30 April 2019
Reunion Eiland
Uitsig oor Reunion uit La Salazie
Ons eerste aangesig van Reunion vanaf dek 14 op die skip
Ons skip.
Vandag klim ons vir die eerste keer af van die boot af sedert ons vertrek in Durban op die 26ste April 2019.
Ons eerste stop is Reunion Eiland en dit is nie ‘n reunie vir my nie. Ek was nog nooit hier nie en kan nie wag om my rooi sterretjie op my wêreldkaart te gaan plak nie. Tegnies is dit nie ‘n nuwe land nie, want Reunion is ‘n
oorsese departement van Frankryk en staan bekend as
974. Ons vaar tans in die Indiese Oseaan oos van Afrika teen die kus op en is om die suidpunt van Madagaskar verby. Reunion lê 175 km suidwes van
Mauritius.
Ek weet nie wie van julle al almal Reunion besoek het nie, maar ek het niks daarvan geweet voordat ons op die skip na ‘n praatjie geluister het en op internet begin lees het nie. Internet op die skip is ‘n ander dag se verhaal, maar dit knor.
Reunion het 866 500 mense wat dit huis noem. Snaaks genoeg is daar 1,2 miljoen voertuie op die eiland en ons kon dit vanoggend in die verkeer voel. Hierdie is ‘n bergklimparadys met drie berge op die eiland hoër as 3000 meter bo seevlak. Ons het pragtige weer en kan goeie fotos neem. Om 08:15 volg ons die program en neem ons plekke in in die teater om saam met REU04 te vertrek op ‘n uitstappie na ‘Cirque de Salazie volcanic caldera countryside’. Salazie is een van hul 24 Munisipaliteite op die eiland. En dit in ‘n gebied wat die helfte so groot soos Bergrivier Munisipale Area is. Die hele eiland is 2512 vierkante kilometer en bestaan uit vulkaanrots met baie suikerrietlande, vanilla boorde, diep groen dongas, baie nou paadjies en pragtige blomme orals. Ons skip meer vas by La Possession aan die noordoos-kus en omtrent 20 minute se ry vanaf hul hoofstad St Denis.
Die hoofroete loop langs die kus om die eiland met min paaie wat die binneland kruis as gevolg van die hoë berge en calderas. Hul aktiewe vulkaan is in die suidoostelike gedeelte van die eiland en het so onlangs soos 20 dae terug nog lawa uitgestoot. Nodeloos om te sê was ons nie naby dit nie.
Die nuwe pad wat in aanbou is.
Hul registrasieplate wat aandui dat hulle deel is van die Europese Unie onder Frankryk en no 974 heet.
Pragtige kerkie in St Denis.
Vanilla likeur.
Die reën tot ses meter per jaar aan die ooskus van Reunion en die watervalle is volop.
Uitsigpunt oor die Caldera.
Die vanilla plantasies wat ons besoek is baie interessant en mens besef weer hoekom vanilla pods so duur is, want dit vat tot 6 jaar om te kweek. Ons sien die plante en hoe hulle opgelei word en proe vanilla likeur en kan die hele proses sien en probeer verstaan. Ek sal nooit weer neerkyk op nederige vanilla roomys nie. Dis ‘n wonderwerk. Die interessantste hier is dat elke vanillablom met die hand bestuif word omdat die insek wat dit elders in die wêreld bestuif, nie hier kan aanpas nie. Praat van arbeidsintensief! Ons lees dat die grootste uitvoerder van vanilla in die wêreld Madagaskar is en dat hulle vanilla beskou word as die suiwerste in die wêreld. Toevallig word hulle vanilla ook Bourbon vanilla genoem en dit is vernoem na die vorige naam van Madagaskar, wat voorheen bekendgestaan het as die Bourbon-eilande. As jy weer ‘n druppel vanilla in iets gooi of ‘n teelepeltjie vanilla essens onnadenkend in ‘n koekbeslag laat val, dink aan Madagaskar en Reunion se vanilla plantasies waar elke vanilla peul ses jaar vat vandat die rank geplant word en vier jaar vandat die plant blom totdat die vanilla peul verkoop word.
Hulle is besig om ‘n baie groot pad te bou op stelte in die see vanaf die hawe in La Possession tot by St Denis. Dis ‘n werk en ‘n half en moet die Franse regering sakke vol Euros kos. Ons toergids, Simona, sê die pad is reeds twee jaar agter skedule. Maar hulle het die pad baie nodig as gevolg van die onbegaanbaarheid van die kuspad tydens hul sikloonmaande en die vallende rotse uit die hoogtes.
By La Salazie kry ons tyd om mooi uitsigte oor die Caldera af te neem en eet ons by ‘n klein restaurantjie wat die Bourbon Restaurant heet. Reunion het vroeër bekendgestaan as die Bourbon eiland vernoem na die pienk Bourbon rose wat hier welig groei. Hulle leuse op hul ‘Coat of Arms’ is juis so mooi: blom waar jy is (letterlik: waarheen jy gedra is).
Dit is lekker om weer terug te wees op die skip en ons vertrek 18:00. Wat ‘n luukse om aan ‘n grand gedekte tafel te sit met Edi en Edu wat ons bedien en die sagte dreuning van die boot te voel. Ons volgende bestemming is Mauritius en ons is môre al daar. Terwyl ek hier sit en blog in die kaartkamer op die skip, is my ouers weer besig om 5 krone te speel by die tafel langsaan. Ek weet nie wie wen nie, maar dit klink of die bordjies verhang is. Ons gaan nou-nou na die drie tenore luister in die teater. Vanaand is dit hulle broadway program. Ek sien baie uit!
Groete tot na Mauritius.
No comments:
Post a Comment