Saturday, May 30, 2020

Elke huis het sy kruis




Dr Tony Hawkridge se whatsapp kom vroeg deur. Juis toe ek op my stoep sit en koffie drink. Ja, julle het reg gehoor. Ek het die afgelope 20 jaar net earl grey tee gedrink, maar sedert die begin van lockdown drink ek ‘n Americano elke oggend.  En die res van die dag earl grey tee.  Ek weet nie eintlik hoekom nie. Miskien was my behoefte aan kaffeien deur die moeilikste tye net te groot of miskien lê die moeilikste tye nog voor, wie weet.  Dr Hawkridge is die Hoof van Gesondheid vir Bergrivier en Swartland.  Voor 27 Maart 2020 het ek nog nooit van hom gehoor nie. Nou is ons op voornaamterme en ken ek tot die name van sy twee honde.  Na lang gesukkel met die protokolle van geheimhouding, mag hy nou ten minste vir my en die Munisipale Bestuurder van Swartland, my kollega Joggie, die daaglikse getalle deurgee van positiewe gevalle.  Nog geen name of adresse nie. Daaroor baklei ons nog. As ek ‘n lys moet maak van die aantal gevegte wat ek die afgelope drie maande moes baklei om die addisionele werk te verrig wat COVID na my posbeskrywing gebring het, sou ek vir Rocky Balboa laat skaam kry het.  En ek hou nie van baklei nie. Maar dit het deel geword van ons daaglikse bestaan. Niks kom maklik of eenvoudig nie.


Sy whatsapp is goed vir Bergrivier vanoggend. Net een positiewe geval ekstra vanoggend en dit is verkeerdelik op ons lys. Die onbekende persoon is van ‘n onbekende adres buite ons gebied, maar het verkeerdelik op ons lys beland.  Daar is ‘n Lettie in Gesondheid wat al die lyssuiwering moet doen en Tony sal dit vir haar stuur.  Ek maak ‘n nota om ook vir Lettie op my gebedslys te sit, want haar bloeddruk moet al deur die dak wees teen hierdie tyd.  Ek hoop my vriend Joggie sit voordat hy sy whatsapp lees.  27 April 2020 het ons ons eerste positiewe geval gehad in Bergrivier. Nou is ons kort duskant 3 dosyn.

Dankie vir al die lekker terugvoer oor whatsapp, facebook en op my blog. Ek waardeer dit baie.  Ek het nie hierdie week geskryf nie. Daar was net nie tyd nie.  Ek is jammer.  Ons moes voorberei vir ons eerste virtuele raadsvergadering in Bergrivier Munisipaliteit.  Ook ‘n Burgemeesterskomitee wat dit voorafgaan en waar die items bespreek en aanbeveel word.  Ek het net weer die waarde gesien van hoogs kundige mense op alle vlakke en wat dit beteken om uitstekende verhoudings te bou lank voor ‘n krisis.

Die mis lê wyd en laag oor die vallei vanoggend. Porterville sal naby aan middagete eers die son sien opkom.  Toegevou in ‘n kombers van genade.  En dit is veral nodig, want Porterville is die hoofattraksie van COVID gevalle in ons gebied.  Reeds 26 van ons 35.
Ek en Hannie stap eers 08:00 vanoggend en dit was heerlik.  Ek het vandag NIKS op my agenda nie en sien uit na elke oomblik daarvan.  Wat ‘n voorreg.  Ek gaan net teddiebere brei, ‘n laat ontbyt maak, die beet-hummus probeer wat Mynhard hierdie week gedemonstreer het en my agterstallige tv reekse inhaal.  Salig.

Een van die snaakste oomblikke van my week kom tydens ‘n ILGM konferensie Woensdag.  Institute for Local Government Managers.  Ek is een van min Professionele Geregistreerde Munisipale Bestuurders in SA.  Daar is 125 lede by ILGM in “good standing” en die kworum vir die konferensie is 25, maar ons sukkel om dit te kry.  Nie soseer oor ‘n gebrek aan belangstelling nie, maar almal is in ander virtuele vergaderings.  Die laaste week van Mei in ‘n Munisipaliteit is normaalweg ‘n baie besige week, want daar is talle wetlike goed wat voor einde Mei jaarliks deur die volle Raad moet gaan.  So hoekom die ILGM hierdie week kies om met MB’s te vergader, is ‘n vraag vir ‘n ander dag, maar dit is nie wat die pret opgelewer het nie.  Minstens 20 van die 25 wat saam met ons op Microsoft Teams die konferensie bywoon, het dit nog nie voorheen gedoen nie en Betty M (haar Teams naam) is een van hulle.  Sy kom van up-country en is gul en baldadig en hanteer Teams soos wat sy in ‘n groot konferensie saal sal inloop, ‘n gesprek aanknoop met almal, uitvra oor almal wat sy lanklaas gesien het.  ‘n Regte warm ouma tipe.  Maar van ‘n rekenaar mikrofoon verstaan sy niks en dink sy moet skree dat ons haar kan hoor uit Gauteng.  Ons het later soveel pret gehad, want die arme koordineerder, Jean, moet telkens eers vir almal kans gee om hul volume knoppies afwaarts aan te pas, voordat hy vir Betty M unmute en kans gee om op ons te skree.  Om nie van die honde, kinders, kombuisgeraas en wat nog alles in die agtergrond te praat nie. Die beste fasiliteit op teams of zoom is die mute knoppie wat die vergadering-host kan gebruik om enigeen te mute. Ek wens dit was in ‘n gewone aangesigsvergadering ook moontlik.  Sal baie van die vergaderings waarvan ek deel is, heelwat korter maak.


Die koue bring pragtige wolkformasies.

Ons Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Ray van Rooy, tydens ons eerste virtuele Burgemeesterskomitee-vergadering gister.  Ray se kalmte en geloof is opmerklik in hierdie krisis en dit getuig van baie Wysheid van Bo.

 Ek was baie trots op ons Raadslede gister.  Hulle het almal Donderdag in verskillende groepies opleiding ondergaan wat deur ons IT afdeling aangebied is, en het hulle baie goed van hulle taak gekwyt.  Nog ‘n eerste vir die geskiedenisboeke. 


 Soos ons virtuele Pinkster-reeks hierdie week.  Ek moet eerlik sê dit was fantasties om in die sneeukoue wat die Wes-Kaap beleef het, Pinksterdienste te kon bywoon via youtube in my winter pajamas, met my skaapvel-pantoffels en voor my gasverwarmer.  Martin het baie moeite gedoen en ons het ook gewys dat ons fisiese afstand hou maar nie hartsafstand nie deur elkeen ‘n kruis of ‘n hart teen ons kerk se heining vas te sit gedurende die week.  Was baie goed om te weet dat daar nog mense is wat die gemeenskap van gelowiges mis.

Ek gaan nou eers my geyser aansit en stort.  Mag hierdie naweek ‘n besielende ervaring wees.  Sterkte aan die Graad 12’s en Graad 7’s wat Maandag inval.  Die hersiene skoolkwartaal kalender het gister uitgekom en dit lyk woes na Desember toe.  Gelukkig het ek kaartjies vir Smokey se optrede in Grandwest op 11 Desember 2020 en het ek iets om na uit te sien.  Ek en Lean moes juis ons Morocco toer wat in Julie sou wees, hierdie week finaal vaarwel toeroep.  Uitstel, maar nie afstel nie.


1 comment:

  1. Love jou blogs Hanlie. Bid jou en Ray(ken hom van Steynville Sekonder se dae af) alle sterkte toe in hierdie tyd vol uitdagings. Veilig wees en sterk staan.

    ReplyDelete