Wednesday, April 8, 2020

Sit jou ligte op dim...



My fitbit is kinderlik opgewonde vanoggend. Ek het ‘n hele 8 uur en 38 minute geslaap laas nag! ‘n Rekord vir my. Fitbit beloën my met ‘n 88 sleep score. Oor die aantal tree sê ek eerder niks. 
Die afgelope twee dae was besonder moeilik.  Ek deel dit hier omdat ander leiers in die COVID-stryd dit ook moet hoor.  Die voordeel van in die voorste linie veg, is dat jy ook in die voorste linie van genade staan.  Maar dit het ek Maandagaand vir ‘n oomblik vergeet en het dit ‘n baie goeie vriend gevat om my daaraan te herinner.  As ek nou terugkyk het dit begin by die grafte tel en lykshuis-spasie opname.  Vir toekomstige gebruik: dit is nie goed vir jou gemoed nie.  Ons het 9785 grafte beskikbaar in Bergrivier en iewers in die Uniegebou dink iemand dit is nie genoeg nie.  Ons lykshuise kan maksimum 30 sterfgevalle hanteer en ons naaste Krematorium is in Paarl Drakenstein.  Volgens ‘n direktief van die Departement van Gesondheid moet alle sterfgevalle wat deur COVID-19 veroorsaak is, veras word.

Ek voer gesprekke met al ons begrafnisondernemers.  Daar is 11 in Bergrivier en ons maak planne.  Ons het nog nie eers een positiewe geval in ons hele area nie, maar modellerings wat Provinsie doen gebaseer op wêreldtendense lyk nie goed nie en ons moet beplan op die ergste scenario’s.
En so vorder die dag van donker na dieper en teen die aand word ek oorval deur ‘n oordrewe sin vir verantwoordelik (ons spot altyd in ons huis hieroor – dat ons almal gebore is om gereeld ‘n verantwoordelikheidsaanval te kry).  In meeste leierskapsposisies kom dit gewoonlik handig te pas.  Ek stuur vir vriendin M ‘n eerlike boodskap waarin ek erken dat ek moedeloos is en my antwoorde opgeraak het. Gelukkig deel sy dit met haar man M wat ook een van my beste vriende is, saam met my in ‘n bybelstudiegroep en sommer net my vertroueling van altyd af. My go-to person as die wêreld jou klap dat jy lê. Al vir 8 jaar.  Hy gaan oor tot aksie en ek kry ‘n whatsapp boodskap wat skiet soos ‘n masjiengeweer met opdragte ten bate van my. Iets wat ek op daardie stadium uiters nodig gehad het en nie vir myself kon doen nie.  Ek het hom vroeër die dag gesê dat ek sal bel voordat ek inkonk.
Sy boodskap is eerlik en reguit: “As jy bel voor jy inkonk, bel jy te laat…  Onthou jou brein raak moeg van so aanhoudend moet dink. Ek weet jy meen jy kan nie nou jou brein afsit nie, maar jy moet.  Gaan in jou kop na ‘n plek waar jy werklik kon rus en bly daar. Haal deur jou maag asem. Luister Pray-as-you-go se Go Deeper (christelike) meditasie. Stop en gee aandag aan jouself! Dit is jou lewe en jou keuse! He’s got the whole world in His hands – vertrou Hom en los. Jy mag maar dim vanaand.”  En net daar red hy my.

As ek nou terugkyk besef ek die leiers in ons land is so besig om lewens te probeer red, dat ons fokus kan verloor en dink dit hang van ons af.  Dank die Vader, daar is ‘n Almagtige God en dit is nie ons nie.  Net die wete het my so goed gedoen.  So gister was my ligte op dim. Ek het myself gedwing om ook te kan afskakel en het selfs ‘n fliek gekyk met popcorn en al!  Vandag is ek verkwik en reg vir opkyk en die Groot Generaal volg in die veldslag.  As jy tyd het iewers vandag, bid asb vir die leiers in ons land en in die wêreld.  Dat ons almal sal weet waar ons Krag vandaan kom.

Gisteroggend bel ‘n vriendin uit my SALVKOL dae onverwags.  Wat ‘n fees om haar stem te hoor. Een van die goed waaroor sy oortuig is, is dat die Here die regte leiers opgerig het op die regte plekke vir hierdie stryd. Hoe vorder jou gratitude journal in hierdie tyd? 

Ek is diep dankbaar dat die WesKaap Regering al hul gesubsidieerde voedingsskemas in skole oopgemaak het vir die volgende twee weke. 485 000 kinders in die WesKaap gaan hierdeur vir minstens twee dae per week kos kan kry wat hulle ook kan huis toe vat vir hulle gesin.  In Bergrivier beteken dit 14 skole en 2800 kinders.  Die Departement van Sosiale Ontwikkelingsdienste het ook ander voedselsekuriteit-planne aangekondig.  Vanoggend se oproepe gaan meestal oor die gewysigde regulasies oor kinders van geskeide ouers.  Hulle beweging is ook beperk en mag slegs geskuif word op grond van ‘n hofbevel of ‘n ooreenkoms wat by die familie advokaat geregistreer is.

Gister bel ‘n Oom my uit Vredenburg en sê hy kan nie verstaan hoekom ons ‘n padblokkade het op die Carinusbrug tussen Vredenburg en Velddrif nie.  Sy Ma het haar lewe lank (vandat sy haar verstand gekry het sê hy) al in Velddrif vis gekoop. Sy is na bewering nou te oud om te verstaan hoekom sy dit nie nou kan doen nie en hy dring aan om deurgelaat te word.  Ek wonder wanneer hy sy verstand gaan kry om te besef dat hierdie ‘n Nasionale Ramp is.  Watter deel van Lock of Down verstaan mense nie?

Die uitsig van my stoep af lyk elke dag anders…



Mag ons almal vandag onthou dat God in beheer is. Dat Hy die wêreld in Sy hande vashou en dat net Hy in beheer is.  ‘n Bevrydende gedagte!


My familie is besig met ‘n aftel-speletjie na my 50ste verjaarsdag toe Saterdag. Vandag is hierdie foto van 46 jaar terug op ons familie whatsapp groep as profielfoto.  Ek gaan nog ‘n stuk skryf oor wat ek graag vir hierdie klein dogtertjie wil sê en wat ek haar graag sal wil spaar.

Lief vir julle

Hanlie

1 comment:

  1. Hanlie!
    Ek lees lekker hieraan - dis goed vir ons "gewones" om te hoor van ons voorlopers se agter-die-skerms besigwees. Baie sterkte! En mag jy bewus bly van ons Groot Generaal se oortdurende toesig.
    Groetnis ook aan die Ouers - hulle het "great" belê in jou!

    ReplyDelete