Sunday, May 3, 2020

Draadkar-resies, kos uitdeel en onsuksesvol probeer wegkruip agter 'n plant



Ek het my uiterste bes probeer om gister en vandag te rus en net privaatoproepe te neem.  Dit was uiters onsuksesvol.  

Dit is net onmoontlik in hierdie tyd.


Toe ek 8 jaar terug na my eerste huurhuis in Piketberg gaan kyk het saam met die eiendomsagent, Oom Jannie Lategan, het hy gewys na ‘n groot plant op die voorstoep en vir my gesê: Hier kan jy lekker wegkruip in die middag na werk.  Toe het ek glad nie verstaan hoekom ek sal wil wegkruip agter 'n plant nie.  Nou weet ek!

Werkersdag op Vrydag 1 Mei 2020 kan net sowel in die toekoms bekendstaan as Vryheidsdag, want elkeen wat wou oefen en selfs hulle wat nooit oefen nie, was tussen 06:00 en 09:00 op straat om die begin van Lockdown vlak 4 te vier.  Een van talle minder sinvolle regulasies tot dusver.  Van my vriende in Brandwacht in Stellenbosch sê dit het gelyk of die hele Epic Bergfietsuitdaging by hul voordeur verbykom met almal se gesinne ook.  Daar was ‘n tou mense wat bo in Jonkershoek staan en wag het om by die G-spot af te kom.  Langer as voor Woolworths.  As jy hier lees en nie weet wat die G-spot in Jonkershoek is nie, kan jy jouself nie ‘n bergfietsryer noem nie.  Sorry.

Om met ‘n masker te oefen is ‘n uitdaging.  Nadat ek uit die weermag uitgeklaar het in 1997, het ek myself belowe, nooit weer ‘n strik om my nek of ‘n hoed op my kop nie.  Nooit gedink dit sal nodig wees om ‘n masker op my gesig by die fiemie-lysie te sit nie.  En ons gesin ken van fiemie-lysies.  Om vyf kinders groot te kry op ‘n dominee se salaris is ‘n uitdaging, so ons moes op 1 Januarie elke jaar hardop verklaar wat jou enigste en enkele fiemie is vir die res van die jaar en die res moes jy alles eet.  Sonder teëstribbeling en met ‘n glimlag op jou gesig.  Myne was nog altyd tamatiesop.  Sal altyd wees. 

Vlak 4 bring sy eie uitdagings.  Elke essensiele dienste werker by ons (daar is 241) en elke raadslid moet 'n nuwe permit kry.  Die regulasies stipuleer draf, stap en fietsry, maar wat van kano's in Velddrif. Dit is binne 5 km van sy huis af.  Nee meneer, die regulasie se jy mag nie in 'n kano sit op water en jou arms en maagspiere oefen nie.  Belaglik!  

Werkersdag het by my ook begin met ‘n stappie! Gevolg deur ‘n draadkar-resies by Rhinopark in Piketberg waar die hawelose mense die afgelope twee weke draad-lesse geneem het en allerhande kunswerke vervaardig het.  Ek was aangenaam verras. Ek het drie pryse uit my kaste bymekaar gesit en ook ‘n groot pakkie met lekkernye vir die grootste kunswerk.  Die draadkar-resies was eerste aan die beurt.  Baie opgewonde deelnemers.  10 meter in die eerste resies in, moes die eerste kar in die pit herstelwerk ondergaan en kom ons vinnig ooreen dat ons dit as ‘n oefenrondte verklaar.  Almal stem in en ons begin weer.  Die kompetisie is fel met ‘n photo finish!  Die beoordelaar se besluit is finaal en drie trotse draadkar-operateurs bestyg die podium om hul pryse te ontvang saam met die braging rights!  Moontlik kan ons na Lockdown 'n toernooi hou tussen die verskillende dorpe se haweloses soos wat Henko janse van Rensburg my geleer het in 2010 met ons Keep them Safe program in Stellenbosch.
Johnathan se tegniek was foutloos en laat hom eerste oor die wenstreep hardloop.  Hierdie was op die oefenrondte geneem.

En die wenners is: Johnathan Swanepoel (kniel - 1ste plek), Moswin Moore (2de plek - staan rooi masker) en  Everett Kok (heel regs - 3de)

Everett is nie net die draadkenner en derde plek wenner nie. Hy beman ook die pit en maak reg wat breek.  Sy naam kon Eveready gewees het.


Daarna volg die uitstalling van kunswerke.  Die wenner is: Jacobus Rossouw

Hierdie kunswerk het die trofee verower.  Aanvanklik was die verkoopprys R20, maar het skerp gestyg nadat dit 'n bekroonde kunswerk geword het.  Tans is ek die trotse eienaar hiervan.







Ek was baie trots op al die kunswerke.  Werklik talentvol.  Die entrepreneurs kan nie wag om te begin verkoop nie.

Oppad terug kry ek my buurman besig om sy kar te was.  Ek probeer hom oortuig dat die Regulasie bepaal dat jy jou buurvrou se kar ook moet was, maar sonder sukses ;-)

Verder bestaan die naweek uit vervoer reel vir kospakkies uitdeel in ons gebied.  Daar word gesamentlik meer as 'n 1000 pakkies uitgedeel.  'n Munisipaliteit was nog nooit in die kospakkie-besigheid of afleweringsbesigheid nie. Maar COVID het dit alles kom verander.  Dankie aan ons geduldige tegniese span wat elke versoek eerbiedig en uitry en so baie dankie aan al die NGO's in ons gebied wat vrek harde werk doen om die kos by die hongerste mense uit te kry.  Moet julle nie laat onderkry deur die handjievol wat kla nie.  Hulle sal altyd daar wees.  En die meeste wat kla doen dit met 'n mond vol kos (soos altyd).  Die oorgrote meerderheid is uiters dankbaar en uiters geduldig.  Die slegste is dat ons wetstoepassing saam met die NGO's moet stuur in sekere gebiede omdat daar ook mense is wie se maniere hulle in die steek laat.

Ons kerkdiens vanoggend handel oor die pottebakker en die klei.  Ons kry gister almal 'n resep via ons wyks-whatsapp groepe met 'n resep om speeldeeg aan te maak.  Ek moes baie kreatief wees met die vervanging van die kremetart in die resep, want dit het ek nie in die huis nie, maar daar is niks waarvoor google nie 'n antwoord het nie. As deel van die diens moet jy iets bou wat op jou hart is en dan die storie daaroor deel en na mekaar luister.  Ons deel dit later op facebook en whatsapp met ander gemeentelede.  Baie interessant.  My storie: ek is so oorweldig die afgelope maand deur hongerte en kos. Dis al wat ons doen.  Gee aan honger mense kos.  En die afgelope tyd dink ek al meer aan die vers in Johannes 6 waar Jesus se Hy is die brood wat lewe gee en as jy daarvan eet sal jy in aller-ewigheid nooit weer honger raak nie.  My aardse belewenis van hongerte en hoe gou mens fisies weer honger word, het my hierdie vers wat praat oor geestelike voeding weer opnuut laat waardeer.  Dit is wat my twee bakkies hierbo uitbeeld.  As jy Christus het, is jy vry en versadig en ewig gelukkig en tevrede!



Daar het 7 druppels reen by ons geval laas nag en wat my vanoggend opval in my tuin is die vetplante se buitengewone vermoe om water vas te hou vir 'n lang tyd.  Mag ons soos 'n vetplant vasklou aan ons vryheid van denke en ons goeie gesindheid in die maande wat kom.


Ons vriendekring hou Saterdagmiddag ons derde zoom sundowner partytjie en ons besluit die tema is pruike.  Almal gaan weer groot en Hannes het selfs 'n verestoffer op sy kop wat met 'n masker vasgetrek is.  Kalla se baartjie lok baie gesprek uit.  Ek lyk vir myself skrikwekkend baie soos my Ma.  Hierdie vriendekring kom 20 jaar saam en ek ruil hulle vir niks!  Dis ook Kalla en Lean se 22ste huweliksherdenking en later blaai ons deur hulle foto album van die troue op 'n shared screen van zoom asof dit doodnormaal is.  


Dit was gister presies 6 maande vandat SA die wind uit Engeland se seile uit gespeel het in Japan!  Ek kyk die hele wedstryd weer van voor af op Supersport en skree asof ek dit vir die eerste keer sien.  Gelukkig is die spanning minder, want ek weet hoe dit eindig.  Dis hoe ek die meeste Federer wedstryde kyk.  Want my senuwees kan dit nie vat as sy rughand pap raak nie. Veral as ons teen Nadal speel.  Te veel vir my.  Dan neem ek dit op en wag tot ek weet ons het gewen en dan kyk ek dit rustig en met groot genot.  

Ek besluit gister die lewe is ook so.  Ons weet hoe dit eindig!  As jy vergeet het, gaan lees gerus weer Openbaring.  Ons het reeds oorwin.  Dit is miskien die enigste rede hoekom ons nog uithou in hierdie tyd.  Ons weet hoe hierdie toernooi eindig en ons wat in Christus glo is in die wenspan!  Kom ons kyk ook hierdie wedstryd soos mense wat weet ons het reeds gewen.

Sterkte.  Hanlie






2 comments:

  1. Ja nee jy lyk beslis soos jou Ma maar hulle resep het mooi uitgekom en nou sonder en nie net vir jou uit nie ...lyk my hoe ouer die sussies word hoe mooier word julle...🤗
    🧡💛💚💙💜

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Lula! Waardeer jou kompliment! Ek dra dit oor aan die ander vyf❤️

      Delete