Sunday, March 25, 2018

Torres Del Paine Nasionale Park, Chile

Die kamer wat ek en Sonja deel in Puerto Natales is sover die heel beste een met ‘n dubbel en ‘n driekwart bed waarop ons heerlik slaap. Die stort is ook uit die boonste rakke. Ons staan 06:15 onder in receptiones met al ons goed, want ons moet 06:30 vinnig ontbyt eet. Ons papier sê ons word 06:50 opgetel. Ons toer word gereël deur LAT.  Hulle hoofkantoor is in London, maar daar is ook ‘n kantoor in Langebaan. My gunsteling reisagent, Elzanne Richter, het ons soontoe verwys, want hulle doen Suid-Amerika. Ons het ook in 2016 Peru deur hulle gedoen.  Die lekkerte van LAT is dat hulle regtig agtermekaar is en altyd betyds.  Alles is ook reeds vooraf betaal en jy kry vouchers vir alles vooraf en gee dit net in soos jy vorder. Vanoggend was weer so. Ons het skaars begin ontbyt eet, toe kom sê die Oom ons lift na die busstasie is hier. Die Oom maak vinnig ons flessies vol kookwater (aqua calientes - ons spaans vorder) en ons gryp ‘n broodjie.  Ook vir middagete. Laasgenoemde het ham en kaas op. Komende van SA bejeën ons alle ham met agterdog, maar vanoggend was daar nie alternatiewe keuses nie en ons druk deur.

07:20 vertrek ons bus vanaf Puerto Natales na Torres del Paine Nasionale Park. Ons gaan in by die besigste hek, Lunga Amarga waar ons ‘n verpligte video kyk oor die reëls van die park en daarna vat ons ‘n ander bus na Refugio Torre Central waar ons vanaand slaap. Ons kan eers 12:30 inboek en na ‘n teetjie besluit ons om ‘n dagstap te doen na die Nordernskjöld Meer  om ons broodjies op ‘n aangrypende plek te gaan nuttig. Dit was heerlik! Ons is so geseënd met goeie weer!

Kyk net hoe mooi is dit hier:

      

 


     

 

    
Die Nordernskjöld meer.

 

     

 

    
Middagete

 

     

 

     

 

    
Ons dormatry waarin ons vanaand slaap saam met vier ander mense.


     
My uitsig waar ek nou sit en al my goed laai en 10 dollar moes betaal vir wifi.



  
Die kaart van Torres del Paine NP. Vir almal wat nog wil kom.

Môre is ‘n rowwe klim. Ons wil na die voet van die drie graniet-torings stap en sal vroeg begin. Dit is 19 km en 1000 meter se styg. Ons kan dit doen. Dit is waarvoor ons gekom het. Dankie vir almal wat gevra het hoe dit met my hak gaan. Vir die res, ek het implantare akilis iets in my hak wat ‘n operasie benodig. Dit gaan goed dankie. Môre is ‘n vier x genpain dag. 

Ek is so bly om te hoor dat die biddag vir reën in Mitschellsplain so goed afgeloop het. Mag die Here verheerlik word!
Ek gaan nou stort en klere was. 19:00 is aandete.


No comments:

Post a Comment