Monday, May 27, 2019

Praag: ou stadsplein en die astronomiese horlosie






Die ou stadsaal.






Die astronomiese klok.


Die hele klokwonder van Mikulas van Kaden gedateer 1410.











Dit was ‘n lang dag, maar ‘n lekker dag. Die hoogtepunt van die dag was die Astronomiese Horlosie (orloj genoem in czechies) op die suidelike muur van die ou stadsaal op die stadsplein in die ou stad. Daai hele stadsplein sit ‘n glimlag op jou gesig! Dit is pragtig. 

Soos ek nou hier sit en tik, hoor ek die reën saggies teen my hotelkamer se venster. Ek bly in Hotel Roma in Ujezd 16 Praha. Ons laaste kilometer terug hotel toe het ons in ligte reën afgelê. Op my televisie wys Roland Garos in Duits. Thiem is voor teen Paul en Chardy en Edmund is gelyk. By die huis kyk ek aande om tennis, maar hier is ek nou so uit. Te veel ander goed om te sien.


Maar terug by die klok. Tydens ontbyt vertel Oom Bob ‘n tragiese verhaal oor die klokmaker. Ons hang aan sy lippe. Hy het omtrent huiswerk gedoen. Ek lees die hele storie vanaand op wikipedia en dit blyk ‘n mite te wees, maar dit bly ‘n goeie storie so laat ons nou nie ‘n goeie storie met feite bederf nie.

Die legende wil dit hê dat die klok in 1490 gebou is deur Jan Ruze. Hy is toe deur die stadsvaarders verblind ( blind gemaak) sodat hy nie die wonderwerk kan herhaal vir nog ‘n klok nie. As teenprestasie het hy die klok onbruikbaar gemaak en niemand kon dit herstel vir ‘n 100 jaar nie.  Volgens wikipedia is die regte klokmaker van hierdie wonderlike stuk werk wat sy tyd ver vooruit was, Mikulas van Kadan. Hy het dit in 1410 gebou en dit was die 3de een wat hy gebou het. Hierdie een is wel die wêreld se oudste werkende een. Jan Ruze het wel die klok in 1490 bymekaargesit. Die Orloj is ernstig beskadig in 1945 deur die Nazi’s, maar weer in 1948 herstel. Die 605de verjaarsdag van die klok is luisteryk gevier in 2015.

Die City Sightseeing in Praag is ‘n teleurstelling. Ek en my Pa onderneem om ‘n brief te skryf aan hul bestuur, want hulle maak elke ander wêreldstad se rooibusse se naam gat. 


Môre vertrek ons na Innsbruck in Oostenryk via Duitsland. Dit is meer as 540 km en ons moet vroeg beweeg. Duitsland se paaie is goed en in Oostenryk ry hulle 130 km per uur, so dit sal goed wees. Czech se paaie is slegter, maar ons sal dit wen. Ek het Praag baie geniet en veral die bootvaart op die Tlvita rivier was heerlik!



Ons kry hierdie swaan met kleintjies langs die rivier. 


Ons aandete is pizza op die oewer van die Tlvita rivier in Praag. 

Ons al vyf is nog aanboord en op die been. 




No comments:

Post a Comment