Saturday, June 6, 2020

Na waters waar rus is...



Gisteroggend se vallei van vrede...



Dit is al na 09:00 toe die son die eerste keer vanoggend deur die wolke beur.  Ek het pas ‘n baksel karringmelkbeskuit in die oond gedruk en met my koppie earl grey tee stoep toe gestap.  Die bokmakierie roep al van vroeg af.  Die dek is nat en dit maak ons dankbaar. CP, my buurman aan die bokant, het net gisteraand gesê selfs elke bietjie dou help as dit nie reën nie. Ons kyk met angstige verlange uit na die beloofde reën wat YR voorspel vir Woensdag hierdie week.  Ons landbouers kan nie nog ‘n droogtejaar oorleef nie. 

Daar hardloop so baie goed oor ons landbouers deur my kop soos ek hier tik en ek wil alles gelyk vertel...  Maar laat ek by die begin begin.
Ons het hierdie week 16 ton (!) meel geskenk gekry van die koringboere in ons gebied.  Dit is afgelaai op ‘n veilige bewaringsplek en sal deur gewillige NGO’s uitgedeel word volgens die goedgekeurde uitdeelplan in al ons gebiede. Ons is oneindig dankbaar daarvoor.  Ek kan saam met so baie ander getuig: ons Hemelse Vader weet wat elkeen van ons nodig het en het nog dwarsdeur lockdown in oorvloed voorsien – appels by die tonne, naartjies, aartappels, patats, uie, ander groente, meel, tenke vol sop wat vrywilligers aandra, potte en potte pap vir die haweloses en so kan ek ‘n boek vol skryf.  ‘n Gemeenskap in aksie! Wat ‘n voorreg om te aanskou.  Hoe sal ons ooit genoeg kan dankie sê?  As jy hier lees en op enige manier gehelp het met enige van hierdie gemeenskapsdienste, baie baie baie dankie.

Ek dink ook aan die mooi sêding wat ‘n boer op die Lesotho-grens met Kabous Meiring gedeel het en sy met ons op Prontuit: “As die Here ons hierdie jaar nie help nie, sal dit die eerste keer wees.”  Ons kan waarlik dieselfde getuig.

Ek kon die karringmelkbeskuit bloot van Tillies bestel het. Maar vandag is my afdag en bak laat my van baie dinge vergeet.  Ek kom uit ‘n bakkers huis. My Ma het vir dekades by ‘n tuisnywerheid in die Paarl gewerk en beskuit bak was deel van my grootword.  Sy het semel- en karringmelkbeskuit vir die winkel gelewer en ek het baie daarvan geknie.  Vanoggend bak ek ‘n mengsel van haar beproefde resep en Neef Gert se resep vir die karringmelkbeskuit waarmee hy ons betower het in die Richtersveld verlede September.  Die grap is sy karringmelkbeskuit kry geen karringmelk in nie! Ek maak ‘n allemintige 10 koppies meel en moes my kampskotteljie gaan uithaal en was toe ek die res van die bestanddele wou inmeng.  My koekmeel is vanoggend te min en ek vul dit aan met mieliemeel.  Lekker bros bevestig my Ma later oor die telefoon.  Later bekyk ek my kombuisvloer wat Katrina Maandag met soveel sorg gewas het en besluit die R50 wat Tillies vra vir 500 gram beskuit is ‘n bargain.  Maar die terapie wat ek kosteloos opdoen, maak bak steeds die moeite werd.

Dankie vir elke bemoedigende boodskap en gebed wat ek in die week ontvang het.  Dit help.



Ek bekyk my uitgegroeide naels vanoggend en besluit om dit te deel. Ek het die foto geneem deur my selfoon dwars op my kombuiskas staan te maak en die kameraknoppie met my tong te druk. ‘n Iphone se kamera was nog altyd vir my ongelooflik, maar die feit dat ek die knoppie met my tong kan druk, beindruk my van voor af.  Ek mis my skoonheidsalon met 'n passie en praat met baie ander vrouens wat dieselfde verlange het.  Daar gaan 'n baie lang ry wees.

Ek het al soveel fotos die afgelope lockdown-tyd van my stoep af geneem. Dis asof ek die uitsig elke dag weer vir die eerste keer sien en beleef en as ek eerlik moet wees, was dit die eerste keer dat ek dit op sekere tye van die dag gesien het, want voor lockdown was ek nooit tuis om dit te geniet nie. Nou kon ek sien hoe die son opkom, wolke vergader, die maan sy kop uitsteek en die mis oor die vallei verskillende lae vorm. Mag ek nooit weer te min by die huis wees om dit te geniet nie. 

Ek moes selfs gister ‘n paar ongebruikte apps op my foon uitvee om plek te maak vir meer fotos.  Die spieëltjie app, my tweede candy crash wat ek net gebruik as my 5 lewens op candy crash primêr op is, my "elf-yourself" wat net tydens Kerstyd pret bring en treëteller wat ek gebruik het voordat ek my fitbit besit het, bly almal in die slag.  Dis ongelooflik hoeveel plek dit beskikbaar maak op my foon. En dit nadat ek Maandag reeds R14,99 per maand betaal het om my iCloud account op te gradeer.  Hierdie vierde industriële rewolusie het ons toe vinniger ingehaal as wat ons gehoop het.  Ek is so trots op almal van my generasie en ouer wat regtig probeer om in te kom met die virtuele alles.

Die getalle groei steeds in die Wes-Kaap. Vinnig. Verlede Sondag kom massa-grafte die eerste keer ter sprake tydens ons MM-PTM vergadering.  Bergrivier Munisipaliteit is nou al op 70.  


Maar soos die President gesê het: Dit is nou in elkeen se eie hande.  Ons was reeds ons hande talle kere per dag. Maar minstens een daarvan sal in onskuld wees as die virus verder versprei as nodig omdat mense steeds self besluit om te volhard in hardnekkige sinnelose gedrag.    

Hier is die beste van my stoep-fotos:  Geniet dit saam met my.







Ek ruik nou my beskuit.  Mag elke dag in die komende week vir jou wees soos tuisgebakte karringmelkbeskuit en earl grey tee vir my is: onverbeterlik!

Ek sien uit na die dag wanneer ons dit weer nie-virtueel saam kan geniet.

No comments:

Post a Comment