Wednesday, May 15, 2019

Suezkanaal: fenominaal fantasties!

15 Mei 2019
Ek skryf vir julle vanuit die Middelandse See nadat ons 05:00 vanoggend vertrek het uit die Golf van Suez waar ons oornag op anker gelê het en met eerste lig begin beweeg het. Ons was tweede in die konfooi. Dit voel soos ‘n dag in die wildtuin waar jy op adrenalien beweeg en nooit kan sit nie, want om elke draai sien jy iets onverwags en pragtig wat smeek om afgeneem te word. Ek het 100de fotos geneem. Ons het van 05:00 af op dek 14 voor op die skip gestaan en later ‘n venstertafel gaan soek in die eetsaal op dek 13, waar ons was tot na middagete. Eintlik het ons dit net ons basis gemaak en van daar af beweeg om alles te sien.



Die treinbrug oor die oorspronklike kanaal staan nou oop vandat hulle die northbound bypass gebou het. Die helikopter het ons ‘n paar maal gesirkel. Ons weet nie hoekom nie, maar dit maak mooi prentjies.






Omtrent in die middel van die kanaal word ‘n splinternuwe stad gebou. Hulle noem dit the new Ismailia en dit is op 1 Mei 2019 deur hulle president ingewy. Daar bly nog niemand nie. ‘n Tannie van Mitchellsplein staan langs my op dek 14 toe ons daar verbyvaar en is verstom oor waar al die mense gaan vandaan kom om al die huise en woonstelblokke te vul. Ons lees daar is 120 000 wooneenhede. 



Hierdie pragtige standbeel vereer die hande-arbeid en sweet wat die eerste kanaal gegrawe het. 



Volgens google word hierdie ook die Statue of Liberty genoem. Net in Egipte. Interessant genoeg was die eerste ontwerp deur die Fransman Bartholdi van die bekende Statue of Liberte eers met ‘n Egiptiese vrou gedoen en toe het Egipte dit afgekeur. 8 jaar later het die ontwerp sy weg gevind na New York en is die bekende dame op Liberty Eiland opgerig.





Vandag se power pose posisie. Sit sit so.


Ons word heeldag gevolg en gerig deur bote wat help stuur deur die kanaal.








Die twee aangename vriende uit Australië, Mary en Daniel. It was such a pleasure sharing this trip with you. Especially the creative classes. Greetings to our class captain and browny point scorer.


Sonsopkoms oor die Suezkanaal.


Ek het my Pa vandag meestal in hierdie posisie gesien. Ek kan nie wag om al die mooi fotos te sien nie. 





Vroegmôre by die ingang van die Suezkanaal by die stad Suez.

Ek was al oor 10 000 treë op my fitbit lank voor 14:00.

Hier waar ek nou sit in die Tucano sitkamer op dek 6, is iemand besig om Italiaanse klasse aan te bied en in die teater is Masterchef aan die gang. Ek dink terug oor die dag en weet net dat dit onmoontlik is om dit hier vas te lê. Maar laat ek probeer.


Die Suezkanaal is gebou tussen 1859 en 1869 en verbind die Indiese Oseaan met die Middelandse See. Dit het die roete tussen oos en wes in die wêreld met 7000 km verkort en skepe die Kaap van Storms gespaar. Dit is volledig geleë in Egipte. ‘n Boot soos die MSC Musica waarop ons vaar vat
ongeveer 12 ure om die kanaal te voltooi en betaal 450 000 dollar per trip. Die kanaal is 193 km lank en op sy vlakste 25 meter diep en 235 meter breed op sy nouste. Langs die kante kom stede, landerye, tuine, standbeelde, moskees, wagtorings en talle vissersbote verby. Ons sien ook baie voëls.






Net na middagete gaan ons onderdeur die Mubarak Vriendskapsbrug tussen Japan en Egipte. Dit verbind Afrika met Asië, maar is tans gesluit omdat die vriendskap opgedroog het. Dit is 4 km lank en staan 70 meter hoog. Ons maak dit net-net.  Ek het vandag soveel goed oor die Suezkanaal op google gelees. Dit is ongelooflik interessant. Dit is met dwangarbeid gegrawe en met primitiewe masjienerie. 10 000 Egiptenare en 44 000 grieke het daaraan gewerk en talle het hul lewens verloor soos wat dit meestal met dwangarbeid gaan. Daar is dele van die kanaal wat met hande gegrawe is. In 2015 is die bypass gebou waarop ons vandag vaar en maak dat skepe bymekaar kan verbygaan in twee bane. Dit veroorsaak dat die kanaal tans tot 97 bote per dag kan laat deurgaan. ‘n Handige bedraggie vir Egipte per dag. G’n wonder hul ekonomie is groter as SA s’n nie.

Die standbeelde langs die pad was pragtig!


Lees asb die storie op google oor die Suezkanaal se geel vloot. Dit was vir my die interessantste. In die 6 dag oorlog tussen Egipte en Israel het daar 15 skepe vasgesit in die Suezkanaal vir 8 jaar! Hulle het later bymekaar gekuier, gesamentlike etes aangebied en selfs ‘n mini olimpiese  spele gehou.

My Pa vertel vanoggend die grappie oor die destydse Eerste Minister van Israel, nogal ‘n vrou met die naam Golda  Meir, vir wie hulle kom vertel het talle volke val hulle aan uit alle windrigtings. Haar reaksie was: Israel is such a small country, where are we going to bury them all?  Glad nie ‘n tekort aan selfvertroue nie.

Ek sal hierdie dag deur die Seuzkanaal nooit ooit vergeet nie. It is a sight to behold.

No comments:

Post a Comment