Thursday, May 2, 2019

Vyf eilande in die Indiese Oseaan genaamd Mauritius

1 Mei 2019

Net voor die boot vertrek uit Mauritius, kry ons hierdie bevestiging van God dat hy ons nooit sal verlaat nie. Ook ‘n antwoord op baie gebede van my vandag dat die Here op ‘n wonderbaarlike wyse die mense van Mauritius sal bereik en Homself aan hulle sal openbaar, want ons besoek vele van hul gode en sien talle dwalende mense met lewelose oë wat die een offer na die ander bring aan lewelose gode.


Flower power! Dis tema aand in die restaurant en ons is gereed danksy die blomme wat ek by Sonja geleen het en saamgebring het.

My gunsteling plek op die skip. Verkieslik met ‘n koppie earl grey tee. 



Op ‘n seedag soos vandag is daar arts and crafts klasse op dek 7 in die lounge. Ek het vanoggend gaan kyk wat daar aangaan en hierdie pragtige ding gemaak vir jou nek of handsak. Dit was baie pret.

Vroegoggend agter op dek 13. Een van my gunsteling plekke op die skip.




Kaart van Mauritius se hoofeiland.


Die vrugte kerfwerk op die boot is besonders.

Vandag staan die MSC Musica oor op Mauritius in die Indiese Oseaan. Soos ons voet aan wal sit, weet jy dadelik dat hierdie ‘n vakansiebestemming is. Daar is dansers in veelkleurige uitrustings en luide dansmusiek. Hierdie is ‘n jolige spulletjie. Ons ontmoet vir Kaveesh, ons toergids vir die dag, saam met die drywer van bus 8, Jack Sparrow. Ons is geboek op die eiland toer na die suide van Mauritius om verskeie geskiedkundige plekke te besoek en ook tyd te spandeer op ‘n strand.

Ek was in 2000 laas in Mauritius toe ek saam met Annalene, Danielle en Charl by Club Med Oord was vir ‘n week.  Dit is noord van Port Louis in die rigting van Grand Bay en ons was nie veel in die suide nie.  Die skip meer vas by Port Louis aan die Noord-oostelike kus van die hoofeiland van Mauritius.  Wat ek nooit geweet het nie, is dat Mauritius bestaan uit vyf eilande. 

Of hulle het bestaan uit vyf eilande voordat hulle onlangs die een eiland verkoop het aan Indië in ruil vir ‘n groot lening om ‘n metro rail te bou in Port Louis wat beide onder die grond en bo in die lug treine sal laat beweeg. Dit gaan nog dekades vat om te voltooi, maar Kaveesh is opgewonde omdat sy huiswaarde nou aansienlik gaan styg want die eerste metrostasie wat geopen word, is regoor sy huis.  Hy is ‘n jong Indiese man soos die meeste van die mense wat in Mauritius bly, maar vertel ons vroeg in die toer dat hy homself nie beskou as Indies nie, maar Mauritian. Hy is ‘n goeie gids.  Nie alles wat hy vertel strook met wat ons op google gelees het nie, maar wat is ‘n paar duisend jaar nou tussen vriende. 



Ons besoek die ‘seven coloured earth’ in die Black River Gorges National Park en ook ‘n baie mooi waterval naby Chamarel.



Die uitsig vanuit die Black River Gorges NP oor die suide van Mauritius se hoofeiland.







Kaveesh, ons toergids.


Die Mauritians melk nog die nagedagtenis van die Dodo voël wat sedert 1681 uitgesterf het nadat mense die eiland bewoon het en te veel van die voëls in sousies opgedien het. Dit was ‘n aardgebonde voël soos die volstruis in Suid-Afrika. Maar elke souvenier 350 jaar later het steeds die Dodo op. Ek hoop die Britte en die Franse wat die uitsterwing veroorsaak het,  skaam hulle! 


Ons besoek ook ‘n werkswinkel wat modelbote bou en verkoop. Dit is pragtig en ‘n regte kuns. Die vrou op die foto onder sê dit vat haar twee weke om daardie boot te bou en dit kos ongeveer 4000 Mauritian rupees wat nagenoeg R1600 is. Die Britte en Europiërs aan boord koop lustig voort. 



Die kleurvolle dansers wat die skip verwelkom in die hawe.


Port Louis met ons aankoms in Mauritius. Dis ‘n pragtige sonskyn dag vanoggend met heelwat liquid  sunshine in die middag. 

Mynsinsiens is Mauritius veel beter gerat om toeriste te ontvang as Reunion. Dit was ‘n heerlike sorgvrye dag vol interessanthede. 

No comments:

Post a Comment