Thursday, April 30, 2020

Who let the dogs out?



Staatskoerant 43258 met Regulasiekoerant 11098 Vol 658 het 21:03 in my inbox geland.  Ons Hoof van Kommunikasie stuur dit onmiddellik aan al ons wykskomitees, publieke groepe, sosiale media platforms en belange groep met alle Raadslede en bestuurders.  Ek stuur dit na ‘n paar whatsapp groepe in ons omgewing.  Om 21:04 kom die eerste vraag per whatsapp in en julle is reg.  Dis oor honde.  Artikel 16 sê elke persoon is beperk tot sy of haar plek van woning, maar brei die uitsonderings uit met ‘n nuwe paragraaf f) wat bepaal dat ‘n persoon mag stap, draf of fietsry (die volgende vraag sal oor skaatsplanke en rolskaatse gaan) tussen 06:00 en 09:00 binne ‘n 5 kilometer radius van hul woning en dit mag nie in georganiseerde groepe gebeur nie.   Maar is dit nou met jou hond of sonder jou hond?  Ag f!

Ek google alles wat ek kan en lees die Regulasie ‘n paar keer deur (40 bladsye!) en daar is slegte nuus.  Dit is sonder jou hond!  In Piketberg en die ander dorpe van Bergrivier kan niemand kla oor die radius nie, want 5 km vat jou tot ver buite die dorp, maar ek kan my indink dat die bergfietsryers in Stellenbosch baie kreatief sal wees tot groot frustrasie van die veiligheidsmagte.  Hul frustrasie sal groei as hulle lees tot by paragraaf 26 en 27 van die regulasie.  Geen drank, geen sigarette.
Gister was ‘n baie besige dag.  Ons aankopers by die Munisipaliteit het hul uitstekend van hul taak gekwyt en die volle R600 000 wat ons van die Departement van Plaaslike Regering in die Wes-Kaap gekry het, is nou omgesit in produkte (meer as 8 ton) en die papierwerk is gedoen.  Baie van die op- en aflaai van die produkte is deur die Munisipale werkers self gedoen en vervoer, want dit moes met spoed en dringendheid gebeur.  Ons kerk help ons baie en het 50 vrywilligers per dag uit al ons gemeenskappe wat help pak.  Elkeen met ‘n masker, handreiniger en elkeen se koors word gemeet voor die dag kan begin.  Dis ‘n verskriklike werk en gisteraand sou daar baie seer lywe orals gewees het.  Die eerste 730 kospakke (11 kg elk) is gister reeds uitgery na hul bestemming in die 4808 vierkante kilometer wat Bergrivier Munisipaliteit is.  3270 om te gaan.  Ons is dankbaar!  Die behoefte is so groot.
Ek plaas nie tans enige fotos van die kospakkery op sosiale media nie, want gister het een van die jeugdiges wat help net 'n foto op hul fb page geplaas en 10 minute later het die Polisie ons laat weet dat daar 'n groep van 50 oppad is om te kom kos haal.  

Ek en ons Burgemeester vergader ook gister met die Departement van Sosiale Dienste oor die uitdeel van kospakkies in ons area.  Sedert begin April 2020 tot gister het hulle 193 kospakke uitgedeel en is daar nog oppad vir die volgende paar weke.  Ons bespreek die strategie, want in sommige dele het dit nou te gevaarlik geraak om met ‘n gemerkte voertuig in te gaan en moet ons nuut dink oor die aflaai daarvan.  Die behoeftiges op plase in die omgewing is ook ‘n uitdaging.  Praat van uitdagings. Ons kry ook gister ‘n Parlementêre navraag van ‘n Parlementslid (ek sal nie sy van hier noem nie, maar dis soos die land met die meeste positiewe gevalle tans (meer as ‘n miljoen en hulle het ‘n President met ‘n snaakse haarkleur en snaakse maniere) wat soos volg lui: Is daar enige Munisipaliteit in die land wat uitdagings ervaar met die hantering van COVID-19 en indien so, watter Munisipaliteit en wat is die uitdagings?  Wat?! Kuier die Parlementslid hier van Mars af?  Waar was hy sedert 15 Maart 2020?  Ek skryf elke dag dik verslae van ons Local JOC na die Distrik JOC en via die Prov JOC na die National Commend Centre oor juis dit.  Waar het hy die verslae gemis?  Daar is sekerlik nie een Munisipaliteit wat kan sê dat hierdie ‘n sondagskool-piekniek is nie.  Lys die uitdagings!  Hoekom vat ons nie sommer die woordeboek van A tot Z nie.  En dit nadat ons reeds twee weke terug as MM Forum met Provinsie ooreengekom het dat ons geen Parlementêre Navrae antwoord tot na Lockdown nie.  Ek bespreek die vraag met ons Burgmeester en ons besluit saam dat die Lid ‘n TV moet kry en dit op kanaal 403 moet sit.  Ek antwoord die navraag met twee sinne.  Ek leer ook hieruit.  Deel van leierskap is om te kan onderskei wat regtig belangrik is in ‘n gegewe situasie en daarop te fokus.

Ek is ‘n vlak 4 werker en het gedink ek kan van komende Maandag af vir Katrina kry om te kom help met my huis.  Dit sal definitief meer as ‘n dag vat om hierdie sakie reg te ruk.  Sy was 25 Maart laas hier en is in vir ‘n verrassing.  My tuinman ook.  Maar toe ek hulle bel, is hulle so ontsettend bly dat hulle kan kom en dit gaan nie oor die geld nie. Hulle is beide vol betaal vir die hele tyd.  Hulle wil werk.  En Katrina smag na die stilte van my huis.  Ek sal maar in my kantoor gaan werk Maandag dat ek haar nie pla nie.  LET WEL: Toe die Regulasie uitkom toe verskil die gepubliseerde van die geantisipeerde en is hulp in 'n huis steeds verbode.

Hierdie plantjie het Sonja vir my gegee vir my verjaarsdag en hy gee sy beste hier in my voortuin.  


Gister was ook 'n groot dag vir ons familie. My sussie is klaar met 25 bestralings teen borskanker.

Intussen het die Wes-Kaap die middelpunt van die virus geword in SA. Om 17:00 op 28 April 2020 (die laaste getalle wat uit is) het die Wes-Kaap 1935 positiewe gevalle gehad, met 624 mense wat reeds herstel het.  38 mense is dood insluitend ‘n verpleegster.  Daar is 30803 toetse gedoen en duisende meer screenings.  84 van hierdie pasiënte is in die hospitaal en 26 van hulle is in ICU.  Volgens hierdie statistieke het Bergrivier Munisipaliteit nou twee gevalle.  Ons weet net van 1. Ek bel die Dokter in beheer van ons Departement van Gesondheid en hy weet ook net van 1.  Toe die statistiek die platforms tref, begin my telefoon lui.  Wie is die tweede geval? Waar bly hy of sy? Hoekom het ek hulle nie gesê nie? Ens, ens, ens.  Nog ‘n uur later is meer as ‘n 100 whatsapp’e beantwoord hieroor en almal weer kalm.  Ek wonder of die persoon wat die statistiek intik in Kaapstad ooit een oproep kry.

My telefoon lui.  Dis ‘n lid van die publiek in Piketberg.  Sy het ‘n krisis.  Haar kat en hond se kos is nêrens by ons te koop nie en sy soek ‘n permit om Langebaan toe te ry.  As ek die aantal kere moet tel wat ek al dieselfde antwoord hieroor gegee het, sou dit meer gewees het as die aantal kospakke wat die kerk vir ons pak.  Jammer mevrou, dit is nie ‘n essensiële diens nie.  Ek probeer haar help om ‘n paar maniere uit te dink om dit hier te kry.  Sy het kos gekoop hier vir haar kat, maar die het toe kristalle in sy blaas gekry en was in die hospitaal.  Ek wonder of die virus weet hoeveel ander siektes dit tot gevolg het.  Gister wou ‘n ander vrou kos vir haar Ma vat in Witzenberg, maar hulle het 193 gevalle in een week bygekry en ons grens na hulle toe is toegemaak.  Niemand kan in of uit nie en as iemand van ons af daar besoek het, wil ons hulle nie weer inlaat nie. Dis net te gevaarlik.  Soos wat die positiewe getalle orals styg, begin mense darem nou uiteindelik besef dat hierdie nie kinderspeletjies is nie en dat dit dodelik is.

Sterkte aan almal met die implementering van vlak 4.  Mag ons die verspreiding suksesvol laag hou sodat ons kan beweeg oor meer vlakke.



No comments:

Post a Comment