie, skrif sy.  Groot probleem.


Toe die oom agter die toonbank in Johannesburg vir ons sê hy kan nie vir ons instapkaarte uitreik vir die Sao Paulo na Buenos Aires vlug nie, moes ons al geweet het. Toe hy op sy ouma se graf sweer dat ons tasse deurgeboek is Buenos Aires toe moes ons reeds onraad geruik het. 

Maar nee, ons gemoed is vol vreugde. Liezl sê dis moontlik, LATAM het bevestig.  Ons vra ook die lugwaardin en sy belowe daar is grondpersoneel net sodra ons van die vlug afklim.  Ons sien hulle nou nog.   Wel, 7731 treë en nagenoeg 5 km se hard hardloop met handbagasie by roltrap op en roltrap af, vervoerbande heen en weer en hysbakke op en af, is ons deur ‘last call’ by vlug LA8965 hek 236 in  en sak ek papnat gesweet, maar uiters dankbaar in die middelste sitplek van ry 15 neer.  Ek grawe ‘n suurlemoenlappie uit my tas en probeer red wat daar te redde is.  Die CK One wat ek op OR Thambo gespuit het, is lank reeds vergete.  Ek probeer miskyk dat die man regs van my sy rug op my draai en na die paadjie beur.  Ek hoop maar net ons paaie kruis nie weer nie. (Later gesels ons lekker. Hy is ‘n sakepersoon van Brazilië wat werk vir Volkswagen. Sy naam is Rabelo. Hy kom Buenos Aires toe vir twee vergaderings. Sy dogter was al in Kaapstad)

Twee ander mense het ook gehardloop vir die vliegtuig en dit nie gemaak nie.  In 2016 het dit ons ‘n ekstra dag gekos oppad terug en ‘n nag in ‘n shaky hotel aan die verkeerde kant van Sao Paulo.  Hierdie keer maak ek en Sonja dit met ‘n halwe van ‘n enterprize polonieskil.  Anders was ons dag in Ushuaia daarmee heen.  

Maar dit bly sleg om so te moet hardloop deur ‘n lughawe. Na dese oorweeg ons ‘n inskrywing vir Amazing Race.  En dit op ‘n geswelde been na ‘n 10 uur 40 minute vlug. Nee my reisagent uit Langebaan.Jy sal moet weer dink en oor dink en dit volgende keer anders doen.


Sonja sit twee plekke regs van my aan die oorkant van die paadjie en slaap.  Ons reis het vanoggend (SA tyd gisteroggend) 03:15 in Piketberg begin. Ons wen 5 ure oor die lengte lyne en dit is nou weer 18:39 toe ons hier opstyg.  Wat ‘n dag.


No comments:

Post a Comment