Wednesday, April 1, 2020

Read my lips: Nee. No. Nein. Ara. Laa. Votch. Ne. M hai. Nej. Nada!




Dis dae soos vandag wat ek wens dat alles net ‘n April fool’s grappie was.  Ander mense kyk gereeld wat die nuutste infeksietempo is.  Ek tel hoeveel mense my bel en ‘n permit soek om met hul honde te kan gaan stap. 22 sedert gisteroggend hierdie tyd. Seker al oor ‘n 100 sedert die begin van grendelstaat. Hondemense is uithouers. Hulle veg vir hul regte en staan saam. Ek weet. Ek is ook ‘n hondeliefhebber.  Die een man stuur selfs vir my ‘n brief van sy veearts in Somerset-Wes om te bevestig dat sy ras-egte bloedjies elke dag minstens 3 kilometer moet stap. Ja meneer, in normale omstandighede glo ek jou, maar ons is in die middel van ‘n Nasionale Ramp. Ek weet nie meer hoe om nee te sê sonder om ongeskik te klink nie. Read my lips: Nee. No. Nein. Ara. Laa. Votch. Ne. M hai. Nej. Nada!  Dankie tog dat ons nie ‘n plaaslike diskresie het nie. Dit sou dit moeiliker gemaak het, want elkeen se storie klink beter as die vorige een s’n.  Die probleem is dat die Final Lockdown Regulations soos uitgevaardig op 26 Maart 2020 deur die Nasionale Regering “movement” gedefinieer het as om van jou erf af te gaan vir enigiets behalwe die vier essensiële uitsonderings.  En boonop daarvan ‘n kriminele oortreding gemaak het. Daarom kan ek nie vir enigeen toestemming gee om ‘n kriminele oortreding te begaan nie, al wil ek ook hoe graag.  Dit is so eenvoudig en so kompleks soos dit.

Vanoggend hou ons ‘n zoomvergadering tussen alle Munisipale Bestuurders in die Wes-Kaap. Vir party van die ouer mense ‘n eerste ervaring en goeie leerskool. Ek het al my studies die afgelope drie jaar oor zoom gedoen en ken dit gelukkig. Nog ‘n goeie gebruik waarmee ons na Lockdown kan voortgaan.  Ons is net drie vroulike MB’s tussen 27 manne. Vanoggend stem ons al drie saam dat video erg onnodig is vir hierdie vergadering en bly ons net op audio. Hulle hare lyk seker soos myne… Ek sit nog in my pj’s.

Ons ervaar maar almal dieselfde uitdagings deur die bank. Ons stem saam dat ons nou weet hoe dit moet voel om met ‘n haelgeweer geskiet te word. Die aantal regulasies en besluite wat daagliks geneem en verander word en wat ons moet implementeer is net ondoenbaar. Gisternag kom die 7de wysiging van die Transport Regulasie deur en natuurlik is dit met onmiddellike effek. Ek wonder of een van die mense in die Uniegebou al ooit ‘n dag in ‘n Munisipaliteit gewerk het, maar dit is ‘n geveg vir ‘n ander keer. Nou implementeer ons, sonder vrae, sonder teenstribbeling. Net kop neersit, deurdruk, vorentoe, almal saam. Ons vergadering is kort en kragtig en almal stem saam. Iets wat nie altyd so maklik gebeur tussen 30 MB’s nie. Help om ‘n gemeenskaplike onsiende vyand te hê.
Nog iemand bel oor hul hond… ek het nooit geweet hier word so baie honde gestap in ons gebied nie. Ja, ek is regtig jammer om van Rex se moeilikheid te hoor. Ek besef dit sal gewelddadige gedrag in hom aanmoedig en hom verder hardlywig maak. Ek is werklik jammer. As ek kon, sou ek.

Die integriteit van die data is vir ons belangrik en dit help nie as die bronne se inligting verskil nie. Dit maak mense ongemaklik en verward en laat hulle twyfel aan die korrektheid van enige inligting. Die afbreek va getalle in substreke is telkes verkeerd en moet dringend aandag kry. Vandag is die laaste dag van Sassa uitbetalings en van môre af behoort dit rustiger te gaan. Dit gaan goed met ons haweloses. Hulle is veilig, versorg (danksy verdure wonderlike skenkings van mansklere deur ons kerk), gevoed (danksy so baie vrywilligers en donateurs) en dankbaar. Die Voorberg Gevangenis in Porterville help ons daar om 1500 etes per dag te voorsien aan die armste gesinne.  Die Voorberg kombuis gee nie om om mense in lockdown te help nie. Hulle is immers gewoond aan kliente wat normaalweg in lockdown is ;-) Nee, alle grappies op ‘n stokkie. Hul kombuis is amper al een wat aan al die streng vereistes voldoen van publieke kombuise in hierdie tyd.
Die nuutste stel reëls gaan oor vullisverwydering vanaf huise waar daar iemand positief getoets is. Dit is omtrent ‘n affêre en sal nog vir een of twee of 5 huise kan gedoen word, maar nie op grootskaal nie. Ons vra dat Provinsie dit herbedink en weer met ons kommunikeer hieroor.
Intussen moes elke Munisipaliteit hul raadsvergaderings, wat gewoonlik op die laaste Dinsdag van Maart gehou word, verskuif tot voor die lockdown om die hersiening van ons Geintegreerde Ontwikkelingsplanne en volgende drie jaar se begroting en tariewe in konsep goed te keur.  Ons s’n is inderhaas verskuif vanaf 31 Maart 2020 tot 26 Maart 2020.  Nou gaan ons in virtuele publieke deelname vir die eerste keer in ons lewens. Gewoonlik gaan ons op ‘n roadshow in April na al ons dorpe en wykskomitees en bespreek die konsep-begroting en strategie van die Raad. Nou sit ons almal in lockdown en word daar aan die wet voldoen deur virtuele publieke deelname. Alles is op ons webwerf (www.bergmun.org.za) en ons het ook die terugvoerdatum verleng van 21 dae na 30 dae sodat almal genoeg kans kan kry om insette te lewer.

My foon lui weer. Bernard wil met Bruno in Dwarskersbos langs die see gaan stap. Bruno se hare dreig om uit te val… As dit nie vir elke aand se Marsterchef Australia was nie…

Ons is ook besig om ‘n video te maak om die virtuele publieke deelname nog beter te kommunikeer en ek skryf die teks vir die voice-over.  Ons Hoof Kommunikasie sit in Paarl by sy familie en werk van daar af. Wat sou ons tog sonder tegnologie gedoen het? My PA sit in Porterville en sal weer die Afrikaanse stem op die video wees. Dankie Matthew en Jessica vir julle harde werk.
Ek stel vandag my testament op. Niks met die onderwerp van die tyd te doen nie, maar iets wat lankal op my lysie is waarby ek nog nie uitgekom het nie. Is jou testament in orde? Ek vra maar net.
Gisteraand praat ek met ‘n oud-kollega en vriendin in die Helderberg-kom. Sy en haar Ma is alleen by haar huis. Ek hoor ‘n gerinkink en sy verduidelik haar bure het gaste! Tweede aand in ‘n ry! Ek raai haar aan om die Polisie te bel. In watter wêreld van ontkenning leef sekere mense.  Ons hoor vanoggend die eerste sterfgeval in Gauteng was ‘n skoolmaat van my Pa en onlangs nog saam met hom by ‘n skoolreunie. Hoe nader dit kom aan ons, hoe harder gaan dit slaan.

Ek hoor ook baie positiewe stories van gesinne wat werklik hierdie tyd sinvol benut. Van mense wat geestelike reise doen oppad na Paasfees. Kom ons konsentreer op dit wat werklik saak maak. Kom ons bly gefokus op die Een wat op Sy troon sit en regeer.



No comments:

Post a Comment