Sunday, September 1, 2019

Richtersveld se ruwe rante








Niks wat mens vooraf lees kan jou voorberei op wat jy gaan sien nie. En niks wat ek hier skryf en vertel kan weergee wat ons beleef het nie. Dit is net iets wat elkeen self moet gaan beleef, want hoe verwoord mens sielsrus, diepmooi, deurdringende stilte en sinkende vrede.

My sussie Christa het die navorsing ingesit, die besprekings gedoen en gesorg dat vier van ons by ons emmerlys uitkom. Haar man, Andries en sy neef, Gert is die ander genooides.  Ons vier, ‘n chev trailblazer en ‘n conqueror kampwa het mekaar verlede Saterdag op Springbok gekry by Ouboetie en René se dorpshuis. Die opwinding was tasbaar, maar min het ons geweet waarvoor ons in is. Gert is die vetplantkenner en deel inligting soos ons ry. Ons leer vinnig die name van die drie soorte kokerbome wat ons soek. Hulle is die dichotoma (gewone), die aloe pillansii (baster kokerboom) en die ramosissima (nooienskoker). Die pillansii is die skaarste en wil ons die graagste sien. En ons was nie teleurgesteld nie.


Ek het al 8 keer deur die Visrivier Skeurvallei gestap en ‘n paar keer op die Oranjerivier geroei en nog altyd gewonder wat lê suid daarvan. Daar waar geen gewone motor kan kom nie. Nou weet ek.  Die Richtersveld is ‘n woestynlandskap met ruwe klowe, triljoene klippe, hoë berge en is geleë in die noordwestelike hoekie van die Noordkaap in SA. Die oranjerivier is die noordelike grens.  Dit is ‘n Unesco Wêrelderfenis gebied en mens hoef nie lank binne te wees voordat jy weet hoekom nie. Dis uniek, dis oppaswaardig.

Na die week weet ons jy behoort eintlik nie met jou eie voertuig dit aan te pak nie, want die paaie is erg grof en die kans vir groot skade is talryk. Akkedispas, Helskloof en die klippepad tussen De Hoop en Richtersberg is die ergste!  Na die tyd koop jy ‘n sticker by die Klipwinkel op Springbok wat verklaar: I survived the Richtersveld. Natuurlik saam met hul befaamde dubbeldik melkskommels terwyl julle al die stories herleef en weer lag oor elke insident.

Ek het langtand teruggery huis toe vandag. Die Richtersveld het soos ‘n digte wolk mis oor my kom lê.  Ek wens ek weet wat dit is wat so van mens kom besit neem. Miskien die stilte, miskien die klippe, miskien die ongewoonheid. Of miskien net die feit dat daar niks is nie, maar ook alles wat jou hart begeer. Ek wil hierdie trippie langer onthou as wat onthou lank is.
In die Richtersveld is sielerus. Hier kan mens goed afskud wat lank vasgeklou het. 

Oppad terug sing Laurika Rauch: jy sal dit nie kan toonset nie, onthou kom uit jou hart. Ek sal die Richtersveld onthou elke keer as my hare na rook ruik van knus sit om ‘n braaivleisvuur, elke keer as ek in glashelder  koue rivierwater swem, elke keer as ek ‘n visarend hoor roep, as ek die suiderkruis helder sien skitter teen ‘n pikswart nag. 





Ek het talle brawe blommetjies gesien wat net daar blom waar hulle geplant is.

Kan jy vir Gert sien? Hierdie majeustieuse stuk graniet slaan jou asem weg. 





By Richtersberg kampplek kry ons hierdie mooi hond. Ons doop haar Rosa en vir vier dae is sy ons s’n. Rustig, liefdevol, mooi gemanierd en leef van kamper na kamper. Vir alle toekomstige Richtersbergkampers - kyk asb mooi na ons hond. Moenie dat sy op julle skof swaarder kry as wat absoluut nodig is nie. 

By die boemhek kry ons vir William Joseph, ‘n aanwins vir die park.  Sy oranjerivierafrikaans en goeie sin vir humor steek ‘n vuur aan in my hart. Hy is gul met sy raad en gasvryheid, die toilette silwerskoon en die glimlag breed. Net voor ons ry gee ek vir hom drie nartjies uit Piketberg se Spar en dadelik vertrek sy gesig in die breedste glimlag en skree hy: Christmas by die hek! 










My gunsteling: die boepens botterboompies.

Ons herinner mekaar hoe om noord en suid aan te dui met die orion se belt in die nanag en die suiderkruis in die vroegaand en niemand gee om as die noord en suid nie direk oormekaar is nie. 

Mag ons dit vir altyd onthou. Of minstens tot ons weer kan gaan...



Monday, May 27, 2019

Praag: ou stadsplein en die astronomiese horlosie






Die ou stadsaal.






Die astronomiese klok.


Die hele klokwonder van Mikulas van Kaden gedateer 1410.











Dit was ‘n lang dag, maar ‘n lekker dag. Die hoogtepunt van die dag was die Astronomiese Horlosie (orloj genoem in czechies) op die suidelike muur van die ou stadsaal op die stadsplein in die ou stad. Daai hele stadsplein sit ‘n glimlag op jou gesig! Dit is pragtig. 

Soos ek nou hier sit en tik, hoor ek die reën saggies teen my hotelkamer se venster. Ek bly in Hotel Roma in Ujezd 16 Praha. Ons laaste kilometer terug hotel toe het ons in ligte reën afgelê. Op my televisie wys Roland Garos in Duits. Thiem is voor teen Paul en Chardy en Edmund is gelyk. By die huis kyk ek aande om tennis, maar hier is ek nou so uit. Te veel ander goed om te sien.


Maar terug by die klok. Tydens ontbyt vertel Oom Bob ‘n tragiese verhaal oor die klokmaker. Ons hang aan sy lippe. Hy het omtrent huiswerk gedoen. Ek lees die hele storie vanaand op wikipedia en dit blyk ‘n mite te wees, maar dit bly ‘n goeie storie so laat ons nou nie ‘n goeie storie met feite bederf nie.

Die legende wil dit hê dat die klok in 1490 gebou is deur Jan Ruze. Hy is toe deur die stadsvaarders verblind ( blind gemaak) sodat hy nie die wonderwerk kan herhaal vir nog ‘n klok nie. As teenprestasie het hy die klok onbruikbaar gemaak en niemand kon dit herstel vir ‘n 100 jaar nie.  Volgens wikipedia is die regte klokmaker van hierdie wonderlike stuk werk wat sy tyd ver vooruit was, Mikulas van Kadan. Hy het dit in 1410 gebou en dit was die 3de een wat hy gebou het. Hierdie een is wel die wêreld se oudste werkende een. Jan Ruze het wel die klok in 1490 bymekaargesit. Die Orloj is ernstig beskadig in 1945 deur die Nazi’s, maar weer in 1948 herstel. Die 605de verjaarsdag van die klok is luisteryk gevier in 2015.

Die City Sightseeing in Praag is ‘n teleurstelling. Ek en my Pa onderneem om ‘n brief te skryf aan hul bestuur, want hulle maak elke ander wêreldstad se rooibusse se naam gat. 


Môre vertrek ons na Innsbruck in Oostenryk via Duitsland. Dit is meer as 540 km en ons moet vroeg beweeg. Duitsland se paaie is goed en in Oostenryk ry hulle 130 km per uur, so dit sal goed wees. Czech se paaie is slegter, maar ons sal dit wen. Ek het Praag baie geniet en veral die bootvaart op die Tlvita rivier was heerlik!



Ons kry hierdie swaan met kleintjies langs die rivier. 


Ons aandete is pizza op die oewer van die Tlvita rivier in Praag. 

Ons al vyf is nog aanboord en op die been. 




Sunday, May 26, 2019

Prague

26 Mei 2019
Ons is vanoggend net na ontbyt in die Geblergasse Hotel oppad Praag toe. Eers sukkel ons ‘n hele tydjie om ons gehuurde Fiat Talento uit hul nou garage te kry. En ek bedoel nou! Vienna is naby die Czech grens en ons stop by die eerste petrol-plek langs die pad om ‘n Vinjette te koop. Dit is die padbelasting in Czech, Hongarye en Slovenië. In laasgenoemde was dit 30 euro en vir Praag betaal ons 17 euro. It all adds up.

My eerste indrukke van Praag is goed. Hulle het mooi ou geboue. Die Charlesbrug en brugtoring is sover vir my die mooiste. Hul mense is vriendelik en hulpvaardig, hul melk smaak erg baie na koei en  hul geldeenheid, die Koruna, is minder werd as die rand! So ons is gelukkig!

Ons stap vanaand na die bekende Charlesbrug en ek klim die toring om mooi uitsigte oor die stad te kry. Ek bly bo tot na sonsonder en word beloën met wonderlike gesigte wat elkeen van die 138 groot outydse trappe die moeite werd maak. My voete voel vanaand die 21000 treë op my fitbit.

Ons ry môre die City Sightseeing Bus en dan vertel ek meer, maar vir nou deel ek net ‘n paar stunning fotos.




























Die geel pikkewyne maak mooi fotos. Ek stuur so ‘n foto vir my familie en die fietskamptoerders en my sussie Christa en  Pieta vra dadelik oor die geel pikkewyne. Ek sê ek sal dit google. Dis wraggies die eerste ding wat opkom toe ek yellow intik op google. Hulle weet ek is in Praag. Ek het twee keer getel en beide kere 33 gekry. Google sê daar is 34. Hulle vertel die boodskap van klimaatsverandering en die gevaar van plastiek in die oseane.

Hierdie Pilsner Urqual was heerlik. Die tweede een was my Pa s’n. 



Canolalande langs die pad vandag.

Môre vertel ek verder.