Sunday, September 1, 2019

Richtersveld se ruwe rante








Niks wat mens vooraf lees kan jou voorberei op wat jy gaan sien nie. En niks wat ek hier skryf en vertel kan weergee wat ons beleef het nie. Dit is net iets wat elkeen self moet gaan beleef, want hoe verwoord mens sielsrus, diepmooi, deurdringende stilte en sinkende vrede.

My sussie Christa het die navorsing ingesit, die besprekings gedoen en gesorg dat vier van ons by ons emmerlys uitkom. Haar man, Andries en sy neef, Gert is die ander genooides.  Ons vier, ‘n chev trailblazer en ‘n conqueror kampwa het mekaar verlede Saterdag op Springbok gekry by Ouboetie en René se dorpshuis. Die opwinding was tasbaar, maar min het ons geweet waarvoor ons in is. Gert is die vetplantkenner en deel inligting soos ons ry. Ons leer vinnig die name van die drie soorte kokerbome wat ons soek. Hulle is die dichotoma (gewone), die aloe pillansii (baster kokerboom) en die ramosissima (nooienskoker). Die pillansii is die skaarste en wil ons die graagste sien. En ons was nie teleurgesteld nie.


Ek het al 8 keer deur die Visrivier Skeurvallei gestap en ‘n paar keer op die Oranjerivier geroei en nog altyd gewonder wat lê suid daarvan. Daar waar geen gewone motor kan kom nie. Nou weet ek.  Die Richtersveld is ‘n woestynlandskap met ruwe klowe, triljoene klippe, hoë berge en is geleë in die noordwestelike hoekie van die Noordkaap in SA. Die oranjerivier is die noordelike grens.  Dit is ‘n Unesco Wêrelderfenis gebied en mens hoef nie lank binne te wees voordat jy weet hoekom nie. Dis uniek, dis oppaswaardig.

Na die week weet ons jy behoort eintlik nie met jou eie voertuig dit aan te pak nie, want die paaie is erg grof en die kans vir groot skade is talryk. Akkedispas, Helskloof en die klippepad tussen De Hoop en Richtersberg is die ergste!  Na die tyd koop jy ‘n sticker by die Klipwinkel op Springbok wat verklaar: I survived the Richtersveld. Natuurlik saam met hul befaamde dubbeldik melkskommels terwyl julle al die stories herleef en weer lag oor elke insident.

Ek het langtand teruggery huis toe vandag. Die Richtersveld het soos ‘n digte wolk mis oor my kom lê.  Ek wens ek weet wat dit is wat so van mens kom besit neem. Miskien die stilte, miskien die klippe, miskien die ongewoonheid. Of miskien net die feit dat daar niks is nie, maar ook alles wat jou hart begeer. Ek wil hierdie trippie langer onthou as wat onthou lank is.
In die Richtersveld is sielerus. Hier kan mens goed afskud wat lank vasgeklou het. 

Oppad terug sing Laurika Rauch: jy sal dit nie kan toonset nie, onthou kom uit jou hart. Ek sal die Richtersveld onthou elke keer as my hare na rook ruik van knus sit om ‘n braaivleisvuur, elke keer as ek in glashelder  koue rivierwater swem, elke keer as ek ‘n visarend hoor roep, as ek die suiderkruis helder sien skitter teen ‘n pikswart nag. 





Ek het talle brawe blommetjies gesien wat net daar blom waar hulle geplant is.

Kan jy vir Gert sien? Hierdie majeustieuse stuk graniet slaan jou asem weg. 





By Richtersberg kampplek kry ons hierdie mooi hond. Ons doop haar Rosa en vir vier dae is sy ons s’n. Rustig, liefdevol, mooi gemanierd en leef van kamper na kamper. Vir alle toekomstige Richtersbergkampers - kyk asb mooi na ons hond. Moenie dat sy op julle skof swaarder kry as wat absoluut nodig is nie. 

By die boemhek kry ons vir William Joseph, ‘n aanwins vir die park.  Sy oranjerivierafrikaans en goeie sin vir humor steek ‘n vuur aan in my hart. Hy is gul met sy raad en gasvryheid, die toilette silwerskoon en die glimlag breed. Net voor ons ry gee ek vir hom drie nartjies uit Piketberg se Spar en dadelik vertrek sy gesig in die breedste glimlag en skree hy: Christmas by die hek! 










My gunsteling: die boepens botterboompies.

Ons herinner mekaar hoe om noord en suid aan te dui met die orion se belt in die nanag en die suiderkruis in die vroegaand en niemand gee om as die noord en suid nie direk oormekaar is nie. 

Mag ons dit vir altyd onthou. Of minstens tot ons weer kan gaan...