Saturday, May 25, 2019

Vienna (Wene): stad van pragtige paleise en nog mooier musiek

24 en 25 Mei 2019
Ons ry van Ljubljana in Slonenië die 398 km na Vienna in Oostenryk met ons Fiat Talento en sien die mooiste goed langs die pad. Ek was 26 jaar terug ook in Vienna net na ek klaar studeer het. Toe was dit in Desember en in die middel van die winter. Hierdie keer lyk die lente-stad heeltemal anders. Ons plak net ons tasse neer by 19 Geblergasse en vaar die stad in met hul gerieflike trems en undergrounds. Ons stap na Alser Grasse stasie, koop ‘n 24 uur kaartjie vir 8 euro elk en kry die no 43 trem tot by Schottertor. Daar klim ons oor op die no 1 trem en Schwedenplatz, vanwaar ons ‘n vaart op die baie bekende Danube rivier wil doen.  Die rivier is bekendgemaak deur Johann Strauss se bekende wals oor die blou danau.  In Piketberg bly een van gunsteling tannies, Tannie Colla. Sy is bykans 90 en het ‘n paar lesse by my gehad oor hoe om whatsapp voice recordings te stuur vir haar familie en vriende. Haar heel eerste voice recording aan my sal ek nooit vergeet nie: “dit is die song wat die danau blou gemaak het”. Wel, sy is reg. Ons het weliswaar net die rivier vir ‘n u-turn deur die  boot gesien en meestal op die Danau kanaal gevaar vir drie ure, maar die stukkie wat ek daarvan gesien het, kan ek getuig dat dit meestal koffie bruin water is. Maar die sonsondergang fotos het ‘n skynseltjie blou by en wie is ons om met die wêreldberoemde Johann Strauss te stry. As hy vir ‘n rukkie wil dien dit is blou, dan is dit blou.

Vienna is wêreldberoemd as die musiekstad. Wolfgang Amadeur Mozart, Johann Strauss, Ludwig Beethoven en talle ander bekende musikante het dit huis genoem. Ook ander beroemdes en berugtes. Sigmund Freud, Arnold Schwarzenneger en Hitler was en is almal van Vienna.

Hier is talle imperialistiese paleise. Schönbrunn is my gunsteling en het 26 jaar terug die grootste indruk op my gemaak. Dit betekn ‘beautiful fountain’ en is vernoem na die sterk fontein op die paleis se gronde. Vienna spog juis met die gehalte van hul drinkwater wat direk uit die Alpe grawiteer na elke huis in Vienna. Ons glo hulle en drink bottels vol.
Die Schönbrunn paleis is die somer vakansie huisie van die Habsburg familie. Maria Theresa en Sisi is twee van die dogters en Maria Theresa was die enigste vroulike keiser nog ooit in hul geskiedenis. Sy het baie gedoen vir Vienna en onder andere gelyke opvoeding vir seuns en dogters ingestel.

Hier is talle museums. Ek sou graag die Gustav Klimt een wou gaan sien, maar daar was net nie tyd nie. Ons doen die Big Bus se hop-on hop-off van vroeg tot laat en voltooi die rooi en blou roetes. Dis werklik waarde vir geld en mens sien so baie in ‘n baie kort tyd. Gustav Klimt se goed het ek leer ken deur Esta de Jager in Harmonie koshuis op Stellenbosch Universiteit. Sy was mal daaroor en het afdrukke gehad van al sy goed. Baie aan jou gedink vandag Esta!

Oostenryk bestaan uit nege state, waarvan die stad Vienna een is. Vienna is ook die Federale Hoofstad en die grootste stad in Oostenryk. ‘n Kwart van die land se bevolking bly in Vienna. Natuurlik ook omdat die res van die land erg bergagtig en onbewoonbaar is. Vienna is nou al vir 7 jaar na mekaar aangewys as die ‘most liveable city in the world’. Mens sien die rede hiervoor orals. ‘n Derde van Vienna se inwoners bly in woonstelle wat hulle gesubsidieerd huur by die Munisipaliteit hier. Maar dis nie sommer enige woonstelle nie. Sien gerus die foto hieronder. Kunswerke!

Die Vienna’s wat ons eet en die Wiener Schnitzel het hul ontstaan te danke aan Vienna en ons eet vandag albei. Eersgenoemde by ontbyt en laasgenoemde by ‘n grand padkafee langs die blou roete. Ons knyp maar oë toe en betaal die R463,42 per persoon. Europa se kos is baie duur!

Op die rooi busse speel hulle die mooiste musiek tussen die vertellings deur. Almal hier praat Duits en ons verstaan dit maklik en kom maklik oor die weg.

Gister tydens ons vaart op die Danua kanaal sien ons duisende studente op die kanaaloewers. Dit is Vrydagmiddag en hulle hou piekniek en span behoorlik uit. Later sien ons daar is ‘n rock concert aan die opslaan langs die oewer. Hier is baie universiteite in Vienna en duisende studente.

Die kanaalmure is beplak met grafitti. Ons vervies ons eintlik daarvoor, maar hoor vandag dat die stadsraad groot probleme gehad het met onwettige grafitti op die geboue in die stad dat hulle saam met die grafitti leiers besluit het om sekere grafitti gebiede te skep waar hulle kan malgaan. Die kanaal is so ‘n plek. En hulle het!























Lekker humor wag om elke draai.

        Hierdie is hulle staatsbehuising! Ek het julle gesê dit is in ‘n ander klas!

1 comment:

  1. Mooi herinneringe~jy laat my wonder waar is my plakboek met fotos van Wenen. Daai jare het mens nog jou regte fotos in regte boeke geplak :-)

    ReplyDelete