Monday, March 26, 2018

Mirador Base De las Torres, Torres del Paine National Park, Patagonia, Chile

 

Vandag was een van daardie dae waaroor ‘n mens lank droom, maande aan beplan en selfs dan nog jou nie kan indink hoe onbeskryflik dit kan wees nie.  Dit was tough! Laat niemand jou anders vertel nie. Ons moes 19 km aflê terwyl ons 1000 meter in hoogte styg. Dit klink nie nou na baie nie, maar dit het 619 vloere opgelewer op my fitbit en 48056 treë. Meer as wat ek nog ooit in een dag gegee het.  Ek het dit afgeneem net omdat ek dink Discovery sal my nie glo nie.  Ek wonder of hulle dubbele pryse toeken in ‘n week? Ek voel vanaand of ek ‘n Kuaui ontbyt en ‘n Sterkinekor popcorn verdien het, maar dit is maar net ek.

    
Terwyl ons by die torings is waai die wind so sterk dat ons moet klou om hierdie foto geneem te kry. Maar niemand het gesê dit is maklik om ‘n model te wees nie.
Ons het verbasend lekker geslaap in die dormatry Zamatra in die Torres Refugio in Torres del Paine Nasionale Park. Gisteraand toe ons gaan lê klap die deure onophoudelik en die oom langsaan nies verskeie kere en ons dink: o gits, hier slaap ons niks nie, want die mure is papierdun en mens hoor elke woord.  Wel, binne tien minute was almal tjoepstil en het ons dwarsdeur geslaap sonder moeite. Vanoggend sien ek daar lê ‘n man in die sitkamer op die grond. Hy het seker sy kamermaats wakker gehou met ‘n snorkie of twee.
Ontbyt gebeur om 07:00 en ons is aangenaam verras met warm toast, roer-eier, kaas, ham, yoghurt, pappe, koffie/tee en lemoensap.  Hulle voer meer as 100 mense en is goed georganiseerd.  Ons het ook ‘n voucher vir ‘n lunchbox (verskoon die engels) en haal dit af by die venstertjie langsaan, waar ‘n Chileen baie trots lyk op sy handewerk.  En was dit nie heerlik nie!

Die pad op na die drie graniet-torings is pragtig en bestaan uit soveel verskillende lae van plantegroei wat om elke draai verander. Dit is ook herfs hier en dit verleen ‘n pragtige rooi aan die stap.

      
Hierdie klein uiltjie kry ons langs die pad vanoggend. Dit is ongelooflik hoe mak alles hier is. Ons sien ook hase en baie voëltjies (veral hulle weergawes van bontrokkies, spreeus, mossies, streepkoppies, caracaras en vele meer). 

    
Kyk hierdie kunswerk wat iemand begin het deur klippies in die ou boomstomp te rangskik.


    
Herfs in die vallei.


    

  

  
Ons is yskoud en papnat toe ons 16:30 terugkom by die Refugio. Maar diep tevrede. Ons het 4 en ‘n half ure opgestap, ‘n halfuur bo vertoef en vier ure teruggestap.  Dus 9 ure uit en tuis aan ‘n roete wat die boeke reken tussen 8 en 10 ure moet neem. Ons is gemiddeld. Maar ek voel nie vanaand gemiddeld nie. Ek het ‘n uitsonderlike voorreg gehad om ‘n uitsonderlike plek te sien saam met uitsonderlike mense, in uitsonderlike weersomstandighede. Dit het uitsonderlike inspanning geverg. Ek het uitsonderlik baie pynpille gedrink om dit te kan doen (as my dokter hier lees, ek is besig om uitsonderlik baie water te drink om dit deur my niere te kry).  Maar meer nog: ek was weer diep onder die indruk van watter uitsonderlike God ons dien!




No comments:

Post a Comment