Thursday, March 22, 2018

El Calafate

Na ‘n vinnige ontbyt laai dieselfde taximan ons op om ons te neem na Malvinas Argentinas Ushuaia International Airport. Hy is baie vriendelik, maar praat geen engels nie. Maar met genoeg handgebare verstaan ons mekaar. Die lughawe is net 10 minute se ry, want dit lê net 4 km suid van die dorp en is geopen in 1995. Dit is die mees suidelike internasionale lughawe en bring veral gaste wat van hier af vertrek na Antarktika.  Die naaste punt van Antarktika (Drake passage) lê 1000 km vanaf Ushuaia. Ons sien baie plesierbote in ons tyd hier. Ek sal moet begin spaar.

Hierdie foto neem ek vanoggend vanaf die lughawe se parkeerterrein terug dorp toe.  



Ons opregte dank aan ons toergids vir die venstersitplek aan die linkerkant vandag. Dit het amper opgemaak vir Sao Paulo.    
   
Ons bly in die Rincon La Calafate hotel en die wifi is hier so stadig dat ek en Sonja nou al in die voorportaal parkeer het met die hoop op meer spoed. Ek wag dat 221 fotos aflaai op my google photos sodat ek hulle kan gebruik in my blog. Daar is 168 oor.

Die vlug tussen Ushuaia en El Calafate is net ‘n uur en vlieg oor al die eilande van Chile. Die weer was besonder goed en ek het my vergaap. Mag môre net so ‘n mooi dag wees as ons die Perito Morena gletser gaan besoek.
  

       

Die foto het ek geneem van Ushuaia lughawe met Ushuaia dorp in die agtergrond net nadat ons opgestyg het. 


El Calafate se omgewing laat ons baie dink aan Laingsburg en die dorp self is soos Banff in die Kanadese Rockies. Ons is te vroeg om in te boek in ons hotel en verken eers die strate.

     
Ons lees nou alles wat ons kan oor ons besoek môre aan die grootste gletser in Patagonia. Ek sien so baie uit. Mag die Here ons seën met goeie weer!

Ons koop ‘n paar herinner-goedjies wat Calafate konfyt en Calafate likeur insluit. Afhangende van ons moegheid môreaand sal laasgenoemde saamkom SA toe of nie.
  


‘n Kaart van waar ons vandag vlieg. 

  
Een van die ander gletsers in die omgewing (daar is 356 in Patagonia) uit die lug uit. 





No comments:

Post a Comment