Saturday, March 17, 2018

Patagonia hier kom ons!



Patagonia was nog altyd op my lewensdroom-lys. In 2012 het ek my wêreldtoer daarrondom beplan, maar wou my finansies dit net nie insluit nie. Nou, 6 jaar later, kan my droom bewaarheid word. Maandagoggend 19 Maart 2018 om 06:20 vat ek en Sonja Wend die eerste van baie vlugte via Johannesburg, Sao Paulo, Buenos Aires na Ushuaia. Dit is die mees suidelike stad in die wêreld. Patagonia is ‘n reeks natuurreservate aan die mees suidelike punt van Argentinië en Chile tussen die Stille Oseaan aan die westekant en die Atlantiese Oseaan aan die oostekant.

Ek was lanklaas so uitgehonger vir toer. Ons waterkrisis in die Wes-Kaap eis sy tol op ons nerwe.

Patagonia was verlede week in die nuus toe die ysbrug van die grootste gletser, Perito Moreno, inmekaar gestort het op asemrowende manier, maar ook hartseer omdat klimaatsverandering so duidelik sigbaar is. Die weer is koud nou daar. Ushuaia se max temp vandag is 6 en môre 3 met vreeslik baie reën. Mag die Here ons seën met goeie weer, veilige reise, hope nuwe ervarings en tonne pret.

My onuitputlike wanderlust om nuwe dinge te sien het my sover by 38 lande van die wêreld gebring. Chile sal nommer 39 wees. Ek kan nie wag nie.

No comments:

Post a Comment