Tuesday, May 19, 2020

In jou eie hande...



Ek raak nie maklik kwaad nie.  Maar die negatiwiteit wat tans die rondte doen in SA en seker ook elders in die wereld, is so onnodig soos parfuum spuit voor 'n zoom-vergadering.  Dit bou op oor die laaste week of twee en bereik amper epidermiese proporsies (soos Oom Oubaas sou gese het).  Ek dink baie oor die redes hiervoor en vind weer 'n moontlike verduideliking by Victor Frankl.  "The last of the human freedoms - To choose one's attitude in any given set of circumstances."

Ek dink mense voel vryheidloos en vergeet dan dat hulle steeds die vryheid het om te besluit hoe hulle oor hul eie situasie kan dink.  Jou lyf is ingeperk, nie jou gedagtes nie, nie jou gebede nie, nie jou besluite nie, nie jou gesindheid nie!  'n Vriendin se hierdie week vir my: "The more I stay home, the more I look homeless!"  Dit is definitief waar van my. My hare krul nou al van lankgeid en Hannon se rooi inwas shampoo het moed opgegee met my grys.

Waar staan jy met hierdie oorlog in jou kop?  Stop net vir 'n oomblik.  Dink daaroor!  Laat ons ophou kla net omdat dit 'n gewoonte is en die media ons bombardeer met negatiwiteit oor alles.  Die mense wat weet se mens moet elke dag 10 goed neerskryf waaroor jy dankbaar is.  Dit laat jou letterlik voel of jy opstyg soos in 'n vliegtuig. 'n Gevoel wat ons nou eers vir baie lank nie in 'n vliegtuig sal kan voel nie, so 10 dankbaarhede per dag sal dit wees!  Jou gesindheid is in jou eie hande.  Moenie hierdie laaste vryheid weggee aan die media of jou twitter-feed nie.  Klou daaraan vas met waaksaamheid wat pas by mense wat kan stil wees en weet wie die Here is.  Hy is in beheer, of ons dit nou onthou of nie.

Ek verlang vandag na my vliegtuig-dae. Ek sien uit na nog baie in die toekoms, maar vir nou reis ons virtueel.  My Pa en Ma en Ousus is besig om al my ouers se toervideo's te kyk van 1985 tot 1998.  Meestal in Amerika.  My Pa en Ma het al 50 state van Amerika getoer. 


 Vandag 'n jaar gelede was ek en my Pa en Ma in Split in Kroasie aan die einde van 'n bootvaart van Durban na Venesie.  Fantastiese herinneringe.  Ek toer ook virtueel terug op my blog en besef weer die voorreg van elektroniese dagboeke he van 2005 af.



Hierdie grappie wat vandag verbykom laat my lekker lag.  'n Hele paar ander ook. Gelukkig hou die humor nooit op nie.

By die Munisipaliteit is ons besig, soos 256 ander Munisipaliteite in die land, om te poog om 'n begroting voor einde Mei 2020 voor 'n virtuele Raad te kry wat min of meer klop.  Ons Raad wil soveel as moontlik afslag deurgee aan ons gemeenskappe wat bitter swaar kry en ons soek R21 miljoen.  Nie 'n maklike oefening nie.  Ek vermoed dis nog net die begin.  Ook by ons virtuele kerkraadsvergadering hierdie week is die begroting hoog op die prioriteitslys en sit meer mense met hul hande in hul baie lang hare.  Ons is ook besig om al die skole in ons gebied te ontsmet voordat die onderwysers volgende Maandag begin.



Soos baie ander virtuele vergaderings die afgelope maand sukkel ons ook aanvanklik met wie se mikrofone nou aan of af is en wie kan hoor en wie nie en wie het die uitnodiging ontvang en daarop gekliek en wat is die password.  Daar is 'n eerste keer vir elkeen.  Meeste mense het heelwat vinniger deel geword van die 4de industriele rewolusie as wat hulle wou. Nog 'n voordeel van Corona!

Ek is so trots op ons gemeenskap!  Hierdie mense het werklik 'n hart.  

Sedert 27 Maart 2020 tot 18 Mei 2020 is 8552 hampers versprei aan huishoudings wat kwalifiseer en is 55 965 etes uitgedeel.  Dit word gedoen deur 22 NGO’s in ons Bergrivier Munisipale gebied en in 9 dorpe en 7 wyke.  Dit word moontlik gemaak deur ontsettende oop harte en hande en beursies van boere, besighede, kerke, bure en baie meer.

In Piketberg het 100 vrywilligers gehelp om 4000 kospakkies (hampers) te pak op 28 – 30 April 2020 wat in die hele Bergrivier Munisipaliteit versprei is deur die NGO’s.

Baie baie baie baie dankie!  Ons waardeer almal se omgee en se harde werk.


'n Deel van die 100 vrywilligers (hulle het in skofte gewerk) wat van 28 - 30 April 2020 4000 kospakke gepak het om te versprei vir gesinne in nood.

Ons gee steeds elke dag meer as 2000 mense kos.  En die skenkings is soos die broodjies en vissies van ouds. Net sodra ons kele toetrek en ons wonder waar die volgende etes vandaan sal kom, kom dit uit alle oorde.  Baie baie baie dankie.



My verjaarsdaggeskenk van my familie word vandag afgelewer deur Takealot!  Wat 'n opwindende saak.  Nou hoef ek nie meer my Ma s'n te leen nie.  Hare dateer uit die jaar toet en is vrek swaar.  Altyd 'n optog (vir my Pa) om hom hier te kry. En dan is Piketberg nog so skuins ook en die trippie van die motor na die huis met 'n oorgewig naaimasjien nie 'n aangename kuier nie.  Hierdie een is modern en lig met 'n LED liggie en baie interessante toebehore.  Ek het hom vandag nog in die boks gelos en sal hom die naweek uitpak en bekyk.  Ek was nog nooit iemand wat die boekie van enigiets gelees het nie.  Ek het selfs 'n laai in my huis waar ek al die toe boekies bere. Maar ek het so 'n voorgevoel dat hierdie een dalk gelees sal moet word.  Hy het selfs 'n vier-stap knoopgat-maker.  Dit klink nie vir my soos iets wat ek sonder die boekie sal kan regkry nie.



Hierdie aangrypende foto van ons kerk het ek verlede Donderdag geneem.  Ons dink baie tans oor die nuwe rol wat 'n kerk kan inneem in 'n gemeenskap en wat kerkwees in vlak 4 en verdere vlakke kan beteken.  Opwindende tye.

Met Corona gaan dit meer voorspoedig as ooit!  As VSA se getalle vir die dag begin inkom, gaan ons iewers vannag die 5 miljoen merk oorsteek.  323 372 mense dood in die wereld.  286 van hulle in SA en daarvan is 183 in die Wes-Kaap.  Baie mense vra hoekom het die Wes-Kaap so baie.  Ek dink daar is vele redes:  Ons het al 96991 toetse gedoen in die Wes-Kaap en ons toets hotspots en deur contact-tracing.  Dit bring meer positiewe toetse na vore, want dit is mense wat kontak gehad het met positiewe gevalle.  Daar is vele ander redes ook.  Die Wes-Kaap is die provinsie met die meeste internasionale kontak in SA en het voor Lockdown die meeste infeksies van buite gekry deur middel van toeriste.  Verder is die mobiliteit in die Wes-Kaap oor alle sosiale en ekonomiese klasse die beste.  Die virus beweeg wanneer mense beweeg en in die Wes-Kaap beweeg mense.  Ek dink ons COVID golf is die res van die land omtrent 3 weke tot 'n maand vooruit.  Tans bereken ons die piek in die Wes-Kaap op einde Junie tot begin Julie in die metro met die randgebiede 'n bietjie later.

Wees waaksaam oor wat in jou gedagtes omgaan.  Jy gaan dit nodig kry in die volgende paar maande.  Omring jou met mense wat vir jou goed is en goeie positiewe gedagtes in jou wakker maak.  Gebruik die rooi knoppie op jou selfoon, tv remote en rekenaar en maak klaar met kanale, mense en dinge wat jou energie tap en jou meesleur in die modderpoel van klagtes.  Gaan soek aktief na die mooi in dinge en bly opkyk na die Een in beheer.  Die besluit is werklik in jou eie hande!







No comments:

Post a Comment