Monday, May 13, 2019

Aqaba in Jordanië

14 Mei 2019



Tannie Alison was toe reg en verkeerd oor Aqaba. Sy is die toerisme-kenner wat gereeld praatjies aanbied op die skip oor al die plekke waar ons aandoen. Die rede hoekom die skip aandoen by Aqaba (eintlik ‘n ompad vat om daar te kom) is om mense by Petra uit te bring. Dit is een van die oorspronklike sewe wonders van die wêreld en ongelooflik! Ons was daar in 2015 saam met ‘n Israel toer, so Aqaba-stad was ons voorland. Aanvanklik wou my Ma graag by ‘n wasgoedwas-plek uitkom...  Alison Hypher se indruk oor Aqaba is mistroostig. Sy waarsku ons ook oor die rooibus wat niks inhou nie. Ons verwagting was minder as min, maar kyk gaan ons kyk. En wat ‘n verrassing was dit nie. Dit is nie New York, Singapore of Hong Kong nie, maar dit probeer dit ook nie wees nie.

Die meeste mense op die boot gaan Petra toe en 24 groot busse lyn op om hulle op te tel. Ons het die eetsaal byna vir onsself. Die skip het al 07:00 gedok en ons is vroeg af. Daar mag geen voetgangers in die Aqaba Port stap nie en ons kry ‘n luukse gratis shuttle bus na die middedorp.  

Daar aangekom lyk dit presies soos wat Alison verduidelik het. Daar is die McDonalds met wifi, daar is die Hilton hotel met wifi en lugversorging. Dis ‘n droë hitte hier en daaraan is ek gewoond, so dis goed. Ons word oorval deur desperate taxi-bestuurders wat elkeen geld wil maak vandag. Almal bied toere aan wat erg wissel in prys. Die dinar geldeenheid van Jordanië is sterker as die pond, euro en dollar en trek op meer as R25 op 1 dinar. Ons vermoed hulle moet iewers sterk hulpbronne hê en lees later op google dat hulle fosfaat, potas, klerasie, groente en aptekersgoedere uitvoer na hoofsaaklik die VSA en Saudi Arabië.
Ons sien ‘n pyl na ‘n Water Closet, maar vermoed dat dit oosterse hurktoilette sal wees. Wat ons nie besef het nie, is dat hulle in hulle heilige maand van Ramadan is en dat alles toe is tot 12:00. 

Wel, dit is 08:30 en ons sien nie juis iets om die tyd mee om te kry nie. ‘n Plaaslike toergids/taxidrywer met uiterste deursettingsvermoë agtervolg ons om vir ons die enigste oop winkel te wys. Ons probeer hom afskud omdat ons weet hy gaan geld vra vir sy ongevraagde dienste.

 Dit is toe ‘n pragtige winkel met allerhande toerisme snuisterye en julle weet watse kaggelgoedjies. Ons stap verder om die blok en vind wraggies ‘n wasgoedwas-plek! Maar dit is ook toe. Ons neem fotos van mooi geboue en resorts en sien mooi interessante bome en blomme. Na ons eerste rondte deur die stad probeer ons die McDonalds vir ‘n westerse toilet, maar hulle vier ook Ramadan agter ‘n dik slot. Ons besluit die rooibus is net die ding en koop drie kaartjies teen 5 dolaar elk (hulle het nog nooit gehoor van pensioenafslag nie) en gaan aanboord. Vir die volgende veertig minute sien ons ‘n pragtige stad met mooi moderne geboue en skoon speelparke en die mooiste watersirkel in die middel van die stad bekend as die Princess Haya sirkel. 

Aqaba is die enigste hawestad in Jordanië en baie bekend vir snorkel op die riwwe van die rooisee 
met son tot op 150 meter wat sigbaarheid baie goed maak. Dit is ook die stad in Jordanië met die grootste bevolking. As gevolg van Ramadan sien ons dit nie. Die strate is amper verlate.

So halfweg deur die rooibus toer, stop ons op ‘n heuwel en die gids beduie dat mens van hierdie punt af vier lande sien en wys hulle aan ons uit. Saudi Arabië, Jordanië, Israel en Egipte. Die Israeliese stad van Eilat lê reg langs Aqaba. Hierdie rooibus is nie ‘n hop-on, hop-off nie. Jy klim eenkeer op en na 40 minute eenkeer af, maar ons is tevrede dat dit vir ons ‘n goeie prentjie van Aqaba gegee het.


Die strate is versier vir Ramadan. 

Die sirkel van Prinses Haya 

Die son sak oor die Rooisee en Egipte en ons is oppad na ons volgende avontuur. Die Seuzkanaal in Egipte.

Wêreldreisigers op die rooibus in Aqaba. 

Hierdie windterbinus vinne lê by die talle in hul hawe en word seker uitgevoer. 

Nog ‘n pragtige vrugterangskikking op die boot.



Die punt vanwaar mens vier lande kan sien.



Ons wag vir die winkels om oop te gaan.

Ek neem fotos van registrasienommers reg oor die wêreld. Hier is hulle s’n. 

Wasgoed! Ons was maar in ons kajuut.

Ons is nou reeds weer in die linkerkantste vinger (Golf van Seuz) oppad na die Seuzkanaal waar ons laatmiddag sal aankom.

Die middelpunt van ons skip met ‘n trippel volume ruimte wat pragtig is en ‘n heerlike kuierplek. Ook die sterkste wifi.

Môre vertel ek oor die Seuzkanaal! Ek kan nie wag nie.





No comments:

Post a Comment