Monday, May 6, 2019

Koning Neptinus en die oorsteek van die ewenaar

6 Mei 2019
Vandag was fantasties! Dit is ons eerste seedag van ‘n reeks van 8 agtereenvolgende dae tussen Seychelles en Aqaba in Jordanië waar ons sal wees op 13 Mei. Ons slaap heerlik laat en begin ons dag in die jacuzzi. Daarna vinnig eet vir my en afsit na die handwerk-klas, wat ek nou nie meer wil mis nie. Dis heerlik ontspannend en interessant. My Pa en Ma gaan eet ontbyt in die L’Oleandro Restaurant op dek 5 en ontmoet Duitsers wat saam eet. Later speel ons kaart in die kaartkamer en sit af dek 13 toe waar daar vandag vele bedrywighede wag. Ons kruis vandag ongeveer 10:30 die ewenaar en in die oer-oue tradisie (volgens google sedert 399 voor Christus) vier seevaarders dit op ‘n spesiale manier. Die nuwe ewenaar-kruisers moet ingelyf word! Almal wat wou deelneem aan die seremonie kon gaan aanmeld. Ons kies om toeskouers te wees en is later heel dankbaar. Op die foto hierbo kan mens sien hoeveel toeskouers daar was. Die dek was nog nooit so gepak nie.




Die ritueel sluit in dat die nuwelinge vol meel, tamatiesous, room en iets wat soos koffie of kakao lyk gesmeer word en dit dan in die swembad afwas.  Die arme bemanning wat die swembad moes skoonmaak na die tyd, het seker nie ‘n keuse gehad nie.





Vanoggend vroeg sit ons weer ouder  gewoonte op dek 13 heelagter op die skip en tee drink en sien hoe seepglad die water vandag is. Dit is ook ‘n kleur wat ek dit nog nooit gesien het nie. Amper kobaltblou. Absoluut stunning! Die wolke van vroegoggend droog gou op en teen vanmiddag is daar nie ‘n wolk in sig nie. Dis warm! Ek onthou dat Badru van Uganda vertel het dat hulle net twee seisoene het as ‘n land wat op die ewenaar lê: hot with rain en hot without rain. Die ‘hot’ is nie onderhandelbaar nie. Interessant genoeg lees ek vandag oor die ewenaar en leer dat daar 14 lande is wat gekruis word deur die denkbeeldige lyn wat die ewenaar genoem word en dat daar selfs ‘n plek op die ewenaar is waar dit sneeu. Dit is in Equador op Vulkaan Cayambe wat 4690 m hoog is. Die res van die ewenaar is soos beskryf deur Badru. 


Die ewenaar is 25000 myl lank en as jy op die ewenaar bly ervaar jy die vinnigste sonsopkomste en sonsondergange. Net enkele minute lank. Hierdie plekke het ook konstante 12 uur van dag en nag dwarsdeur die jaar. Amper die helfte van die wêreld se reënwoude lê op die ewenaar in Brazilië, Kongo en Indonesië. Die wêreld se hoogste konsentrasie van armoede lê ook rondom die ewenaar. 



Vanaand se tema vir aandete is elegant en ons trek mooi aan. Hier onder is ons kelner, Edi Katut, by my Pa in hul eleganste uniforms. Edi is van Bali in Indonesië en seker die hitte gewoond. Die lugverkoeling op die skip werk vandag oortyd.


Soos ek hier op dek 6 sit, speel daar ‘n saksifoon ‘n ligte jazz aan my regterkant, daar is die sagte gedreun van ‘n watervalletjie en iewers praat groepies mense in die agtergrond. Ons hoor ook baie afrikaans. Ek besef net weer die grootsheid van die voorreg om hier te kan wees.

No comments:

Post a Comment