Sunday, February 7, 2016

It takes a village...

Ek was lanklaas so ontsteld soos hierdie afgelope Vrydagmiddag. 'n Vriendin van my se 11-jarige seuntjie neem deel aan 'n sportdag op Porterville en ons sit laatmiddag af soontoe om hom te gaan haal.  Dis weer warmer as warm in die Swartland. Ons gesels en skerts gemoedelik oppad en wonder hoe dit met sy spiesgooi sou gegaan het. Hy is skaars langer as 'n vuurhoutjie, maar wil spies gooi! 

By die skool aangekom, sien ons die program is agter en ons moet 'n uur en 40 minute in 'n 40 grade motor sit en wag. Nou die van julle wat my goed ken, sal dalk dink dat dit is wat my ontstel het.  Dit het. Maar nie naastenby so erg soos die toneel wat langs ons motor afspeel nie...

Langs ons sit 'n kind op die muurtjie en sing. Hy het 'n selfoon in sy hand en die bekende twee wit toutjies hang van sy ore af, om sy nek tot op sy skoot. Dis 'n afrikaanse rap song en hy sing lustig saam. Ek verkyk my. Veral omdat sy stem besig is om te breek en hy spring tussen die oktawe. Duidelik pla dit hom min. Hy's in die zone en hoor en sien kan vergaan. Ek glimlag skalks dat hy nie moet sien dat ek kyk nie. Hy sien dit wel en kyk skaam weg en halt die singery vir 'n rukkie. Dit gee my kans om verder te kyk. Langs ons opkomende pop ster lê 'n kind in die stof. Gesig ondertoe. Ek skrik eers en wil uitspring en help. Maar iets aan die maats in die kring laat my bly sit. Ek kyk weer en besef met 'n skok hys dronk!

Nou ek het nie my eie kinders nie en kan nie goed ouderdomme skat van ander se kinders nie, maar hierdie dronk lyf kan nie ouer as 11 wees nie. Miskien 10 of 12, maar 'n laerskool bondeltjie wat moes smul aan 'n pienk melkskommel en slaptjips en lekkers. Eers is ek verstom. Veral toe ek uitklim, die maatjies uitvra en besef dat hy in die plaaslike laerskool is. Aan die anderkant van die muurtjie lê 'n tweede dronk kind. Sy t-hemp is vol kots en hy stoei om dit uit te kry terwyl sy maats spot en skel. Eensklaps is ek woedend! 'n Magdom vrae vlieg gelyk deur my kop: waar is sy Ma? Het hy 'n ma? Waar kry hy helder oordag genoeg drank om hom in hierdie toestand te kry? Waar is sy onderwyser? Hoe het hy hier gekom? Onder wie se toesig is hy vir die dag? Werk sy ma niks vermoedend? Wie in Porterville verkoop alkohol aan 'n elfjarige!! Dis 'n kriminele oortreding! 

My kop hardloop wye draaie na my sussie se elfjarige dogtertjie en alles waaraan ons kinders blootgestel word vandag. Tussendeur luister ek met skok en afgryse na die gesprek in die vriendekring langs ons motor. Alles in die gesprek gaan oor drank. Alles. 

Net voor ons ry neem ek foto's van die twee stormdronk kinders en die walglike gevolge van hul onvermoë om drank te hanteer in die grond langs hulle. Ek is gedetermineerd. Ek moet iets hieraan doen. Vrydagnag slaap ek niks nie. Ek sien die vier glasige oë voortdurend voor my en weet ek is deel van die gemeenskap wat iets moet doen.  It takes a village to raise a community. I am that village.