Saturday, May 4, 2019

Seychelles

Wat ‘n pragtige plek is dit nie! Groen deurskynende water net waar jy kyk, ‘n pragtige stadjie met ou Victoriaanse geboue wat goed opgepas word, tropiese plantegroei en skoon strate.  Ek is so dankbaar daaroor, want gisteraand ontmoet ons vir Piet en Johanna van Zyl van Robertson in die teater. Ons kyk die finale uitvoering van die drie tenore van SA en dit is puik. Hulle sing hul Afrika program met fokus op SA en sing tot Liefling van Gé Korsten in Afrikaans onder luide toejuigjng van elke afrikaanssprekende aan boord. Die tannie van Stellenbosch wat nou in Australië bly pink ‘n traan en ons roep hul twee keer terug in ancores. Hulle was nou werklik ‘n goeie uitvoerproduk van SA waarop ons baie trots kan wees. Vusi, Thebogo en Pagan, wel gedaan!
Maar terug by Johanna van Zyl. Sy sê Seychelles is op haar bucket list sedert sy 16 was. Ek wil nou nie op die wêreld wye web haar ouderdom verklap nie, maar dis lank terug. Ek bedoel vrek lank. Ons gesels oor hoe arm en vuil Mauritius is as jy buite die resorts beweeg en ons hou al ons duime vas dat haar droom nie voete van klei sal wys nie. Wel, sy sou gelukkig gewees het vandag met wat sy sien. Ek en my Ma was gewapen vandag, want in Mauritius moes ons vier baie vuil en grillerige toilette trotseer, waar die siektes dik groei. Seychelles is heeltemal anders. Skoon, netjies, ‘n lus vir die oog en die oor.

Hierdie pragtige kruis staan in die St Pauls Kerk in Victoria in Mahé eiland.  Seychelles bestaan uit ‘n samestelling van 115 eilande wat ‘n gebied beslaan van 1,3 miljoen vierkante kilometer. As jy van Kenia af reguit oos vaar vir 1600 km is jy hier. Meeste mense vlieg. Ons is so bevoorreg om met ‘n grand voyage van MSC Musica hier aan te kom. Victoria is die kleinste hoofstad in die wêreld en Seychelles met hul nagenoeg 94 000 inwoners is die kleinste bevolking van enige republiek in die wêreld.  Hulle is deel van die Statebond en het in 1976 onafhanklik geword van Brittanje. Die Britse invloed is nog orals sigbaar in Victoria, wat ook vernoem is na Koningin Victoria die tweede.


Ons stap vandag 12 km deur Victoria en eindig by hul Botaniese tuin met die reuse skilpaaie en baie tropiese blomme. Ek het talle fotos geneem.




Die reuse vrugte vlermuis is vollop hier. Hy is twaalf keer groter as die SA een. Corné, ons sou dit nie oorleef het met hom in ons chalet in die KNP nie. Die 80 gram een van SA was erg genoeg. Hierdie een weeg meer as ‘n kilogram.
Darem net ‘n mensgemaakte skilpad hieronder. Hulle is darem nie regtig so groot nie. 











Hierdie replika van die Big Ben staan op die kruising van Independence Road en 5th June Avenue. Dit is die datum van hul onafhanklikheid in 1976.

Vier swaardvisse vorm die kunswerk op hierdie verkeerssirkel.


Port Victoria.



Vanoggend wapper die Seychelle vlag op ons boot totdat ons moremiddag vertrek. 

Wat ‘n voorreg. Ons is nou weer terug in aircon, maar die humiditeit vandag het ons getap. Dis net vier grade vanaf die ewenaar en dit maak mens ewe naar! Ons sien uit na more. Nou eers aandete in ons grand restaurant en dan ‘n vertoning deur ‘n plaaslike Seychelles dansgroep. Môre vertel ek verder.

No comments:

Post a Comment