Dit is 14:15. Dit is Moedersdag. Ons vier dit deur net na 12:00 aan te sit in die L’Oleandro Restaurant agter op dek 5 vir ‘n heerlike driegang ete. My Ma kies weer die salm steak wat dit was gister onverbeterlik en is weer beskikbaar. Ek en my Pa probeer die aspersies en ‘sole’. Vir nagereg vat ek die rum en raisen roomys. Hulle maak die wonderlikste roomys op die skip. Ons gunsteling is die koffie roomys of soos ons Indonesiese kelner, Edi, sê: coppee icecream. Maar ek hak vas by die ete, soos soveel vorige kere in die afgelope twee weke. Daar sal kamp staaldraad moet wees sodra ons tuiskom.
Ons drink ook ‘n merlot shiraz versnit uit die Robertsonvallei van Excelsior en dit is goed. Hier is wonderlike SA wyne aan boord vir goeie pryse gemeet teen die Europese wyne. Ons moes steeds dubbel uitruk wat jy daarvoor in SA sal betaal, maar nou ja...
Dit was miskien juis die Robertsonse invloed wat gemaak het dat ek vroeër as gewoonlik op ‘n Sondagmiddagslapie besluit het.
Karnavalaand aan boord en ons gaan groot! Ja julle is reg, daar is nie veel mense in die agtergrond wat saamgespeel het nie😀.
Ek het nog die WOW woordspeletjie op my tablet gespeel en net aan die slaap geraak toe daar ‘n harde klop aan die deur is. Ek en my Ma vermoed dit is my Pa wat miskien sy cruisekaart vergeet het (jou sleutel tot alles op die boot), maar my Ma maak oop (ek slaap bo en ‘n leerklim ver van die deur). Dit is ‘n gawe gryskop Duitse vrou wat vra of dit die kajuut is van die vrou wat die charity teddiebeertjies brei. Ja, sê ons. My Ma het haar pajamas aan (ek ook, want ons het ‘n lang slapie beplan totdat my Pa klaar voëls gekyk het op dek 7 en ons kom haal om te swem op dek 13 en 14) en ons hou die deur half toe. Die Duitse vrou druk deur en sê sy hoor by die vrouens in die handwerk-klas dat my wol nou op is en sy bring vir my wol!
Wel, hierdie teddiebeertjies het nou ‘n lewe van hul eie gekry.
Vir my het dit in 1997 begin toe ek in Stellenbosch gaan bly en werk het. Daar het ek vir Ingrid Linde ontmoet in die Boord wat ‘n groot welsynsprojek koordineer wat gebreide teddies lewer aan die kinderhospitale in die Wes-Kaap. Ek brei al 22 jaar saam en het lankal ophou tel. Op die boot was baie geinteresseerd en is die patroon intussen versprei tussen almal wat wol en penne aanboord het. Net vanoggend het nog ‘n vrou vir my twee bolle wol kom skenk in die teater, omdat al die wol wat ek gebring het (5 en ‘n halwe bere s’n) nou klaar gebrei is. ‘n Ander vrou wat voorheen in SA gebly het is nou in Nieu Zeeland en het dadelik begin om so ‘n projek in NZ te organiseer. Sy is ‘n raakvatter en sal dit maklik van stapel stuur. By die handwerkklas elke seedag kom neem ‘n Australiese vrou ‘n foto van my wat die bere brei en stuur dit vir haar vriendin in Australië wat ook sulke bere brei vir hospitale. ‘n Ander vrou uit Oudtshoorn vertel hulle brei vir die kinderafdeling vir prem babas in hulle hospitaal. Die liefdadigheid ken geen perke nie.
Ons naaldwerkklas aan boord om 09:00 en 14:00 elke dag. Ons maak die mooiste goed en leer nuwe tegnieke. Ek geniet dit baie.
Hierdie is gister 06:30 geneem toe ons uit die Golf van Aden gevaar het in die Rooisee in by die smal deurgang tussen Djibouti en Yemen. Ons kon beide kante land sien.
Karnavalaand!
Die vrugte rangskikkings op die boot is fantasties.
Ons uitsig uit die buffet restaurant op dek 13 waar ons ontbyt eet en ek nou sit en tik.
Die voorskoot wat ek gemaak het in die kreatiewe klas aan boord.
Ontbyt op die dek agter op dek 13.
Ons gaan vanaand in die seestraat van Tiran in in die golf van Aqaba en is môreoggend vroeg by Aqaba, die enigste hawestad in Jordanië. Die meeste mense aanboord gaan Petra toe (een van die sewe wonders van die wêreld), maar ons was in 2015 daar toe ons in Israel en Jordanië getoer het. Alison Hypher wat elke oggend praatjies hou oor die plekke waar ons aandoen, dink nie te veel van Aqaba nie, so ons sal maar wag en sien. Haar praatjie vanoggend oor die Seuzkanaal was fantasties en ons kan nie wag om dit te sien nie. Ons is Dinsdag daar. Geseënde Moedersdag vir elkeen van julle wat hier lees en ‘n Moeder is. Baie seën vir julle.
Ek vertel weer môre na Aqaba. Ek hoop daar is ‘n wolwinkel.
Was heerlik om te lees. Hartsvakansie deur my oë. Geniet dit verder. x
ReplyDelete