Thursday, May 23, 2019

Ljubljana: stad van Linde-bome en drake

23 Mei 2019


Ons het gisteroggend ‘n Fiat Talento 9 sitplek gehuur op Marco Polo lughawe in Venesië en vertrek na Ljubljana (uitgespreek as Lubeljana) in Slovenië. Dit is hulle hoofstad en ‘n pragtige stad met die Ljubljanica- rivier wat daardeur vloei. Ons bly naby die ou stad, maar het ons eers morsdood gesoek na die booking.com woonstel wat my Pa se neef, Oom Bob geboek het. Toe ons aanvanklik by die adres kom wat hulle op die epos gestuur het, is dit glad nie daar nie. Ons vra rond en die meeste mense hier se engels is min of meer soos my Sloveniaans: non existing! Ons gaan soek af in die blok by ‘n luxury hotel en vind ‘n man wat engels verstaan. Hy help ons om hulle te soek op google en gee ons hulle adres. Toe ons daar kom is die hele gebou onder konstruksie vir opgradering en dit lyk onmoontlik dat ons hier kan bly. Die werkers gooi klippe so groot soos koelbokse van die dak af en dit land luid in ‘n konstruksie container. Ons begin vrees dat dit ‘n scam is, maar druk deur.  Ons klop aan baie deure en vra rond. Kry later nog ‘n nommer van die vrou wat die een woonstel verhuur. Ure gaan verby. Ons begin bel. Ek moet dit doen via international roaming en tel die sekondes sekuur af. Ons vind die naam en nommer via via via en kom uiteindelik uit by Marco. Hy verhuur Vega

Apartment 1 en sê hy sal oor 10 minute by ons wees. 28 minute later kom hy daar aan. Ek was lus om te vra of hulle ander horlosies gebruik as die res van die wêreld, maar byt my tong. Kruip Fila! Intussen sit my Ma saam met ons Amerikaanse gaste in ons Fiat gehuurde motor in ‘n parkeerarea blokke weg. Ons vermoed hulle soek lankal ‘n water closet. Ons ook! Drie ure later kry ons twee woonstelle vir die prys van een, op die grondvloer en met ‘n parkeerplek reg voor die plek vir dieselfde prys as een. So ons vergewe vir Marco en trek in.

Ons het vanoggend laas geëet in Venesië en gaan soek ‘n restaurant. Ons bly in die Universiteitsgebied en kry ‘n pizza plek. Later sê Tannie Laurie dat sy nou deur geëet is aan Italiaanse kos, maar dit was heerlik!

Vandag was ons vroeg op en gaan soek ‘n McDonalds vir ontbyt. Europa se kos is duur en mens kom nie sommer verby onder 15 euro per ete nie. Dit is R240 en bo ons begroting.
In McDonalds kan jy genoeg eet om ons tot vanaand te hou vir 3,06 euro. Wat ‘n bargain!

Vandag doen ons die Kasteel in Ljubljana en ‘n staptoer van die stad. Die kasteeltoer sluit ‘n kabelkarretjie rit op en af na die kasteel in. Ons geniet dit baie en leer baie van die stap. Ek en my ouers klim 155 trappe na die uitkyktoring en neem baie mooi fotos van die stad en van die sneeu op die Sloveense Alpe in die verte.  Hier is tans ‘n liggie fees in die stad en ons gaan dit vanaand kyk. Dit begin 21:30. Soos ek hier sit en tik, sit ons vyf om die tafel in die een woonstel.

My ouers en Oom Bob en Tannie Laurie kyk fotos van dekades gelede wat Oom Bob gebring het. Hulle ruil stories uit van hul ouers en dit is baie interessant. My Pa se neef bly in Florida. Hulle praat van tye toe die rand sterker was as die dollar (75 sent). Moet baie lank terug wees! Ja, daar was sulke tye.
Môre ry ons na Vienna (Wene) in Oostenryk. Oppad hierheen het ons deur die stad Trieste gery.
Laurika Rauch sing ‘n liedjie waarvan die koor sê: Valencia, Boekarest, en dan is daar Trieste, Badenfest, Carcasonne, en dan is daar Trieste, Moembaai, Lissabon, en dan is daar Trieste.  So ons moes net sien hoe Trieste lyk en het die GPS gestel op Trieste Waterfront. Trieste is op die heel noordelikste kant van die Adriatiese See. Dit het ‘n mooi kasteel en ‘n lang promenade. Ons stop en bekyk alles. Later vat die GPS ons op ‘n baie nou en hoë paadjie om weer by die A1 te kom oppad na Slovenië. Ons soek desperaat na ‘n afdraaiplek om fotos te neem, maar vind niks.

“O, ek onthou weer ek onthou
Die Swartwoud en die Blou Donau
‘n Klein hotel in Badenfest
En dan is daar Trieste...”






Die Lindeboom se blaar. Dit is die blaar wat op die Linde se familiewapen is. Die Lindeboom is die nasionale boom van Slovenië en hulle is orals hier te sien.


Hulle vars produkte mark is stunning!





Ek was mal oor hul stadsvlag voor hul stadsaal. 


Die mooiste wolke gesien vandag. 


Vanuit die uitkykpunt in die kasteel. 
















Hierdie is hulle nasionale biblioteek by die Universiteit .


Hierdie elektriese karretjies behoort aan die stad en vervoer enigeen gratis.


Lindeboom








‘n Caravan van kinders. Oulike manier om hulle te vervoer. 


Nou moet ek julle eers vertel van my Oom Bob se oulike plan.  Hy het gelees op google van die Burcher’s brug in Ljubljana waar mense hul slotte ophang en die sleutels in die rivier gooi. Toe koop hy ‘n slot in Amerika en laat dit grafeer met hul name en vandag het hulle dit op die brug gehang en die sleutels  weggegooi. Die hele staptoergroep het gecheer. 

Die brug met die slotte.

Ons het gedink hierdie arme man het seker ook nie sy blyplek gekry gisteraand nie. 

Die slot van Oom Bob. 













Die 155 trappe by die kasteel

My ouers by die uitkykpunt. Wat ‘n voorreg om saam met hulle te toer.










No comments:

Post a Comment