Sunday, May 5, 2019

Mahé Eiland, Seychelles: Beau Vallon strand

Ek weet nie eers waar om te begin vertel nie! Seychelles is in ‘n ander klas. Gisteraand hoor ons by mense van Stellenbosch (Carol het gewerk by die Wynland Distrik terwyl ek by Stb Mun was) dat hulle met die publieke bus Beau Vallon toe was gister en heerlik geswem het daar. Ons bekyk google en vind die bus terminaal op ons kaart en sit vanoggend vroeg af soontoe. Eers vat ons ‘n stewige ontbyt op die skip, pak vrugte in wat hulle beskikbaar maak en maak ons botteltjies vol. Volgens yr gaan dit nog vier grade warmer wees as gister. Ons begin dus vroeg. Toe ons by die bus aankom, is ons reeds papnat gesweet en beduie die tannie ons na platform G waar ons bus 22, 24 of 24A kan vat na Beau Vallon. Ek lees op google dat dit ‘n baie gewilde swemstrand hier is met lang wit sandstrande. Ons vat bus 24 binne 5 minute en geniet die rit. Dit kos net 7 Rupees per persoon (geen pensioenafslag). Die Seychelle rupees is omtrent gelyk aan die Rand. 

En is dit nie ‘n mooi strand nie. Ons trek aan deur die handdoek vir mekaar te hou en vaar die water in. Dis amper badwater temperatuur en sout genoeg om maklik te dryf. Ons sien die mooiste klein swaardvissies met mooi kleure en verkyk ons aan al die mooi plantegroei langs die strand. Daar is ook ‘n katamaran op die see en allerhande spoedbote. Mens sien die skip se oranje handdoeke orals.







Hierdie een gaan ek crop en vergroot vir my toerkamer. 


Die publieke bus is skoon en netjies en werk goed.


Kyk mooi na hierdie foto. Dis ons skip wat daar in die hawe lê.


Hierdie pavlova met aarbei sorbet was op gisteraand se spyskaart. Die kos op die skip is fantasties. Ons eet hopeloos te veel, maar ook verskriklik lekker. In die aand is dit aansit by drie gange met ‘n gestyfde servet en mooi gedekte tafels. Heerlik! 





Tydens die see-dae word interessante goed aangebied. Ek was nou al by vier arts en craft klasse. Hierdie haarband het ek gemaak en met kralletjies versier. Hulle verskaf al die materiaal en leer jou die vaardigheid. Alles gratis.

Ek kan so ‘n cruise werklik aanbeveel. Ons het gister twaalf kilometer gestap en vandag 11. Nou sien ek weer uit na rustiger see-dae van niks doen. Ons vertrek vanaand 18:00 uit Seychelles en vaar noord en effens wes na die golf van Aqaba om daarin op te vaar na Aqaba, waar ons 13 Mei sal wees. Intussen sal SA stem. Mag God se wil geskied. Ons bid daarvoor. 
As jy ooit gewonder het of jy so ‘n cruise moet doen: ja doen dit! Ek kan dit aanbeveel. 

1 comment:

  1. Baie dankie. Dit is'n wonderlike geleentheid wat julle het en kan geniet. Ons geniet en waardeer die terugvoering. RSA-Groete.

    ReplyDelete