Wednesday, March 21, 2018

Tierra del Fuego

Ek kan amper nie wag om vanmiddag terug te kom by ons De Los Andes hotel in San Martinstraat, Ushuaia nie.  Terug by wifi sodat ek julle kan begin vertel van ‘n fantastiese dag.  Waar begin ‘n mens. Wow! Wow! Wow!

 


Vanoggend google ek en Sonja al ons vrae. Baie vriende laat weet op facebook wat ons nog alles hier moet sien en ons bekyk die tronk, lees alles oor Beagle kanaal, Kaap Horing en wonder weer wat ons ooit sonder google gemaak het.  Ons kan tot die roep van ‘n Condor luister op google.  Bewapen met kennis vir die dag sit ons af voorportaal toe waar ons gids Carla, ons vir die dag kom kry.

Ons het moeite gehad om te besluit wat om alles aan te trek, want vandag moet ons stap langs die Beagle kanaal se kuslyn en roei op yskoue water. Ons besluit op waterdigte baadjies, donsighede vir hitte, goeie sonblok en baie lae tussenin.  Verder lang broeke en goeie skoene en daar gaan ons.  Baie groot was ons verbasing toe ons die volgende geselskap oplaai by die jeughuis drie blokke verder en Charles, Matthew en Sofie doodluiters opklim met kortbroeke!  Ons bespiegel dat hulle verseker van  die suidpool af kom, maar hoor vinnig dat hulle Britte is wat die W-roete gister klaargemaak het en gisteraand oor te veel rooiwyn besluit het om vandag saam te kom. Hul planne werk toe nie uit nie, want al hul klere is toe reeds by die washuis in Ushuaia.  Die ys was gebreek.

Ons gaan vandag na die Tierra del Fuego Nasionale Park 12 km van Ushuaia af en begin daar stap vanaf Zaratiegui Bay al langs die kus van die Beagle kanaal tot by Lapataia Bay en oor die laaste bergie na die grondpad waar die drywer en roei-instrukteur ons kry. Die stap was asemrowend van mooigeid en ook van moegheid. Om julle ‘n idee te gee: In Piketberg stap ek en twee vriendinne, Hannie en Carina elke oggend 05:15 die bergpad. Dit is 4,5 km en op my fitbit verplaas ons 31 vloere.  34 as ek Buitengrachtstraat opstap en nie voor  die ouetehuis verbykom nie.  Op ‘n goeie oggend slaan my Fitbit 7000 treë voordat ek terug is by die huis.  Wel, vandag se stap was 22000 treë en ‘n allemintige 161 vloere! Geen wonder dat my toermaat nou uitgepass lê hier langs my nie. Hard maar lekker!

    
Ons stap die blou roete. 



   

  


   

  

  Kaalbeen  



   

   

Ons gids, Carla, is uiters kundig en het ‘n pragtige manier om jou lief te maak vir haar tuisland. Mens hou sommer dadelik van haar. Die weer speel saam. Beter kon ons nie gevra het nie. Ons sien ook mooi voëls. Veral die Southern Crested Caracara en die Chimango Caracara. Ek kon mooi fotos van hulle ook kry: 
  

  

Na ‘n heerlike middagete van kaas, tamatie en olyf  sosaties en ‘n glas rooiwyn vir voorgereg, hoender potjie vir hoofgereg en vrugteslaai vir nagereg, is ons reg om te gaan roei op die Beagle kanaal. Aanvanklik was ons min lus om nou in die koue water te moet gaan, maar toe ons eers ons reddingsbaadjies, waterdigte oorbroeke en waterbootse aan het, kon niks ons keer nie. Om agt vreemdelinge in harmonie te laat roei verg moeite, maar ek en  Sonja was nie verniet in die weermag nie en ons lei die aanslag. Die wind is vrek sterk en ons moet uithaal en wys. Later tel ons in Spaans, Portugees, Afrikaans, Engels, Duits en toe volg die dae van die week en die maande van die jaar. Die wat die taal ken, sê voor en die res papegaai dit na. Net om almal se spane gelyk in die water te kry. Wel, dit het gewerk! Ons kon vir Beagle wys wie is baas.
 

 


Nou gaan ons rus totdat ons honger word en dan sal ons iets gaan soek om te eet. Dit was ‘n wonderlike dag.




3 comments:

  1. Hanlie ek toer lekker saam. Klink fantasties

    ReplyDelete
  2. So absoluut opwindend! Jou entoesiasme is aansteeklik. Kou die ontdekkings soos 'n soet appel - dat die sop spat. Mooi bly.

    ReplyDelete
  3. sJOE, DIT KLINK HEERLIK OPWINDEND!!!

    ReplyDelete